Verlede Maandag het uitgevries. My voorneme oor die weer te skryf het verys.
Kom vertel ‘n paar dinge oor die woord weer. Ons skryf hier in Afrikaans en almal is welkom om saam te skryf. Jy kan ‘n kort stukkie skryf, ‘n lang ene of net sommer soos jy voel. As jy geskryf het sal ek dit waardeer as jy jou skakel in my kommentaar plak sodat ander lesers ook saam kan lees.
Baie dankie aan Toortsie wat so getrou skryf. Ek waardeer dit baie, ou Toorts. As jy saam skryf moedig dit my ook aan om nog weer te skryf. Almal het aanmoediging nodig. Gaan lees gerus Toorts se stuk oor ryloop https://toortsie.com/2021/08/11/wasdaguitdaging-ry-loop-ryloop/
Jy kan die woord weer gebruik soos jy daaraan dink of hoe jy die woord ook al wil gebruik.
Die weer is onvoorspelbaar.
Voor verlede week het ek al begin dink om oor die weer te skryf min wetende dat die weer hom beslis sou laat geld die vorige naweek.
Daar was ‘n heerlike paar sonnige dae gewees. Toe begin die weervoorspelling verander na ‘n koue suidpool front wat aan die kom is. Daar word baie sterk wind voorspel; sneeu tot op 200 meter. Hier waar ek bly in Upper Hutt gaan die een hoofweg oor ‘n hoë bergpas. Die voorspelling sê: Sneeu op Rimutakas(bergreeks naby my). Motoriste moet versigtig ry want dis nie net die wind wat tot 140 km per uur waai nie maar die sneeu gaan pad glad maak. Motoriste moet maar eers nagaan of die pad oop is.
Min wetende hoe erg die verandering van die weer sou wees het almal hul gewone gang gegaan. Boere in Suid Eiland het meeste van hul skape, wat hierdie tyd van die jaar(amper lente) in lam is, na veiliger kampe gevat. Hier bly die diere sommer in kampe sonder skuiling. Geen veilige krale nie.
Toe slaan die weer toe!
Dit reën met emmers vol. Die wind waai. Maandag oggend toe dit bietjie droog is gaan stap ek met Trompie. Dit was soos in ‘n sprokies wêreld met die sneeu so laag af op die heuwels rondom ons.

Ongelukkig het my loop sessie sommer ook hael opgelewer. Ons was driekwart terug huistoe toe die weer besluit om vir ons ‘n lekker haelbui te gee. Ek skuil teen ‘n garage se deur. Gelukkig het die wind so sterk gewaai daar was ‘n klein stukkie uit die hael teen die garage deur. Trompie was gladnie gelukkig om so stil teen die deur te staan nie. Ons het sopnat by die huis gekom.
Met al die reën het die boer oorkant my huis se een kamp ‘n heerlike dam water opgebou. Die oorloop uit die poel loop oor die sypaadjie soos ‘n damwal wat oorloop. Hierdie week toe dit droëer was het die eende sommer daar kom swem en kos gesoek.
Die lewe hier by my is vol van avonture. Ek geniet elke oomblik daarvan.
Dit wys dat die weer eintlik onvoorspelbaar is.
Paar woorde met weer in:
Weermag, weerstand, weergee, weerlig, afweer, verweer,
Iets weer en weer en weer doen.
Onvoorspelbaar soos die weer.
Deur die weer wees.
Hou jou bêk uit die weer uit.
Laat ‘n boodskap