Hiers dit weer Maandag. Dis nogal warm hier in New Zealand en droog! Ek hoop daar is uikoms in droë dele.
Hierdie keer gesels ons oor geskenke. Skryf Afrikaans en geniet dit want Afrikaans voel en proe so lekker. Almal wat Afrikaans skryf kan deelneem solank jy dit geniet.
Kameel, my getroue deelnemer het geskryf. Baie dankie kameel vir jou getroue ondersteuning.
https://kameel179438031.wordpress.com/2020/01/15/kameel-drome/
Geskenke
Noudat Kersfees weer verby is, en ‘n nuwe jaar begin het kan mens met vreugde terug dink aan geskenke wat ons gekry het.
Geskenke hoef nie noodwendig sigbare artikels te wees nie. Dink maar aan ‘n klein babatjie wat gebore word, ‘n geskenk wat ouers veronderstel is om te beskerm, lief te hê en te versorg. Klein Bea is net na Kersfees gebore. Sy het nou pas haar derde verjaardag gevier. Die lekkerste is dat daar nog n klein geskenkie op pad is.
Terwyl ek nog klein was het ons net met verjaarsdae en Kersfees ‘n klein geskenkie gekry. Later jare toe ek my eie geld verdien het, het ek dit geniet om vir almal in die gesin ‘n geskenkie te kan koop.
Geskenke wat ek, as kind, baie waardeer het was ‘n papierpop. My eerste papierpop was Anne Oakley wat cowboy klere gehad het om aan te trek.
In hoërskool wou ek graag een van die juwele kissies gehad het wat ‘n klein balerienatjie gehad het wat as jy die kissie oopmaak op n wysie in die rondte gedraai het op n klein spieëltjie platform. My pa het my voor my verjaarsdag na die apteek geneem en vir my die kissie gewys en gevra of ek van hom hou. Hy het dit toe vir my verjaarsdag gekoop. Ek het die kissie vir jare vir my juwele gebruik.
Nadat ek begin skoolhou het, het ek meestal saam met my Pa ‘n geskenkie uitgesoek(wat ek self betaal het) wat hy dan vir my gegee het. Op die manier het ek my eerste radiotjie gekoop, my eerste sitkamerstelletjie, breekgoed vir my woonstel. Selfs my eerste motor is deur my pa gekies. Ek waardeer die geskenke nog steeds.
As kind het ek afgeskeep gevoel omdat daar nooit ‘n ophef van my verjaarsdag gemaak is nie. Ek besef daar was nie regtig geld nie. Daar was ook nie regtig vriende nie want ons het buite op ‘n plot gebly. Selfs toe ek al gewerk is daar nie ‘n ophef gemaak nie. Dis eintlik my eie skuld omdat ek dit nooit uitbasuin het nie.
My enigste lekker verjaarsdag was net na ek geskei is en ek al my skool vriendinne genooi het om by my te kom teedrink. Ek het self allerhande versnapperinge gemaak. Elkeen wat gekom het het net ‘n klein geskenkie gegee. Die groot geskenk was dat hul almal die middag daar was om saam my verjaarsdag te vier.
Wat is jou beste geskenk? Hoe het jy jou geskenk gekry?
Geniet jou skrywe. Plak jou skakel in my kommentaar sodat ander ook jou stuk kan lees.
Laat ‘n boodskap