Sjoe, dit is vandag lekker nat hier. Gelukkig is dit nie te koud nie.
Verlede week het verby gegaan sonder dat ek regtig gaan sit het om te skryf. Die onderwerp was reg maar die vingers het net nie getik nie. Dit was ook ‘n lang naweek. Ons vereer die Engelse koningin nog met ‘n afdag al is haar verjaardag al verby. Verlede naweek was dit toe ‘n lekker lang naweek omdat die Vrydag ook ‘onderwysers alleen’ dag was. Nie dat die ouers baie daarvan hou nie want wat moet hul met die kinders doen. Dit gee egter ‘n lekker langnaweek as mense die Vrydag ook af neem en dan bietjie weggaan. Veral met die virus in die lug het baie mense vir ‘n lang tyd nêrens heen gegaan nie. Die laatslapers kon gladnie blyplek kry nie omdat alles vooraf vol bespreek was. My kinders het ook weggegaan vir die naweek. Hul het in ‘n “tiny home” oornag wat vir hul weer iets anders was en goed uitgewerk het. Ek het die naweek hul twee brakkies opgepas.
Ek is heeltemaal van my onderwerp af. Hier kom dit nou:
Dis Lekker om…
Skryf oor enige iets wat lekker vir jou is of was gedurende die week of wat jy ook al wil vertel.
Dis lekker om …
…te weet mense gee om vir jou, of stel in jou belang. Ek het dit nou die afgelope week weer besef dat dit lekker is om vriendelik met mense te wees. Dit is beslis waar: doen aan ander soos jy graag sou wou hê hul aan jou moet doen.
Ons het hier ‘n afleweringsdiens wat groter posstukke by jou deur aflewer. Op die oomblik is daar twee verskillende vroue wat by my aflewer. Meestal moet hul ook ‘n handtekening kry om te bewys dat jy jou stuk ontvang het. As jy nie tuis is nie sal hul ‘n kaartjie in jou deur sit om te sê jy kan dit by die poskantoor afhaal. In ieder geval, ek ken nou al die twee vroue. Een is n fris jong vrou wat altyd haastig is. Sy het nou al skoon vir Trompie ‘n lekker happie as sy kom aflewer want Trompie verwelkom haar altyd in sy hardste stem. Dan is daar die ander vrou. Dis lekker om haar te ken. Sy doen werklik moeite. Ons ken mekaar nou al so goed ons waai vir mekaar of gesels ‘n rukkie voor sy ry. Nou die dag toe ek met Trompie loop sien ek die kombie verby ry. Ek sien ook dat sy by my hek inry. Sy was te ver om te skree of vir my om te hardloop. Ek waai met my hande want sy was toe besig om kaartjie in posbus te gooi. Sy sien my toe en wag tot ek tuis is.
Sy beduie toe: “Jy kan nie ver wees nie, want Trompie is nie daar nie maar die kar is wel by die huis. Jy moet naby wees!” Dis lekker om te weet sy gee om om die posstuk vir my te gee. Sy is ook netso lief vir Trompie. Ons gesels ook meestal oor klein dingetjies. Nou die dag vertel sy sy is getroud en sy wil nou ophou werk. Haar man gaan nou die aflewering doen.
Dis ook lekker om vroeg op te staan. Dis die beste tyd van die dag. Alles is nog rustig. Voëls sing hul vroeë oggend gesange en dan begin al die verkeer verby kom oppad werk toe.
Dis lekker om elke dag met Trompie te gaan loop. Die naweek het daar onverwags iets gebeur wat my weer laat dink het aan die onderwerp dat dit lekker is om met mense te gesels op my daaglikse rontes. Ek het ‘n lang loop wat ek so elke tweede dag doen of veral as die weer dit toelaat. Saterdag moes ek en Trompie wag dat ‘n vrou indraai in haar oprit. Sy het glimlaggend ingedraai en ek het verder geloop. So ‘n ent verder roep sy my terug. Onthou, ek ken haar van geen kant af nie.
“Kyk wat het ek spesiaal vir jou hond!” Te dierbaar, Trompie wil sy ewebeeld sommer in sy bek vat.

Sy beduie verder:”Ek sien jou gereeld met jou hond hier verby loop. Toe ek die sagte speelhond sien moes ek hom net vir jou koop. Ek is elke keer te stadig om dit vir jou te gee.”
Dis nou vir jou lekker om so ‘n verrassing te kry. Ons het heerlik diere stories uitgeruil sommer buite op die sypaadjie.
Dit is hoekom ek kan sê dis lekker om mense te ken en te weet hul gee om al is hul vreemdelinge.
As jy so voel om ook ‘n stuk te skryf oor wat lekker vir jou is sal dit gaaf wees as jy jou skryfstuk se webadres in my kommentaar plak sodat ek en ander lesers ook kan lees wat jy lekker vind.
Lekker skryf, solank jy dit geniet.
Dankie aan Toorts wat die vorige keer geskryf het
https://toortsie.com/2021/06/07/waarvan-hou-jy-meer/
Slegte nuus:
Kameel is in hospitaal met ‘n ligte beroerte. Ons dink aan jou Kameel en hoop jy herstel vinnig. Ons bid vir jou liewe vriendin en mis jou skryfsels.
Laat ‘n boodskap