Angstigheid.

Vandag 9/9/2021 geskryf en gebeur.

Die lewe het drie weke terug radikaal verander. Die hele New Zealand is in ‘lock down’ in vlak vier geplaas weens een persoon wat buite in die gemeenskap in Auckland positief getoets is vir Delta virus. Ons was in twee weke van tuisbly. Geen kontak met mekaar. Daar word tuis aflewering gedoen. Een persoon mag gaan inkopies doen en dit bring sonder dat ons by mekaar kom dws kontaklose aflewering. Na twee weke kon almal na vlak drie afgaan behalwe Auckland bly in 4. Nog ‘n week later is ons na vlak Delta 2.

Na drie weke van inperking kon ons Woensdag weer uitgaan om winkels te besoek en bietjie te kuier by mekaar of ‘n koppie tee/koffie saam in ‘n kafee te drink.

Dinsdagnag 12 uur het ons na Delta vlak 2 verskuif. Daar mag net 50 mense in ‘n eetplek gelyk wees. Buite mag 100 mense bymekaar kom. Dit klink vir baie soos ‘n fees. Vir my was dit egter vreemd om nou weer uit die huis te kan gaan.

Ek beplan Dinsdag, voor die ‘lockdown’ afskuif om middernag, dat ek winkels toe moet gaan. Trompie het nie veel kos oor nie; ek moet veearts besoek om dit te kry. Dan wil ek ‘Mitre 10 toe gaan vir ‘masking tape’ wat ek nodig het vir my verfwerk. Moet ook aftrekpapier kry wat by die Stationary Warehouse is en dan Countdown vir brood en melk.

Woensdagoggend staan ek met n benoude gevoel op. Voel gespanne om weer in motor te klim en dorptoe te gaan.

Gelukkig sê Bertus hy gaan Mitre 10 toe en sal ‘masking tape’ gaan koop. Dit gee my toe ‘n ontsnaproete om nie dorptoe te gaan nie. Ek bestel toe sommer ‘n klomp nuwe verf, papier, aftrekpapier en selfs ‘n kwas of twee aanlyn. Dis asof ek sommer moed kry om aan te gaan. Ek verf tot my paddastoel en ook my uil wat lankal wag om geverf te word.

Nou vanoggend, Donderdag, moet ek ingaan om ten minste vir Trompie sy kos te kry.

Hier mag jy net een-een ingaan en twee meter van mekaar bly en dan moet jy met ‘n kaart betaal wat jy net op masjien tik. Kopseer vir my. Ek het dit nog nooit gedoen nie. Gaan dit werk? Ek het ‘n kaart wat ek kan gebruik. Ek vra Bertus hoe dit werk. Hy wil hê ek moet foto stuur van kaart. Antwoord: Ma kan hom gebruik, hy is reg vir gebruik. 

Tienuur- kaart in my sak gesit asook my lysie. Die kar vat dadelik. Ek is so opgewerk oor die hele idee om te gaan inkopies doen dat ek net voor die verkeerslig so bietjie met agterwiel half oor randsteen ry omdat ek nie die kromming wyd genoeg gemaak het nie. 

Ek kom met ‘n skok agter hoe gespanne ek is. “Kalmeer, als sal okay wees,” bly ek vir myself sê. 

By die veearts draai ek in agter ‘n vrou met ‘n hond. Die hond wil nie ingaan nie en ek wag so bietjie in die kar. Vroetel met die masker en sit hom op. Klim uit. Voor die deur kliek ek eers op die Covid teken met my foon. Teen deur staan: slegs een persoon op ‘n slag mag inkom. Die personeel sal by die deur kom vra wat jy wil doen. Sy kom en ek verduidelik van die hondekos. Sy laat my inkom. Toe kry sy nie kos nie want die vorige persoon het verkeerde kos gegee. 

Gelukkig ken die vrou my: “Het jou hondekos verander?”

“Nee dit het nie.” 

“Wel jy het verkeerde kos gekry die vorige keer.”

Volgende is om die betaling met die kaart te doen. Tjop tjop en siedaar, tik kaart en dit werk.

By die kar gekom sit ek kos in kar. Ek ry na volgende winkel. Parkeer, klim uit en voel in my sak vir my kaart. Ek voel hom nie in my sak nie. Nou is ek goed opgewerk. 

