As die verlede by jou kom spook.
My verlede spook kom meestal by my kuier as ek soggens gewone tyd (so net na vyf) wakker word.
‘n Draaitjie loop, terug in bed klim en omdat dit nog donker is weer vir so ‘n uur of so insluimer of regtig slaap. Die aan die slaap raak en dan droom is waar die spook inkom. Vanoggend was dit weer sulke tyd. Trompie, my hond wat by my op my bed slaap, was gister al half kort asem en onrustig. Ek bly maar bekommerd oor hom want enige iets kan hom oorkom en wat dan?
Hy spring 5.30am se kant van die bed af en probeer om by die honde deurtjie in die sitkamer uit gaan. Hy kom terug kamer toe en gee sy kenmerkende snuifies om my aandag te trek. Ek besluit om die deur vir hom oop te maak. So gesê so gedaan. Ek maak die skuifdeur toe terwyl hy buite is want dis nog winter en kuod buite. Trompie kan makliker by hondedeurtjie inkom as uitgaan.
Natuurlik besluit ek toe dis nog donker, en ek kan maklik nog ‘n lekker slapie vang. Ek hoor Trompie kom in en kom lê voor my bed.
Heerlik rustig raak ek toe aan die slaap, en droom ‘n droom wat my skoon benoud en natgesweet laat wakker word.
Gisteraand het my seun vir my ‘n huisie gewys wat hy dink oulik is vir my om in te bly as hul die dag ‘n stukkie grond kry. Ons kyk lankal na verskillende voorbeelde van klein huisies op wiele. My seun wil self die huisie bou. Gisteraand se huisie is piepklein. Daar is ook ‘n blad teen die die dak waar ‘n matras as bed is vir slaapplek. Mens klim met hout reëling trappie boontoe. Net die idee het my al benoud gemaak. Ek verduidelik toe dat ek nie van die bed daarbo hou nie. Hy wys toe n meer wenteltrap tipe trap.
“Maar verstaan jy nie, dis juis die trappe klim wat my bang maak omdat my voete en brein nie altyd saamwerk nie. Ek trap maklik mis.” Die antwoord:”Ooooo.”
Toe ek nou so lekker vanoggend aan die slaap raak kom spook my ou huis by my. Daar is ook ‘n hele storie aan die trekkery verbonde en waar ek gaan bly het. Dis toe so duidelik voor my:
Ek loop die gang af na die hoof slaapkamer. Daar is vreemde voorwerpe in wat ek nie ken nie. In die badkamer sit my man op die kant van die bad en glimlag sy mooiste glimlag. Ek gaan na my klerekas om in te pak. Maak kasdeur oop en daar is vreemde klere in die kas. Volgende is ek in die kombuis om iets te drinke te maak. Alles is primitief en vreemd.(My man het vir ‘n paar maande alleen met net ‘n bed, tafel en vrieskas in ons huis gebly voordat bank die huis terug geneem het) Skielik verander die omstandighede en my skoondogter kom in en vra my om een of ander ding vir haar te doen. Ek onthou nie spesefiek wat nie want ek het met n halwe skok wakker geskrik omdat alles so duidelik voor my was.
Het jy al so ‘n spook gehad wat by jou kom spook het wanneer jy dit die minste verwag?
Hier by my gebeur dit nogal gereeld wanner ek so aan die slaap raak.
Almal is welkom om hier by my op Maandag=Wasdag te kom kuier. As jy lief is vir Afrikaans is jy welkom om saam te skryf. Ek probeer om elke Maandag ‘n ander onderwerp te gee vir die komende week. As jy geskryf het nooi ek jou uit om jou skakel in my kommentaar te plak sodat ander ook jou stuk kan lees. Baie dankie dat jy gelees het. Geniet Afrikaans want dis ‘n wonderlike taal.
Laat ‘n boodskap