Uit my dagboek: Lewens Sertifikaat, November einde.

Die laaste dag van November 2025. Die jaar spoed nou ten einde.

My lewe hier in die ‘Village’ is nou besig om gevestig te raak. Ek probeer nou weer roetine kry. Dis belangrik om betyds te weet wat gaan of kan gebeur tydens ‘n 24 uur tydperk in my lewe. Belangrikste gaan oor die drink van my medikasie. Die tyd moet so gereeld as moontlik wees om medikasie te drink om positiewe aaneenlopende reaksie te kry.

My inskrywing gaan vandag oor my Lewens Sertifikaat.

Ek het Donderdag my Lewens Sertifikaat(as aanlyn duplikaat) gekry. My kopiëerder wil nie werk nie. Gelukkig het my ‘village’ bestuurder gesê sy sal hom vir my afdruk. Ek moet dit net vir haar pos. So gevra, so gedaan.

Volgende is om ‘n kommisaris van Ede(JP) te kry om dit te sertifiseer.

Hier is die aantekening wat ek in my dagboek gemaak het.

Dinsdag: 

 Ek het vir ‘n JP gesoek om my Lewens Sertifikaat te laat teken, wat nie gewerk het nie. Ek bel en gee boodskap, nie een antwoord nie. Laat middag besluit ek om laaste oproep te maak. ‘n Baie vriendelike dame antwoord. Sy sê dat sy ongelukkig nie vandag of more tyd het nie omdat sy besig is. Sy sê wel dat daar ‘n JP die volgende dag in die “War Memorial Library” in Lower Hutt van 11.30 am-12.30 pm gaan wees wat kan teken. Ek rëel met Cynthia (my redder in nood) om my te vat. 

Woensdag: 

Cynthia weet toe nie presies waar die biblioteek is nie. Ons het dit op einde wel gekry. Daar was seker 5 persone wat gewag het. Die JP was heel vriendelik. Sy het sommer een van wagtendes gevra om as getuie te teken terwyl Cynthia tweede getuie was. Bib was heel interessant. By uitgang was uitbeelding van ‘n ‘Moa’.

Donderdag: 

Gereën gedurende die nag en ook aan en af hele dag. Joss, ‘village’ bestuurder kom hoor of sy my Lewenssertifikaat kan scan en vir my stuur. Wat sy gedoen het. Waardeer haar belangstelling. Sy is werklik ‘n pragtige mens.

Lewens Sertifikaat is gestuur. Nou wag ek vir bevestiging.

YAY! My agt skryfstukke klaar gemaak en gestuur. Opwindend. Wag vir terugvoer en dan is dit skouer aan die wiel na taak twee.

NB(nota bene, gebruik mens dit nog?): 

My inskrywing oor my Lewens Sertifikaat.

 Einde elke jaar vul ek, al vir sestien jaar, ‘n vorm in. Die vorm is belangrik omdat my pensioen elke jaar geaktiveer moet word. In 2009 het ek nog my Lewes Sertifikaat in die pos gekry. Ek moes dit invul, beëdig en weer terug pos. Nie lank daarna nie het die poskantoor in Suid Afrika in duie gestort. Wat ‘n gedoente. 

Ek kry nie die sertifikaat nie. Vra dit aanlyn aan. Bel SA toe. Wag lank voordat daar opgetel word. Uiteindelik kry ek iemand aan lyn. Sy stuur vir my ‘n duplikaat wat ingevul word en dan teruggestuur word per pos. Ek kon darem dit aanlyn solank stuur. Dan wag ek vir die maand wat die betaling hernu moet word. Eerste paar jaar was dit jou verjaardag maand wat jou hernuwings maand is. 

Nou wag ek, dan gebeur dit. Geen betaling van pensioen nie. Nou’s dit weer foon toe en bel weer. Wag ure vir iemand om te antwoord. Goed, die persoon aktiveer die rekening. Steeds wag ek, dit neem tot ‘n week voordat die geld in my rekening is. ‘n Sug van verligting as dit betaal is. Ek kan weer vir ‘n jaar voort gaan.

Elke jaar dieselfde storie. Toe stuur hul nie meer per slakkepos nie. Dit word nou digitaal gedoen. Moenie dink dit gaan makliker nie. Hul stuur nie die sertifikaat outomaties nie. Neee, ek moet dit aanvra. Steeds weer ‘n bellery want niemand stuur die sertifikaat nie. 

Gelukkig het hul die stelsel nou aangepas sodat mens reguit by Lewens Sertifikate kan uitkom sonder al die draaie waarlangs mens moes gaan. Ek moet steeds aansoek doen vir duplikaat, dit teken, sertifiseer en dan terugstuur. Hul laat meestal weet dat die rekening geaktiveer is. 

Moenie dink dit gebeur nie! Nee, geld is nie einde Januarie inbetaal nie. Selfde storie: probeer kontak(in begin het ek selfs gebel wat gladnie werk nie) Stuur later sommer elke dag ‘n aanvraag. Aha, uiteindelik kom antwoord, dis geaktiveer. “Sorry, sorry” vir ongerief. In die tussentyd moet ek steeds leef. Gelukkig spaar ek deur die jaar vir die maand of twee wat ek sukkel om als vlot  te laat verloop.

Ek begin nou al in November vra vir die Sertifikaat se duplikaat omdat dit ‘n paar weke vat voordat ek dit het. Hierdie jaar het ek op ‘n Maandag gevra vir sertifikaat. Yay, Donderdag het ek hom. Week daarna teruggestuur. Duime vas!


by

Tags:

Comments

2 reaksies op “Uit my dagboek: Lewens Sertifikaat, November einde.”

  1. Tannie Frannie Avatar

    So bly dat jy weer skryf, want nou weet ek darem hoe dit met jou gaan. Liefdegroete uit ‘n grys winterslandskap.

    Liked by 2 people

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie vir jou liefde en omgee. Ek’s bly jy kuier hier by my. Dit moedig my aan om aan te hou met skryf. Groete van huis tot huis en liefde ook. Gaan nou vir my laaste spraak terapie sessie.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Tannie Frannie Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.