Die eerste afspraak met Liz, my Gym instrukteur, was Woensdag 2 Augustus 2023.
Klein Amelia is siek. Sy hoes sleg. Die gesiggie is sommer was bleek en ogies is flou. Ek het haar opgepas terwyl Pappa vir Beatrix skooltoe gevat het. Pappa was by die huis om na Amelia te kyk. Hy het ook sommer die herwinning papier en plastiese ophoping in wiele-asblikke weggevat na die herwinnings plek in Upper Hutt. Gelukkig kon ek in die tussentyd stort terwyl Amelia rustg op stoel lê en Kyk na “Bluey” op TV.

(Nou kyk ek alweer by my venster uit terwyl ek skryf. Daar is ‘n dik laag sneeu op die heuwels. Die wolke of mistigheid is egter besig om dig saam te pak vir ‘n nuwe weer aanslag hier in die vallei. Dis vrêk koud, veral die Suidewind wat woes in vlae waai. Gisternag het dit sommer dik gesneeu hier op ons heuwels. Gelukkig nie tot in vallei soos vorige keer nie.
Die son kom weer bietjie uit maar die koue nat wolke is steeds besig om in te waai van Wellington se kant af. Die hoenders gaan wei telkens as sonnetjie uitkom. Makoue het nie ‘n saak met reën nie. Die hoenders is egter nie reënbestand nie. Nes dit begin reën kom hul streep-streep al ploeterende deur nat gras en modderpoele, terug skuiling toe. )
Terug by die gym storie:
Omdat dit so koud en reënerig was het ek gelukkig naby ‘n parkeerplek gekry. Stap apteek binne. Kom by die automaties skuifdeur na gym. Die deur roer nie. Ek staan terug. Probeer weer. Vra dame by apteek wat aangaan. Trek skouers op:”Geen idee!”
Daar is gelukkig ‘n buite deur. Ek gaan buite toe. Die deur gaan nie oop nie want mens het ‘n kaart nodig om in te gaan. Klop aan die deur en loer deur ‘n skrefie. Liz, my instrukteur is besig op haar foon naby die deur. Sy kom maak die deur oop. Sy was net besig om ‘n boodskap aan my te stuur of ek nog kom, haha.
Beste van alles, Liz laat my sommer dadelik aan die werk spring met die oefeninge. Ek was nie regtig daarvoor voorbereid nie. Gedog ons gaan nou eers bespreek en saam uitwerk wat my program gaan wees. Gelukkig laat ek my toe nie afsit nie. Trek my reënjas uit, my warm baadjie ook, en daar gaat ons met eerste oefening.
Halwe fietsry waar my bene versterk word. Dan kom roei om my rugspiere te bewerk. Dit het goed gewerk want my bo-rug is baie styf. Daarna kom om te gaan sit. Ek moenie my knieë knak nie, moet my boude uitstoot om te gaan sit, wat ook goed werk. Nou begin ek voel dat ek ‘n bietjie ekstra beweeg het.
Liz bly vra: “Is jy okay, kan jy nog aangaan? Moet ons ophou?” Sy maak telkens seker of ek kans sien vir nog. Volgende is steeds weer ‘n tipe van roei maar hierdie keer is dit meer vir bo-rug. Na die roei gaan ek vir balans oefening wat moeilik was vir my. Mens loop voet vir voet op ‘n lyn wat te veel vir my was. Ek kon darem met ‘n stok my balans bly hou. Dis nie verniet dat ek met my kierie loop nie. Sal nog hard aan balans moet werk. As my spiere ‘n bietjie behoorlik losgemaak is hoop ek die balans verbeter ook.
Dit dan die eerste oefensessie.
Ek gaan Dinsdag(8 Aug) terug om die ander bewegings of oefeninge te doen. Liz wil hê ek moet die naweek probeer om te kom oefen sodat ek kan sien hoe dit voel. Sal maar sien hoe naweek verloop, eintlik wil ek nog nie op my eie gaan nie. Nie genoeg selfvertroue om op my eie te wees nie. Wat gebeur as ek vashaak of selfs val?
Liz het steeds weer verskoning gemaak vir die deurmekaarspul met die afsprake. Sy wou nie my fooi vir die twee instrukteursessies aanvaar nie. Dis te dierbaar van haar.
Ek vertel Liz ook van Oompie Doompie wat 10 uur ‘n afspraak gehad het. Sy verduidelik dat sy afspraak 12 uur was. Hy het toe nie opgedaag nie. Die Oompie is regtig koersloos. Arme Oompie. Hy het so vier jaar terug sy vrou verloor. Hy is ‘n nuwe intrekker in sy blyplek. Hy vergeet ook waar hy sy motor parkeer.
Oompie Doompie moet eintlik ‘n oppasser kry. Geen wonder hy val ook so baie nie.
Liz het my bedank dat ek vir haar van Oompie vertel het. Sy sal bietjie nagaan en kyk dat sy hom help. Hopenlik kom hy darem reg.
Vandag, Donderdag 3/08/2023 het twee glasogies/kraalogies(silvereye in NZ) in selfde blombos waar Bellbird nou die dag nektar gedrink het gesien. Amelia is regtig nog baie siek. Sy was blykbaar ook koorsig laas nag. Arme klein dingetjie. Sy was darem heel rustig gedurende die dag. Mamma het gereeld medisynetjies gegee. Ons hou maar duime vas dat sy gou weer beter voel. Beatrix het ook begin hoes. Hierdie wispelturige weer is beslis nie ideaal vir mens en dier nie.
Lewer kommentaar op scrapydo2.wordpress.com Kanselleer antwoord