Dinsdag 4/07/2023
Die lewe lewer elke dag nuwe avonture.
Vandag was geen uitsondering nie. Dis Dinsdag. My dag om met kinders te help omdat Mamma in Wellington werk. Pappa maak die tweetjies reg vir die dag. Omdat dit vakansie vir Beatrix is, is sy in ‘n vakansie program ingeskryf wat 8:30 begin. Pappa moet 8 uur op sy laatste ry om haar af te laai en ook om Amelia by die kleuterskool te kry.
So 7:30 het ek huistoe gegaan om te help. Ek maak meestal poniestertjies vir die meisiekinders. Die hare hang gedurig in hul ogies as dit nie vasgemaak is nie.
Amelia wou eers nie stilsit nie. Haar haartjies is vreeslik fyn. Daar is toe net groot rekkies wat nie gaan hou nie. Gelukkig grawe ek toe nog ‘n kleintjie uit en sit dit in. Eerste wat sy natuurlik doen is om dit te wil uithaal. As mens haar aandag aftrek vergeet sy daarvan en bly dit die hele dag in.
Nou is dit Beatrix se beurt. Sy doen een of ander gimnastiek program. Mamma het opdrag gegee dat haar hare in twee sterte gemaak moet word. Haar hare is redelik lank al en bly oor haar gesig val met al die gespring en klouter. Ek maak aan elke kant van haar kop ‘n stertjie. Pappa verduidelik toe dat die hare in twee poniesterte bo mekaar agter haar kop, of so iets, moet wees. Ek maak toe die agterste los hare in ‘n derde ponie. Ongelukkig het ek nie al die hare vasgemaak nie want sy het reeds haar hoodie aangetrek. Die onderste hare het vir my in haar baadjie weggekruip.
Sug, ek pluk agterste rekkie wat ek met ‘n groot gesukkel ingesit het uit, my vingers is nie meer so soepel nie. Pappa sê nog dis okay maar nee, ek het ‘n nuwe ponie gemaak. Vanmiddag toe sy tuis kom het daardie rekkie uitgeval!
Pappa het kinders gaan aflaai en gaan van die huis af werk;
tot my voordeel want dramas het gelê en wag om te gebeur.
Dinsdagoggende kuier ek by Jan, my beste vriendin wat Alzheimer het. Dis baie hartseer. Sy is ‘n belese en berese mens. Die baie lees wat sy in haar lewe gedoen het hou haar in ‘n mate nog weg van totale vergeet, volgens nuwe navorsing. Hul plak ‘n plakkertjie op elke kant net onder skouer agter op haar rug wat glo die aftakeling in ‘n mate vertraag.
Ek is meestal klaar om so net na tien te ry. So gesê so gedaan. Kom by die motor. Die deur se kontrole wil nie die deur oopsluit nie. Gelukkig is Seunlief tuis. Hy sluit motor met die sleutel oop en skakel enjin aan. Ek ry rustig na my vriendin se huis.
Die skoonheid van NZ tref my telkens as ek so tussen die heuwels op en af ry. Al die beeste, skape en enkele perde met hul winterjasse aan, wat besig is om te wei. Aangekom by my vriendin se huis, kom ek voor dooie mans deur. Dis baie ongewoon. Bekommernis spoel oor my. Wat nou? Verlede week het sy gebel om te sê hul gaan nie tuis wees nie. Hierdie keer het ek geen boodskap gekry nie. Ek klop, lui die klokkie, alles doodstil. Ek bel hul dogter wat nie antwoord nie en laat ‘n boodskap. Ek stuur ook ‘n whatsapp boodskap. Met wat ek in die motor wil klim bel Steph, die dogter, en verduidelik dat als okay is. Sy weet net haar pa het ‘n fisio afspraak. Hul het seker vergeet dat dit Dinsdag is. Meestal kuier ek by Jan of pas haar op totdat haar man weer terug is.
Gelukkig vat die motor dadelik. Ek besluit om Mall toe te gaan om battery vir my remote( wat noem mens dit in Afrikaans?) te kry. Dit werk toe nie uit soos ek gehoop het. Die man wat by die winkeltjie werk waar ek altyd batterye koop is siek. Sy vrou hou net die winkel oop. Sy kan nie help nie. Sy het al navraag gedoen vir ‘n plaasvervanger. Daars niemand wat belangstel nie. Ek probeer die selfoon winkeltjies. Hul het nie batterye en kan dit ook nie vervang nie.
Kom ek by die kar kry ek hom oopgesluit met sleutel maar die masjien wil om die dood nie vat nie.
Volgende plan:
Daar is drie blokke van die Mall waar ek parkeer het ‘n sleutelmaker. Gewapen met my kierie begin ek die staptog. Gelukkig is die sypaadjie nie te besig nie. Dis skoolvakansie en baie mense is weg. Aangekom waar winkel was, is daar geen teken van die sleutelmaker nie.
Hy is weg! Wat nou gemaak?
Sonder haas, stap ek weer terug na waar motor geparkeer is. Die ding wil steeds nie vat nie! Die verkeerskonstabel stap verby. Die parkeerplek is net vir 120 minute. Ek bel Seunlief en verduidelik die situasie aan hom. Hy sal oorkom en kom kyk. Dis in die tussentyd 12 uur, etenstyd. Geen parkeerplek naby vir ‘n muis nie.
Boeta moes omtrent ‘n blok weg parkeer. Terwyl ek wag trek ‘n vrou met haar twee kinders langs my in. (ek staan agter my motor om sigbaar te wees vir Seunlief)
Ek verduidelik aan vrou: “My motor wil nie vat nie omdat die kontrole se battery pap is. Die man in die Mall wat altyd help is siek.”
Sy noem toe: “Probeer oorkant die straat by Repco, hul kan dalk help.”
Seunlief kom en probeer om motor aan te skakel. Tevergeefs!
Ons gaan na Repco en hul het toe wraggies die batterye wat ek nodig het. Ek koop toe sommer twee batterye; een vir die noodgeval remote wat jare al ‘n pap battery het ook. Battery ingesit en albei se rooi liggies werk.
Yay, daars vordering. Motor skakel dadelik aan en ek het veilig die huis gehaal.
Wat ‘n oggend was dit nie weer gewees. Vol avonture.
Sommer net ietsie oor my Toyota Vitz wat al baie goeie diens gelewer het vandat ek hom het(2016) https://en.wikipedia.org/wiki/Toyota_Vitz
NS. Nog ‘n avontuur! Tot op hede het my pensioen van SA nog nie in my rekening in NZ geland nie.
30 Junie was Vrydag en vandag is dit al Dinsdagaand. Ek stuur ‘n navraag aan GEPF om te hoor wat aangaan. Môre plaas ek die storie. Groetnis vir nou.
Lewer kommentaar op Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord