Hardkoppig/koppig/eie wys?
Ek het so ses jaar gelede ‘n vrou ontmoet waarmee ek baie goeie vriende geword het met verloop van tyd. Sy is enig in haar soort. Ons het al heelwat sakke sout saam opgeëet.
My eerste kennismaking met haar was by die skryfsessies in ons plaaslike biblioteek. Sy het my ook oorgehaal om by die Soroptimists aan te sluit.
Sy is ‘n groot leser en behoort aan drie leesgroepe.
Hoekom ek dit vertel is om te wys sy was ‘n gedugte teenstander van baie mense se idees en voorstelle. Sy het ‘n wye kennis gehad, veral politiek en dan ook stamboom inligting oor haar familie. Mens kan haar nie maklik oortuig om anders te doen as waaraan sy gewoond was nie. Sy is darem al 83 hierdie jaar. Niemand kan vir haar vertel om iets te doen waarvan sy nie hou nie.
Koppig is ‘n goeie beskrywing vir haar. Sy het in die verlede motor bestuur. Haar man het nie ‘n kans gekry nie omdat hy nie goed bestuur volgens haar. Nog ‘n voorbeeld van koppig is as dit by eet kom. Sy en haar man is/was gewoond daaraan om gereeld uit te eet. As ek met haar praat oor die ete en hoe dit was sal sy altyd sê:
“Ek hou nie van dit of dat en hoekom is dit nie so of so nie?” Dan kom daar kere wat sy sê:”Delicious,” as sy van iets gehou het. Baie moeilik om haar tevrede te stel. Sy kook ook glad nie. Haar man wat drie jaar ouer as sy is moet die aandete voorberei en doen dit steeds na beste van sy vermoë.
Ongelukkig het sy in Januarie ‘n groot val gehad. My vriendin kan gladnie onthou hoe en waar die val gebeur het nie. Ambulans het haar hospitaal toe gevat en allerhande toetse is gedoen om uit te vind wat die oorsaak was.
Sy is ‘n hele paar maal weer opgeneem omdat sy nie eet en genoeg drink nie. Nou, ses maande later, is sy steeds hardkoppig. Sy wil nie genoeg water drink nie. Nou bly daar telkens blaasontsteking ontwikkel. Selfde met die eet. Sy wou net nie eet nie want sy was nie lus nie. Hardkoppig, as sy haar kop op iets gesit het kan mens maar doen wat jy wil, sy gee nie bes nie. Sy wou nie met loopraam loop nie. Paar male weer geval en het toe besef sy moet net. Wil ook nie kierie gebruik nie. Doen nie haar oefeninge wat fisioterapeut gee om haar beenspiere weer mobiel te maak.
Voor haar val het sy altyd die bad vol warm water getap. Heerlik in water gelê en lees. As water te koud word tap sy ekstra warm water by. Ai, en nou, nou wil sy gladnie stort nie.
“Dis te nat en te koud,” volgens haar. Die gesondheidsdiens, wat hier baie goed is, stuur ‘n dame om te help met stort en aantrek. Nee, sy weier om te stort. Die verpleegster moes haar net sommer help afspons. Nou ses maande later weier sy steeds om te stort. Sy wil bad.
”Dis gevaarlik. Hoe gaan jy inklim oor die rand as jy nie eers jou beenspiere kan gebruik om behoorlik te loop nie?” vra ek gereeld. Sy wil bad. Die hoof wat oor haar gesondheid gaan het self gekom en haar gevra dat sy moet wys hoe sy in die bad klim. Toe sy voor die bad staan is daar geen idee van hoe sy in die bad kan klim nie. Nou vra ek haar toe met trane in my oë: “Hoe kan jy bad as jy nie eers kan inklim nie?”
“Ek het vir meer as tagtig jaar gebad. Hoekom nie nou nie?”
Hardkoppig se Moses.
Laat ‘n boodskap