Ritme en orde 7/07/2022
Ritme en veral orde is ‘n baie belangrike deel van my leefwyse. Nadat ‘n mens amper ‘n half eeu skool gehou het en met kinders gewerk het kan mens nie sonder ‘n mate van orde regkom nie.
My ritme en orde het van Desember 2021 tot op hede Julie 2022 in duie gestort.
Dit het nie net my leefwyse omgekrap nie maar ook my gesondheid geestelik sowel as liggaamlik aangetas.
Van Desember af was dit in die pen dat my kinders die huis waarin ek amper drie jaar gebly het gaan verkoop. Hul het my bly aanmoedig om te begin inpak. Wat ek ook begin het.
‘n Groot geestelike terugslag was dat Trompie se gesondheid vinnig agteruit gegaan het. Net voor nuwe jaar het ek die besluit geneem om hom uit sy pyn te verlos. My hart was oneindig seer. Ek mis hom nog steeds.
In die tussentyd pak ek toe maar soos wat ek kan. Die aankondiging kom dat die huis in die mark gesit gaan word. Gelukkig was baie goed reeds ingepak. Ons het ‘n stoorplek gekry en my seun het stelselmatig my goed weggery. Ek raak toe ontslae van heel wat los goed. Die huis is toe opgetof en in die mark gesit. As ek so onthou dink ek daar was drie of vier ‘open homes’ waarna die huis toe verkoop is. Toe begin die werklik groot trek. In twee weke se tyd is die hele huis leeg en reg vir nuwe eienaar.


My nodige klere is sommer in swart sak gepak, en my houer met kunsgoed is opgelaai en ek betrek Beatrix se slaapkamer. Daar het ek toe sommer dadelik ‘n maag virus en die naweek later toets Beatrix positief vir Covid. Ons almal is toe in afsondering/ ingeperk. Paar dae later is twee ouers ook positief en moes ons langer in kwarantyn bly. Ek is nooit getoets nie. Daar is maar aangeneem dat ek oké is omdat ek nie regtig sleg gevoel het nie. Bietjie krapperige keel aan en af. Niks ernstigs nie. My sewe dae van inperkings is verby en ek mag uitgaan mits ek toets of ek negatief is. Nou ja, daar “strike die pawpaw die fan”; ek toets toe positief. Nog ‘n ekstra week van afsondering. Was eintlik ‘n nagmerrie om so uit my daaglikse ritme en orde te kom in chaos.
Verder word die eenheid waarvan ek die deposito betaal het ook verkoop. Toe kom die trek plaas toe. My kinders en kleinkinders het eers plaas toe getrek. Ek het nog ‘n paar weke in huis aangebly met honde totdat die tuin honddig gemaak is.
Die eerste aand toe ek in my plaas kamer wou slaap het ek mag virus opgetel. Ek ry die aand terug na die ou huis omdat ek naby die badkamer moes wees. Met dit alles het ek nog ‘n week eers aangebly in ou huis. Uiteindelik kon ek toe my goedjies uitpak en my kamer leefbaar maak( dit was nou vier weke gelede)
Ek hou duime vas dat my ritme en orde nou weer kan terugkeer na (my) normaal. In die tussentyd het al die trekkery en drama sy tol begin eis. Al die spanning en veranderinge het my lighoofdig gemaak en my pols het heeltemaal te vinnig geklop. Op hierdie stadium sien ek nou ‘health improvement practitioner’ wat die verpleegster aanbeveel het wat my deeglik ondersoek het. Dis onmootlik om binne drie tot vier weke ‘n dr afspraak te kry, dis hoekom my dr aanbeveel het dat ek verpleegster sien as daar nie ‘n dr beskikbaar is nie. Ek moes aanlyn vir my dr ‘n skrywe rig om hom te verduidelik hoe ek voel. Gelukkig het hy dadelik die middag geantwoord en aanbevelings gemaak.
Dit dan so ‘n klein kykie in my onordelike en ritmelose paar maande.

Laat ‘n boodskap