
Eendjies, eendjies daar in ‘n ry
Twee, vier, ses, agt
Kom hul verby
Links, regs, links, regs, oor die pad
Mamma wag
in die middel van die pad.
‘n Klein karretjie met ‘n ou vrou
wag.
‘n Vragmotor aan anderkant van pad
wag.
Geduldig gedweë
wag.
Eendjies eendjies in nog ‘n ry
kom flink aangedraf
Een, twee, drietjies
Beentjies links, regs, links, regs
so al hul kan.
Mamma eend jaag hul aan.
Woerts onder deur die heining.
Sug, wat ‘n verligting.
Eendjies is gespaar maar
weet nie hoe lank
voor die valk almal een vir een
Links, regs, voor en agter oppik.
Dit het vanoggend gebeur oppad huistoe nadat ek by die ‘Health Center’ die verpleegster moes kom sien het sodat sy my besering kon bekyk en weer toeplak met pleister.
Sondag namiddag net na ses stamp ek my regter skeen ‘n gat in. Die bloed loop, volgens my berekening maklik drie eetlepels vol en ek het ‘n groot nood.
Seun sê: “Sit ‘n bondel toiletpapier daarop.”
“Ek moet eers wieps!” antwoord ek hom.
In die tussentyd stroom bloed deur my kous en sweetpakbroek.
Ek sit vinnig en bekyk die storie. Druk ‘n bondel toiletpapier op plek. Trek my kous en broek op bo-oor die papier en wond. Vat toiletrol en gaan kamer toe.
Seun is gladnie bloedgesind nie; ek natuurlik ook nie. As die nood egter daar is soos in hierdie geval sal ek eers na die tyd my floute onder beheer bring.
Voordat ek gaan slaap die aand gaan ek eers in huistoe om skoondogter te vra om net te kyk wat daaraan gedoen kan word.
Skoondogter het nie verwag om die grillerige bloederige gat te sien nie. Sy het kop gehou en ‘n mooi groot pleister oor die plek geplak.
Maandagoggend is ek vroeg Gesondheidsentrum toe en verduidelik dat die gat nog steeds bloei. Ontvangsdame het toe ‘n afspraak gereël om die opleidings verpleegster te sien. Gelukkig is dit toe ‘n ouer vrou wat seker wel al verpleeg het maar daar as beginner werk op oomblik.
Sy vat toe nie nonsies van my pleister en of sy my seermaak nie. Sy pluk pleister met een slag af. “Dis net ‘n vel wond. Sal hom gou stypel en toeplak.”
Ek voel half lighoofdig. Die stypels insit was nogal gevoelig.
Tjoef tjaf, groot waterdigte pleister opgesit en daar gaat ek weer, terug huistoe.
Die verpleegster het gesê ek moet dit so stil moontlik hou en Donderdag(dis nou vandag) terugkom dat sy kan kyk hoe dit lyk.
Kom toe by sentrum en word dadelik gehelp. Nou, verstaan my mooi, ek waardeer dit dat die verpleegster my help maar sy is nou nie van die mees simpatieke persone nie.
Ek moet my been ophou terwyl ek op ‘n stoel sit. Sy steun nie my been nie! Pluk die pleister sonder seremonie af en trek die wond ook oop. Stypels saam met pleister afgetrek. Dit lyk erger as wat dit was toe ek dit Sondagaand gesien het.
Die verpleegster het net weer ‘n nuwe pleister opgesit, presies op plek waar vorige een was wat my vel verrinneweer het met die aftrek.
Nou moet ek tot Dinsdag wag. Ons het hier gratis mediese dienste as dit ‘n ongeluk was. Die versekering het goedgekeur dat hul verpleegpersoon my Dinsdag by die huis kom besoek en die wond weer verbind.
Dit dan wat gebeur het voordat die eendjies oor die pad geloop het oppad huistoe.
Ek het darem ‘n koppie tee en ‘n spinasie-en-viëta-muffen in die Mall geëet.
In die Mall het ek ook my eerste goeie daad vir die dag gedoen. Ek sal dit in volgende skrywe beskryf. My tweede goeie daad was om die verkeer te stop sodat Mamma eend en pas uitgebroeide eendjies veilig oor die pad te laat loop.
Lewer kommentaar op scrapydo2.wordpress.com Kanselleer antwoord