Die ‘Tiny Home’ is besig om te gebeur. Ek is skoon opgewonde.
Na die terugslag met die omwaai van die muur ‘geraamte’ gedurende ‘n woeste Suid- ooster is daar weer vooruitgang met die bou. Die raamwerk is weer opgebou. My seun het van Januarie af ingespring met die herbou.
Gister het ek vir eerste keer in my toekomstige blyplek geklim. Bertus het my gehelp om op en in te klim. Ek het in verwondering gestaan en uitkyk deur die vensterraam. Twee vroue, wat hul perd hier versorg, kom verby. Ek beduie toe:
“Hier gaan my bed staan en dan onder die venster my werktafel. Ek gaan lekker met jul gesels deur my venster as jul verby kom.”
Vandag word die skeepshouer waarin my goed gestoor is aan die suidekant muur geplaas. Dit gaan sommer as beskerming dien teen die Suidewind. Die houer gaan ook as ankerplek vir die ‘Tiny home’ wees.

Lewer kommentaar