Het ek kaart verloor? 

Voel weer al my sakke en kry die kaart. Volgende is om by winkel in te gaan. Daar is so baie wat ek moet doen en onthou. Ek raak skoon verbouereerd. Ek gaan uit ry uit om eers my foon uit my sak te haal. Terug in ry, kliek op Covid teken en ek kan ingaan. Verder het alles goed afgeloop. Toe ek uitry uit parkeerterrein het ek besef ek het ‘n angsaanval gehad met die dat ek nie my kaart kon kry en my telefoon uit my sak kon haal nie.

‘n Uur en ‘n half later is ek weer tuis. Pootuit en moeg gebekommer of als sou goed gaan. 

Alles het net te veel en vreemd vir my gevoel. Geen wonder ek wou nie die vorige dag winkels toe gaan nie. 

Dis dieselfde wat met my gebeur om vriende te bel gedurende die ‘lockdown.’ Ek raak benoud net om daaraan te dink dat ek moet bel en met hulle praat. Ai, dis maar ‘n gedoente. Die opsluiting, afsondering en alleen wees het beslis ‘n invloed gehad hierdie keer.


Posted

in

, , ,

by

Comments

16 reaksies op “Angstigheid.”

  1. Aletta - nowathome Avatar

    Dis so n moeilike tyd vir almal. Hou ook glad nie daarvan on inkopies te gaan doen nie. Sterkte daar Ineke.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie Aletta, moes dit net verwoord. Het sommer gehelp om ontslae te raak van die gevoel.

      Like

      1. Aletta - nowathome Avatar

        Ek kan dit verstaan. Sterkte💕

        Liked by 1 person

  2. Toortsie Avatar

    Ai liewe Scrapy, ek wens ek kon jou ‘n drukkie gee. Ja al hierdie vreemde goed mak ‘n mens angstig. Daar is soveel ekstras wat jy moet onthou soos afstand, tik hier, tik daar … en die een dra by tot die volgende. Ek is bly dit het goed gegaan.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie vir drukkie. Het my bietjie gekoester in jou arms. Wat kan mens anders doen as om kop te hou en dinge te doen. Alles weer nuwe dinge om aan te leer. Dankie vir jou ondersteuning, waardeer dit baie.

      Liked by 1 person

  3. Toortsie Avatar

    Mag ek hierdie skakel maar op my facebookpage deel?

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Jy mag maar want ek dink baie het selfde ondervinding en gevoel.

      Liked by 1 person

      1. Toortsie Avatar

        Ek dinkcovid dra by tot baie angs.

        Like

        1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

          Ek stem saam. Vanoggend met ‘n dame oorkant straat gepraat. Sy is ook al gevorder in jare. Sy ondervind ook daardie onsekerheid en gevoel dat covid steeds voorop staan terwyl sommige mense net nie hul daaraan steur nie.

          Liked by 1 person

  4. Una Avatar

    Scrapy, jy het baie mense aan hierdie kant wat gedurig aan jou dink en vir jou bid. Ons sal saam hierdeur kom, ek glo so.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie Una, sonder jul ondersteuning sou ek lankal op gegee het. Mis maar my mense en my taal ook.

      Like

  5. VirgoC Avatar

    Scrappy, moenie te hard op jouself wees nie, die meeste mense voel so. Ons is sosiale creatures, niemnd is gemaak om soos ‘n eiland te leef nie. Doen waarmee jy gemaklik is, stop en haal asem. Een van die terapeute hier gee die raad om met jouself te praat soos met ‘n bang kind. Wanneer mens eers daai troos en beskerm voel, raak dit effens makliker. Baby steps🤗🤗🌻🌻

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Baie dankie vir jou mooi aanmoediging. Ek besef dat dit ‘n harde tyd is. Ek’s ook mos een wat nie my gevoel uitspreek nie. Daardie dag was nou net een te veel gewees. Jy het my nou goeie raad gegee om met myself te praat en te paai dat alles tog sal regkom.

      Like

  6. appeltjie Avatar

    Ek het angsaanval in n winkel gehad toe ek tussen mense staan. 3 keer. Dit was aaklig

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Ek stem saam, dis nie ‘n lekker gevoel nie. En om daaruit te kom is meestal nogal moeilik ook.

      Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.