Sjoe, ek is skoon uitgeskryf! My gô is omternt opgeskryf.
Gelukkig het ek verlede Woensdag ‘n lekker stuk gevind wat ek hier gaan deel en gebruik vir vandeesweek se Wasdag. Ek het sommer die woorde ook by my telling vir NaNoWriMo getel, was n ekstra 570 woorde.
Dinsdag skryf Tannie Frannie oor “Wat hoor jy en wat sien”jy. Gaan lees gerus hier https://frandr.wordpress.com/2020/11/24/wat-hoor-jy-en-wat-sien-jy/
Dit het toe nou aanleiding gegee dat ek Woensdag skryf oor wat ek hoor en sien.
Ek daag jou uit om te skryf oor wat jy op ‘n sekere oomblik hoor en sien rondom jou. My vermoede is dat geen twee dieselfde gaan hoor en sien nie.
Kom mense laat ons skryf en dit nogal in Afrikaans.
Wat hoor jy/ek en wat sien jy/ek?
Tannie Frannie skryf oor haar mentor waaraan sy haar nie veel gesteur het as jongmens nie. Sy onthou dat hy altyd gevra het: “Wat hoor jy en wat sien jy?”
Dit het my laat besluit om gou daaroor te skryf want vandag is ‘n regte binne bly dag.
Ten eerste het ek wakker geword met reën wat op die dak val. Gelukkig het ek ‘n sink dak en kan goed hoor as dit reën. My vorige blyplek het teëls gehad en mens kon nie regtig die reën hoor nie.
Ek het rustig omgedraai want Trompie het nog lekker diep gelê en asemhaal; so hy was nog nie van plan om op te staan nie. ‘n Uur later word ek wakker en ek draai sowaar om en lê maklik nog n halfuur langer.
Baie ongewoon vir my.
Ek hoor dat dit steeds reën. Ek maak gordyne oop en dis sommer so vaal van die reën. Daar word nog heelwat meer reën verwag vandag en ook more.
Ek is lui om te gaan stort en aan te trek. My hele oggend is nou deurmekaar. Sit die ketel aan en ek hoor dat die water wil begin kook.
Ek laat Trompie uit, wat hy natuurlik nie regtig wil doen nie want dis te nat. Ek gee hom toe maar eers sy kos. Elke dag as ek sy kos uit die blikkie skep in sy kosbak staan en wag hy vir my. Ek klop meestal die lepel aan die kant van sy bakkie af met ‘n geklingel. Dan kom hy vinnig nader want hy weet hy gaan nou eers die lepel aflêk voordat hy kan inklim met sy ontbyt. Die bak word spiksplinter skoon gelêk. Nou probeer ek weer die “uitlaat” deel. Daar is twee black birds wat op die gras wip en goggas soek. Elke nou en dan vlieg hul op na n ander plekkie. Dit gaan meestal ook met n waarskuwings piepery want hul moet altyd reg wees vir ‘n kat wat hul wil vang. Trompie staan die storie en kyk en wil net weer vinnig terug ingaan. Ek moedig hom aan deur te sê: “Waar’s die k-a-t-s?” Hy sal dan sommer vinnig op aandag spring en rond kyk. Moenie glo hy gaan uit om sy ding te doen nie. Ek: “KATZZ” skielik weer en hy vlieg met spoed daar weg, om die huis.
Ek gryp gou die handdoek want nou gaan hy nat wees. Hy kom met n ekstra spoed terug. Ek droog hom af, nou kan ek my tee maak. Ek eet toe my pap, iets wat ek nooit doen voordat ek nie gestort en aangetrek het nie.
Nee wat vandag is beslis ‘n anderse dag. Ek sit nou by my tafel en tik my stuk. As ek op kyk, kyk ek by die venster uit. Dis grys van die toegetrekte lug. Dit reën steeds en ek hoor en sien die reën op die oomblik. Daar is ook ‘n wind wat waai. Die bome hier voor my roer en draai gedurig.
Iets wat ek ook nog van hier van my sitplek af sien is die bure se kers-versiersels. Hul versier die tuin elke jaar met allerhande boompies, liggies en kersfees goedjies.
Dit dan wat ek vandag hoor en sien. O ja, ek het vergeet, my radio is ook altyd aan op ‘n stasie wat hele dag meer musiek speel as om besprekings te hê. Dit kalmeer my ook heerlik tussen al die daaglikse geluide.
Net Kameel het vorige keer oor kinders en hul tantrums geskryf
Kameel – Die kind
Baie dankie Kameel jy is my uitstaande ondersteuner.
Lewer kommentaar