Gevleugelde plesier.
Sekere tye van die dag is die gevleugeldes hier op die plaas vol plesierigheid. Dis of hul die tyd op die horlosie kan lees. Dis natuurlik nie die digitale horlosies se tyd nie. Hul koppe draai as dit by die na twaalf kom en dit middag is.
Soggens het meneer Haan nie nodig om die horlosie te gebruik nie. Hy beloer die lig en luister wanneer buurman se haan begin kraai. Party oggende vergeet hy skoon om te kraai, veral as dit so mistig, donker en reënerig is.
Na die eerste gekraai spring hennetjies van die stokke af en slenter koulik hek toe. Hul sit inmekaar en wag dat die baas/basin(boer/boerin) van die plaas kom om kos te bring.
Party oggende vlieg hul op die hek en af in die tuin in. Reguit voordeur toe. Hul sal heen en weer loop om te kyk of iemand nie kom nie. As niemand uitkom nie gaan hul om die hoek kyk by die houer met kos wat onder die afdak staan. Daar is soms kossies wat uitval. Terwyl hul so oppad as kom kyk hul by my hek ook. As ek vir my eerste oggend badkamer besoek gaan vergader hul om my. Hul gesels en kloek, vertel my al die drome wat hul die nag gehad het. Nes ek my hekkie oopskuif hol hul volspoed na hul kamp se hek. Mens sien net sterte en pote so haastig is hulle.
Ag, wat ‘n teleurstelling, as hul by hek is draai hul om en kom agter hul is gekul en het verniet gehardloop. In tussentyd is ek by die huis se deur in. Party kere gebeur dit dat die voerder uit die huis kom as ek ingaan. Met ‘n hengse spoed is hul weer by die deur waar die gumboots aangetrek word voordat daar kos gekry word. Al die kiepies maal om die persoon se voete. Dit kê-kê-kê aanmekaar. Sodra die voerder die eerste tree gee is alger weer volspoed terug hok toe. Dis nou in die oggende wat dit so gaan.
Smiddae is ‘n ander storie. Hul kom vroeg-vroeg al kyk wanneer die kos kom. Nou met wintertyd gebeur dit dat dit al skemer is teen die tyd dat daar kos gegee word. Dit gebeur nogal dat die kiepies sonder kos na bed moet gaan. Die kiepies sal selfs in die middag na buite hek storm sodra die mense van die werk af kom. Eintlik te dierbaar vir woorde.
Die volgende gaan weer oor die Pukekos wat die plek inneem.
Die groepe is territoriaal. Hul kannie verdra as ‘n ander groep by hul wil aansluit. Nou het ‘n nuwe familie-groep hier in ons tuin kom huis opsit. Te lekker en gemaklik. Flap net oor heining en hul is by die kos. Die ander groepe kom al skreeuende van ver af aangeloop. Hierdie nuwe familie laat nou nie regtig toe dat die ander nader kom nie. Die ander moet hul beurt afwag wat natuurlik nie lekker vir hul is nie oftewel daar bly niks vir hulle oor nie.
Die boer van die plaas het ‘n plastiese emmertjie gebruik om ‘n outomatiese voerbak te maak. Daar is ‘n lang soort van slingertjie wat beweeg moet word sodat die kos kan uitval. Meneer Haan besef dit nie. Hy pik by die gaatjie en outomaties stoot hy die gaatjie oop met sy bors. Hy kry nie veel geëet nie. Sodra hy afbuk is als reeds opgepik. Die naweek het die boer ‘n hout platform gemaak met die emmer in die middel. Veral nou met die baie reën is dit ‘n verbetering. Kiepies eet lekker. Dis egter nie wat ek wil vertel nie. Die nuwe Pukekos familie het, nadat die boervrou die emmer opgetop het voordat hul gery het, heerlik piekniek gehou. Hul het agtergekom wat hul moet doen om kos te laat uitkom. Die spul het ontspan en uitgekamp tot alles op was.
Later die middag toe kiepies kom om te eet is daar geen kos meer in nie. Nou is dit maar weer, vlieg oor hek en klop die inwonende ouvrou op om te kom voer.
Wat ‘n geselligheid is dit tog nie met die gevleugeldes saam.
Byvoegsel:
Die vier makoue is natuurlik ook te dierbaar. Hul is nie so raserig of opdringerig soos hoenders en Pukekos as dit by kos kom nie.
Tog laat hul hulself geld as dit namiddag etenstyd is. Hul vlieg nie soos kiepies oor die hek nie. Etenstyd bondel hul saam by die hek. So rukkie terug was hul heel opgewonde met etenstyd. Die boervrou kom uit om kos te bring. Daar begin die vier met mekaar regtig bek-veg. Bekkies klapper en is hoog in die lug teen mekaar soos die vier Musketiers “All for one and one for all”. Skielik vererg een hom bloedig en bevlieg ‘n ander een. Met die spring die andertwee ook in terwyl die kwaai een op die eerste een spring, hom vertrap en probeer vasbyt. Dis waar ek toe besluit: ‘Wat te erg is is te erg,’ en jaag hul uitmekaar. Maggies dit was nou ‘n gewelddadige stryery uit ‘n ander wêreld gewees. Waaroor sal net die hoenders(makoue) weet!

Lewer kommentaar op scrapydo2.wordpress.com Kanselleer antwoord