Dannie Draak
Dannie die draak dans,
Dartel, dobber, dribbel
Da die doem doem
===
Donderdae dra Dannie dassies
Duidelik dink Dannie draak
Drome draai deur deure
===
Dannie Draak dans daagliks.
Da die doem doem
Dannie is ‘n ligblou gehekelde opgestopte draak. Op haar bors is ‘n rooi gehekelde hart en ook ‘n paar rooi kolle. Donkerblou vinne en klein vlerkies op die rug. Die ronde snoet is ook donkerblou. Twee swart kraalogies loer vir ons.
Gister middag net na skool kom Beatrix suutjies hier aan by Ouma se deur.
Ouma luister en vra:
“Hoor ek iemand by my deur?
Wie is daar?” Vra Ouma wat met haar rug na die deur toe sit.
“Dis ekke, Beatrix,” kom dit saggies.
“Ooooo, ek wou sê ek hoor iemand buite my deur.”
In tussentyd het Beatrix haar gumboots uitgetrek en ingekom. Staan langs Ouma se stoel.
“Ouma, kan Ouma asseblief Dannie se been aan brei? Sy het ‘n af been en een af vlerkie.”
“Mmmm,” kom dit van Ouma. Sy bekyk die been en vlerkie.
“Jong ek het nie dieselfde kleur wol nie. Bring daardie sak met bolle wol.”
“Hierdie donker blou sal werk Ouma.”
“Nee wat mens gaan dit duidelik sien,” probeer Ouma Beatrix oortuig.
Wange word opgepof omdat Ouma nie die donker wol kan of wil gebruik nie.
“Weet jy, ek kan hierdie dunner pienk wol gebruik en dit styf trek sodat mens dit nie kan sien nie.”
Opgewondenheid heers. Nou gaan Dannie se been weer aan kom en ook haar vlerkie.
“Nurse Beatrix, jy moet nou eers Dannie aan die slaap maak sodat dokter Ouma kan opereer.”
So gesê so gedaan. Dannie is rustig in droomland. Nurse Beatrix hou haar bloeddruk dop en dokter Ouma opereer versigtig. Steek in, steek uit, steek vir steek word netjies gewerk en styf getrek sodat niemand die pienk wolletjie sien nie.
“Goed nurse Beatrix, jy kan nou stadig Dannie wakker maak sodat sy nie skrik as sy wakker word nie.”
Alles het goed afgeloop. Dannie is weer gesond en haar ou self. Sy het vandag saam met Beatrix skooltoe gegaan.
Dit het hard gereën vanoggend toe ons skooltoe moes loop. Beatrix het vir Dannie onder haar reënjas ingedruk. Met haar tas op haar rug, hou sy aan Ouma se arm, waarmee sy die sambreel hou, vas. Ons moes vinnig loop. Dit was omtrent soos ‘n rivier langs die pad van al die reën. Gelukkig het Beatrix haar gumboots aan gehad en het die water nie haar voete nat gemaak nie.
By die skool het Beatrix haar reënjas uitgetrek en vir Dannie in haar skooltas gebêre(hulle is nie regtig veronderstel om meer speelgoed skooltoe te bring in jaar twee nie)
Dit dan weer ‘n heerlike avontuur met Ouma, Beatrix en Dannie die Draak.
(Ek is baie jammer maar ek kan steeds nie fotos van my foon aflaai nie. Mens het ‘n graad of kwalifikasie nodig om dit te doen wat ek nie het nie, haha – SUG)
Lewer kommentaar op Una se gedagtes Kanselleer antwoord