5/07/2023
Waarom moet geld tog so belangrik in ‘n mens se lewe wees? My inkomste is werklik onder die sogenaamde broodlyn; tog kom ek elke maand daarmee uit. Sekere ‘luukse’ dinge moet ek voor spaar voordat ek dit kan koop. Dit sluit nou die voertuiglisensie en Veiligheidswaarborg elke jaar in. Ek huur ‘n skeepshouer waar ek my aardse besittings ingepak hou. Betaal nog my bril af (gelukkig dat mens dit kan doen). Gelukkig hoef ek nie losies of huur vir my kamer te betaal nie. Ek is baie dankbaar daarvoor. Die regering betaal aan pensioenarise vir drie wintersmaande ‘n bedrag vir krag wat baie help.
Die volgende moes al Woensdag op my blog gewees het. Hier gaat ons nou na opvolg van vorige skrywe.
Ek het in my vorige skrywe die volgende geskryf:
NS: Tot op hede het my pensioen van SA nog nie in my rekening in NZ geland nie.
30 Junie was Vrydag en vandag is dit al Dinsdagaand.
Ek stuur ‘n navraag aan GEPF om te hoor of daar inbetaal is. Antwoord kom halfuur later terug.
“Dis 30 Junie inbetaal. Stuur afskrif van jou bankstaat om te bevestig dis jy wat navraag doen sodat ons kan kyk of als reg is.”
Nou kou ek naels. Wat gaan aan? Is dit ‘n scam, want die email het geen naam van iemand of niks nie? Ontstel suster Tina toe ek haar vertel. Ek gesels met my kinders. Hul kan ook nie enige raad gee nie. Ek sal tog maar more bank toe gaan en ‘n afskrif van my bankstaat kry, dit scan en instuur.
Die bekommernis oor wat aangaan vang my toe ek vanoggend(Woensdag) wakker word.
Wat as?… Dit broei in my binneste. Ek het ‘n paar maandelikse betalings om te maak. Daar moet kos gekoop word. En nog die gym wat ek by wil aansluit sal ek eers moet kanselleer. Sug, wat ‘n gedoente.
Gelukkig kalmeer ek nadat ek my medikasie gedrink het en gestort het. In die stort het die Here my rustigheid gegee nadat ek mooi met Hom kon praat. Dinge het tog altyd uitgewerk op hul tyd. Hoekom nie hierdie keer ook nie?
Ek was my wasgoed, maak kombuis aan kant en ruil my toilet se saagsels om. Die gedagte om bank toe te gaan bly draai en ek besluit om vanmiddag na ek gerus het te ry. Rustige uurtjie gerus. Skakel my foon aan om nog weer seker te maak of daar ‘n inbetaling is al dan nie.
Verrassing!
Die geld is inbetaal. Dis of ‘n berg van my skouers afval.
Dit is nou regtig genade onbegryplik groot.
Lewer kommentaar op Aletta – nowathome Kanselleer antwoord