Drama op die plaas

Dis vroeg Woensdagoggend. Mistig en nog skemer. Heel spookagtig.

Moooooo, klink dit deur die mis. Nog ‘n ander antwoord met ‘n hoër toonhoogte van Mooooo. Dan kom die bul se diep uitgerekte mooo dat die berge antwoord gee.

Het gehelp om kinders reg te kry vir skool. Pappa het Amelia weggevat. Ek en Beatrix het skooltoe geloop. Daar was vreeslik baie spinnerakke tussen heining drade. Was feetjie mooi so in die mis. Die spinnerakke het fyn druppeltjies dou gehad wat geskitter en gevonkel het in die lig wat al meer en meer word.

 Heerlik alleen tuis in my kamer. Ek het eerste bondel wasgoed aan die gang gesit en toe ingekom om ‘n koppie tee te maak.

Tee gemaak, o wag ek het vir my ‘n tros druiwe ook gewas en dit so in die verbyloop begin eet. Ek hou daarvan om so tussendeur die lees en blogs antwoord so drie vier korrels in my mond te sit en lekker te kou. Beter as om kougom te sit en kou of om koekies te knibbel.

Ek staan nog so voor my venster en gesels met die klein Fantail wat aanhoudend muggies en goggatjies buite by venster in sy vlieg vang. Fantails is bedrywige klein voëltjies en baie parmantig ook. Hul kom sommer naby ‘n mens verby met hul gogga vangery. As mens saggies vir hul fluit antwoord hul mens terug en kom vlieg met draaie om ‘n mens.

https://nzbirdsonline.org.nz/species/new-zealand-fantail

Skielik:

Boem… boem … boem en daarna sommer so sewe agt skote na mekaar!

Geepers. 

Die klomp Pukekos wat wederegtelik in ons hoenderkamp besig is om hoenderkos te steel sit ‘n keel op asof die wêreld vergaan en vladder(hul vlieg mos nie regtig baie goed nie) oor die draad. Weg van die geskietery. 

https://nzbirdsonline.org.nz/species/pukeko

In die tussentyd het ons klomp hoendertjies(kapokkies en groter soort hoenders) ook skrik gevang. Hul wei mos in die kamp saam met skape as Pukekos in hul kampie besig is. Die twaalf hennetjies hol en koes. Mens sien ook net wyd oop vlerkies, nekke gestrek en bene wat nie vinnig genoeg kan wegkom nie. Die haan wat ‘n regte bangbroek is trap sommer so bo-oor van die hennetjies. Woerts, almal onder die afdak in vir skuiling. Terwyl die hoenders so hol en Pukekos so vladder dog die vier jong makoue: “Oh golly, miss Molly, danger.” Vlerke ook uitgespry, flap voete beweeg soos windmeule om ook onder afdak te kom. Hulle was ver weg in ‘n ander kamp besig om te wei. 

In die tussentyd verkneukel ek my aan die spul geveerdes vir hul manier van weghol.

Die buurman se honde blaf en ou Mollie sit hier by my en huil sulke lang uitgerekte huile.

Kakofonie van skote, hoenders, Pukekos en honde.

Ek hoop regtig buurman het ‘n paar Pukekos doodgeskiet want hul is ‘n regte pes. Hoenders loop lig vir hulle want hul jaag sommer hoenders weg. Hul sal selfs eiers ook eet as hul kans kry. Hul mag net geskiet word as dit eende-jagtyd is, en dit is in Junie. Pukekos is beskermde voëls maar ai, hul teel aan nog erger as konyne. Jy moet nog blykbaar aanteken hoeveel en waar jy hul geskiet het sodat jy nie die hele kolonie/trop/swerm uitwis nie.


Posted

in

, , ,

by

Comments

23 reaksies op “Drama op die plaas”

  1. Lekkervurigeaffêre Avatar

    Sjoe sulke peste. Ons sukkel met mynahs war alle ander gevlerktes verjaag. Hier is wraggies twee wat kom hoogtrap op die werf. Ek raas en lawaai met houtlepel op ‘n pot deksel soos op Waterval. Die truuk werk. Die ander voëls skrik nie soos die skelm mynahs nie. Dié vlieg dan skellend weg. Daaglikse roetine.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Ons het ook mynahs maar nie so regt as in SA. Die pukekos laat hul nie wegjaag nie. Jy kan lawaai en spring en dans. Mens moet fisies in die hok ingaan en hul uitjaag.

      Like

      1. Lekkervurigeaffêre Avatar

        Woestaards. Sê vir die hoennerkies ek is jammer hulle word geboelie.

        Like

        1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

          Ek moet gereeld met hoendertjies gesels en hul gerusstel dat hul maar aan hierdie kant van draad kan kom loop.( Hul tjorts net die wêreld vol as hul hier voor my tuintjie verby loop en dan trap ek daarin, dan vervloek ek hul maar in my binneste) Stinkskoene is nie lekker nie.

          Like

          1. Lekkervurigeaffêre Avatar

            Jy moet maar met ‘n pooper scooper die blertse in die beddings gooi ..😉

            Like

            1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

              Haha, probleem is ek moet ‘n vergrootglas of verkyker gebruik om te sien want dis gruis hier voor my kamer en na die huis toe. Saans loop ek met my flitsie badkamer toe en dan het ek nie nog tyd om te scoop nie.

              Like

  2. Dr Christa van Staden Avatar

    Pragtig geskryf, ek het heerlik gelees.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie Christa vir jou terugvoer. Dit beteken baie vir my om te weet dat dit die moeite werd is om te lees.

      Liked by 1 person

      1. Dr Christa van Staden Avatar

        Dit is, ek geniet oom terugvoer op my skrywes. Die – imenad lees en iemand verstaan.

        Like

  3. Tannie Frannie Avatar

    Rusversteuring van die ergste graad! Jou stappie skool toe saam met Beatrix klink baie spesiaal.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Beslis en die Pukekos skree al voor dit lig word as hul oppad is hoenderhok toe om te kom aas.

      Liked by 1 person

      1. Tannie Frannie Avatar

        Nieu-Seeland se antwoord op die hadidas!

        Like

        1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

          Hadidas is makker as hierdie Pukekos. Hul het sulke agtertoe vou knieë en hardloop vreemd met hul wit sterte wat op en af gaan.

          Liked by 1 person

  4. sandreyerskryf.wordpress.com Avatar

    Ek kry so lekker as jy die voëltjies so goed beskryf. Hulle skep op aarde darem net die wonderlikste atmosfeer! ⚘

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Nestso, en dis lekker om buite te wees en te luister.

      Like

  5. Una se gedagtes Avatar
    Una se gedagtes

    Jou beskrywings is pragtig, Scrapy, jou fotos ook.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie Una. Bly jy geniet dit. WEns net ek wil myself sover kry om meer te skryf weer.

      Liked by 1 person

  6. Positief Avatar

    Ek geniet dit vreeslik wanneer jy skryf, jy laat die plaaslewe vir my werklik word, dankie

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Baie dankie vir jou mooi woorde. Baie bly jy geniet dit.

      Like

  7. perdebytjie Avatar

    Lekker geleess en jy het my gespanne gehou tot aan die einde! Jammer dat sulke stappe geneem moet word om balans te handhaaf in die voëllewe.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Ja, veral die eende is massas wat uitbroei en dan uitgedun moet word. Selfde met die Pukekos ook hul broei maklik drie tot vier broeisels uit in ‘n seisoen. Baie word ook . deur valke gevang. Hier is bv ‘n Swamp Harrier Hawk wat gereeld hul vang.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.