
Ek dink dit kan nogal oorerflik wees om pannekoek te bak.
Hoekom dink ek so?
My gedagtes gaan ver terug na my kinderjare toe my seun gisteraand pannekoek gebak het. Met die hulp van vroulief het hy vinnig al die bestanddele in ‘n bak gemeng en bietjie geklop om klonte uit te kry.
Ek kyk die spulletjie só en dink terug.
My liewe Pappa was handig as dit by fynere koskook gekom het. As dit die 18e Februarie sy verjaarsdag is het hy die aand tevore die netjieste klein en dun pannekoekies gebak. Voordat hy begin bak het is eers al bie vulsels gemaak. Hy het allerhande sout vulsels gemaak met vleis; gemaal, fyn stukkies of gerasper. Spek is ook gebruik. Nadat die pannekoekies gebak is het hy hul gevul en netjies opgerol. Goed, hy het nie als alleen gedoen nie. Mamma het ook gehelp met die vul van pannekoekies. Pappa het egter altyd self die oprol gedoen want dit moes perfek gerol wees. Die volgende dag, op sy verjaarsdag, het sy mede werkers ‘n heerlike fees gehad gedurende middagete.
Dit is dan Pappa se deel.
Nou my deel.
Ek was in standerd ses. In die huishoudkunde klas. Die eerste wat ons moes kook/bak was pannekoeke. Ten eerste het my deeg gladnie soos pannekoekdeeg gelyk nie. Ten tweede wou dit gladnie bak nie, laat staan nog omdraai. Dink jy juffrou Strauss was tevrede met my werk? Gladnie.
Sy gee my ‘n oorveeg en stuur my na die wasbak om skottelgoed te was. In die tussentyd het die klok gelui vir einde van skooldag. Ek het van buite Pretoria met die skoolbus gery wat beslis nie vir my sou wag nie. Die juffrou het geen saak nie. Sy wou my nie laat gaan nie. Gelukkig het een van die meisies in my klas wat naby die skool bly aan juffrou verduidelik dat sy die skottelgoed sal was. Dit was ‘n bestiering dat die meisie my so gered het uit ‘n penarie.
Ek het vir jare gehaat om selfs net aan pannekoeke te dink. ‘n Paar jaar later het ek tog weer probeer om by die huis pannekoek te bak. Van daar af het ek dit gereeld gedoen en selfs die bakkery verfyn tot ‘n kuns.
Ek het gereeld pannekoek gebak toe my seun klein was en selfs toe hy al groot was.
Omdat die kinders beurte maak om saans kos te maak, bak seunlief gereeld pannekoek.
So wat dink jy? Is dit oorerflik?
Iets meer oor pannekoek.
https://www.thedutchtable.com/2011/10/pannenkoeken-met-stroop.html
Lewer kommentaar op Aletta – nowathome Kanselleer antwoord