Dis vroeg Woensdagoggend. Mistig en nog skemer. Heel spookagtig.
Moooooo, klink dit deur die mis. Nog ‘n ander antwoord met ‘n hoër toonhoogte van Mooooo. Dan kom die bul se diep uitgerekte mooo dat die berge antwoord gee.
Het gehelp om kinders reg te kry vir skool. Pappa het Amelia weggevat. Ek en Beatrix het skooltoe geloop. Daar was vreeslik baie spinnerakke tussen heining drade. Was feetjie mooi so in die mis. Die spinnerakke het fyn druppeltjies dou gehad wat geskitter en gevonkel het in die lig wat al meer en meer word.
Heerlik alleen tuis in my kamer. Ek het eerste bondel wasgoed aan die gang gesit en toe ingekom om ‘n koppie tee te maak.
Tee gemaak, o wag ek het vir my ‘n tros druiwe ook gewas en dit so in die verbyloop begin eet. Ek hou daarvan om so tussendeur die lees en blogs antwoord so drie vier korrels in my mond te sit en lekker te kou. Beter as om kougom te sit en kou of om koekies te knibbel.
Ek staan nog so voor my venster en gesels met die klein Fantail wat aanhoudend muggies en goggatjies buite by venster in sy vlieg vang. Fantails is bedrywige klein voëltjies en baie parmantig ook. Hul kom sommer naby ‘n mens verby met hul gogga vangery. As mens saggies vir hul fluit antwoord hul mens terug en kom vlieg met draaie om ‘n mens.

https://nzbirdsonline.org.nz/species/new-zealand-fantail
Skielik:
Boem… boem … boem en daarna sommer so sewe agt skote na mekaar!
Geepers.
Die klomp Pukekos wat wederegtelik in ons hoenderkamp besig is om hoenderkos te steel sit ‘n keel op asof die wêreld vergaan en vladder(hul vlieg mos nie regtig baie goed nie) oor die draad. Weg van die geskietery.

https://nzbirdsonline.org.nz/species/pukeko
In die tussentyd het ons klomp hoendertjies(kapokkies en groter soort hoenders) ook skrik gevang. Hul wei mos in die kamp saam met skape as Pukekos in hul kampie besig is. Die twaalf hennetjies hol en koes. Mens sien ook net wyd oop vlerkies, nekke gestrek en bene wat nie vinnig genoeg kan wegkom nie. Die haan wat ‘n regte bangbroek is trap sommer so bo-oor van die hennetjies. Woerts, almal onder die afdak in vir skuiling. Terwyl die hoenders so hol en Pukekos so vladder dog die vier jong makoue: “Oh golly, miss Molly, danger.” Vlerke ook uitgespry, flap voete beweeg soos windmeule om ook onder afdak te kom. Hulle was ver weg in ‘n ander kamp besig om te wei.
In die tussentyd verkneukel ek my aan die spul geveerdes vir hul manier van weghol.
Die buurman se honde blaf en ou Mollie sit hier by my en huil sulke lang uitgerekte huile.
Kakofonie van skote, hoenders, Pukekos en honde.
Ek hoop regtig buurman het ‘n paar Pukekos doodgeskiet want hul is ‘n regte pes. Hoenders loop lig vir hulle want hul jaag sommer hoenders weg. Hul sal selfs eiers ook eet as hul kans kry. Hul mag net geskiet word as dit eende-jagtyd is, en dit is in Junie. Pukekos is beskermde voëls maar ai, hul teel aan nog erger as konyne. Jy moet nog blykbaar aanteken hoeveel en waar jy hul geskiet het sodat jy nie die hele kolonie/trop/swerm uitwis nie.
Lewer kommentaar op Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord