Is pannekoekbak oorerflik?

Ek dink dit kan nogal oorerflik wees om pannekoek te bak.

Hoekom dink ek so?

My gedagtes gaan ver terug na my kinderjare toe my seun gisteraand pannekoek gebak het. Met die hulp van vroulief het hy vinnig al die bestanddele in ‘n bak gemeng en bietjie geklop om klonte uit te kry.

Ek kyk die spulletjie só en dink terug.

My liewe Pappa was handig as dit by fynere koskook gekom het. As dit die 18e Februarie sy verjaarsdag is het hy die aand tevore die netjieste klein en dun pannekoekies gebak. Voordat hy begin bak het is eers al bie vulsels gemaak. Hy het allerhande sout vulsels gemaak met vleis; gemaal, fyn stukkies of gerasper. Spek is ook gebruik. Nadat die pannekoekies gebak is het hy hul gevul en netjies opgerol. Goed, hy het nie als alleen gedoen nie. Mamma het ook gehelp met die vul van pannekoekies. Pappa het egter altyd self die oprol gedoen want dit moes perfek gerol wees. Die volgende dag, op sy verjaarsdag, het sy mede werkers ‘n heerlike fees gehad gedurende middagete.

Dit is dan Pappa se deel. 

Nou my deel.

Ek was in standerd ses. In die huishoudkunde klas. Die eerste wat ons moes kook/bak was pannekoeke. Ten eerste het my deeg gladnie soos pannekoekdeeg gelyk nie. Ten tweede wou dit gladnie bak nie, laat staan nog omdraai. Dink jy juffrou Strauss was tevrede met my werk? Gladnie.

Sy gee my ‘n oorveeg en stuur my na die wasbak om skottelgoed te was. In die tussentyd het die klok gelui vir einde van skooldag. Ek het van buite Pretoria met die skoolbus gery wat beslis nie vir my sou wag nie. Die juffrou het geen saak nie. Sy wou my nie laat gaan nie. Gelukkig het een van die meisies in my klas wat naby die skool bly aan juffrou verduidelik dat sy die skottelgoed sal was. Dit was ‘n bestiering dat die meisie my so gered het uit ‘n penarie.

Ek het vir jare gehaat om selfs net aan pannekoeke te dink. ‘n Paar jaar later het ek tog weer probeer om by die huis pannekoek te bak. Van daar af het ek dit gereeld gedoen en selfs die bakkery verfyn tot ‘n kuns. 

Ek het gereeld pannekoek gebak toe my seun klein was en selfs toe hy al groot was. 

Omdat die kinders beurte maak om saans kos te maak, bak seunlief gereeld pannekoek.

So wat dink jy? Is dit oorerflik?

Iets meer oor pannekoek.

https://www.thedutchtable.com/2011/10/pannenkoeken-met-stroop.html


Posted

in

, , ,

by

Comments

11 reaksies op “Is pannekoekbak oorerflik?”

  1. Aletta - nowathome Avatar

    Dis nou ‘n goeie vraag Ineke! Ek bak dit ook en ek dink dit het ook baie met die resep van die deeg te doen. Kan sowaar nie onthou of my ma dit gedoen het nie!

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Ja die resep het beslis te doen met die sukses. Ek’t sommer net gedink dis interessant om te sien dit gaan oor van Oupa, na Ma, na kind. Ek’s seker die twee kleinkinders gaan ook pannekoek bak eendag.

      Liked by 1 person

  2. Dr Christa van Staden Avatar

    Dalk nie heeltemal oorerflik nie, maar eerder iets soos ‘n kultuur wat van een geslag na die ander oorgedra word? ‘n Gewoonte? ‘n Liefde vir ‘n spesifieke soort kos? Ek wil nog vertel van my kleinkind en pannekoek

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Was net vir my interessant toe ek daaraan gedink het. Daar was nie pannekoek in my man se kant nie. Hy’t altyd gesê dis nie kos nie, terwyl ons as gesin ‘n maaltyd daarvan gemaak het.Vertel bietjie jou pannekoekstorie ook.

      Liked by 1 person

  3. angelswhisper2011 Avatar

    Ik weet niet of het erfelijk is, maar ik weet wel dat pannenkoeken lekker zijn, Ineke😺 Mijn oma bakte ze voor ons, later bakte ik ze voor mijn dochter en nu voor de kleinkinderen. We zijn er allemaal groot mee geworden…in a way 😉 Double Pawkisses for a Happy Day en Eet smakelijk🐾😽💞

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dis waar van om daarmee groot te word. Dit is maar my Hollandse kant wat van pannekoeke hou. Dankje wel voor de Pawkisses and a happy day. Ekstra pawkisses back to your two kitties.

      Like

  4.  Avatar
    Anoniem

    Dis al wat ek goed kan doen!

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Wonder wie die Someone is. Is dit Adrie of Tina?

      Like

  5.  Avatar
    Anoniem

    Ek dink dis so deel van Afrikaner wees as wat ons taal is. My seuns het pannekoek geet so vinnig as wat ek dit kon bak. Nou is dit hulle kinders se beurt en toe daar nou onlangs nie n pannekoek stalletjie by die kerkbasaar sou wees nie het my skoondogter net gese n mens kan nie kerkbasaar hou sonder pannekoek nie. Ek en sy het ingespring en natuurlik was die pannekoekstalletjie n gunsteling by oid en jonk.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      By my het dit ook so gegaan. Soos ek bak eet ons. Bewaar die een se siel wat een meer as die ander kry. Nou praat jy, kerkbasaar sonder pannekoek sal beslis ‘n kwade dag wees. Dit bly maar ‘n groot gundteling.

      Like

Lewer kommentaar op Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.