Oompie Doompie
‘n Gedagte het die afgelope tyd in my gedagtes bly draai. Wat gaan ek doen om my liggaam in rat te kry om gesonde bewegings en oefeninge te doen? Ek probeer om gereeld te loop. Die weer speel egter nie altyd saam nie. Om in die reën te stap is nou nie juis die ideale ding nie. Oefeninge doen saam met opnames of videos is nou nie juis my idee van oefen nie. Ten eerste is daar skaars spasie om te kan staan in my kamer laat staan nog om bewegings uit te voer. Daar moet tog ‘n ander plan wees. Ek wil ook graag wegkom uit my alleenwees en met mense meng.

Die gloeilampie flits eers so ‘n dowwe liggie wat daagliks helderder word.
Gimnasium!
(Ek kyk by my venster uit. Reusagtige spierwit wolke is besig om verby te seil in ‘n helder blou lug. Daar word erge wind, koue selfs sneeu vir vannag voorspel)
Gimnasium!
Voordat ek uit Suid Afrika weg is het ek vir ‘n paar maande heerlik geoefen om my spiere soepel te maak. Dit het my die wêreld se goed gedoen – liggaamlik sowel as geestelik. Dit was in die somer maande in 2008 in Mokopane (Potgietersrus). Ek het soggens vroeg gaan gym voordat dit te warm geword het. Mokopane is nie juis een van die koelste plekke met temperature wat daagliks en selfs snags bo 35 grade C was nie. Nou terwyl ek hier skryf, in 2023, is die temperature selfs hoër met die klimaatverandering.
Gimnasium!
Hier in New Zealand en in Upper Hutt, waar ek woon, is daar ‘n spesiale gimnasium wat ouer wordende mense, mense met rumatiek en ander ouderdom spier probleme help om weer aan die gang te kom om gemakliker te beweeg en ‘n beter bloedsomloop te bewerkstellig. Dis nou net wat ek nodig het om stywe ledemate weer te laat werk.
Ek het lankal ‘n oog op die gym gehad en ‘n maand terug besluit om ondersoek in te stel na hoe dit werk. My afspraak is gemaak met Liz. Sy beduie wat hul aanbied en doen.
Opwindend!
Ons maak ‘n afspraak vir die ontleding van wat ek kan doen. Dis die eerste week van die vakansie en Liz laat weet sy is siek en vra of ons die afspraak kan verskuif. Die afspraak is verskuif na die Maandag toe die skool begin. Ek oorbedink die saak en vra toe: “Liz, kan ons nie asb die afspraak na 31 Julie verskuif nie? Dan begin ek begin Augustus met die oefening.” Liz maak afspraak 31 Julie 9:30 am, dit was Maandag(gister).
Maandag oggend maak ek klaar en gaan Gym toe. Eerste ding, daars geen parkeerplek naby Gym nie. Die mense wat trein ry parkeer hul motors op die parkeerterrein vir die dag. Dis sleg, ons dokter spreekkamer is daar en pasiënte kry nie naby parkeerplek nie.
Om by die Gym in te gaan moet mens deur ‘n apteek gaan. Ek sit my gesig masker op en gaan in. Als is nog donker en gesluit. Wat nou gemaak? Dis 9:30 en niemand is nog daar nie. Ek bel vir Liz, wat nie optel nie, en gee ‘n boodskap. Ek stuur ook vir haar ‘n e-mail. 9:40am daag die een instrukteur op en kannie verstaan hoekom Liz nie daar is nie. Sy het ook ‘n boodskap gestuur. Die instrukteur het ‘n ouerder man aan die gang gesit met sy oefening en toe gery om haar dogter by die skool af te laai.
In die tussentyd sit ek en wag vir ‘n antwoord. Geen taal of tyding.
‘n Oompie kom ingestrompel van apteek se kant. Hy is uitasem en plonk homself langs my neer. Eers met ‘n halwe skouerval teen my: “Sorry, sorry. My balans is uit.”
Die Oompie is korter as ek. Netjies aangetrek. Ronde gesiggie kyk vir my. Sy tandlose pruimmondjie op ‘n plooi. Reuse oë kyk vir my deur dik brillense. Telkens as ek praat draai hy die koppie skuins met sy oor in my rigting om te hoor wat ek sê.
Ek vertel van my afspraak en dat niemand nog opgedaag het nie.
“My afspraak is 10 uur by… (ek kon nie die naam uitmaak nie)” vertel Oompie.
“Hoe lank oefen Oompie al?”vra ek.
“My tweede week en eks baie tevrede. Ek het laaste ruk gereeld geval. Ek kannie dorptoe gaan nie want ek wil nie op sypaadjie val nie. Dis ‘n verleentheid om so te val. Die dokter het oefeninge aanbeveel om my balans te verbeter. Dis regtig die moeite werd.”
“Dis goed om te weet want ek sukkel ook met balans en dat ek sommer onverwags net val. Ek loop nou nooit meer sonder my kierie nie. Dit help om net daardie oomblik dat mens wil val ‘n steunplek het om regop te bly. Oompie moet regtig ‘n kierie kry. Voorkoming is beter as genesing.”
In die tussentyd is dit al na tien. Geen Liz en ook geen ander instrukteur nie.
“Bye Oompie, pas jouself op.”
Later met etenstyd lui die telefoon.
“Dis Liz hier, ek is soooo jammer dat ek nie gekom het nie. Ek voel so sleg. Dis nou die derde keer dat ons nie vorder met reëlings nie en alles my skuld. Ek sal jou nie kwalik neem as jy nie meer wil aansluit nie. My foon was op ‘silent’ omdat ek gesit en studeer het. Dis ook my fout dat ek nie gekom het nie want ek het die afspraak vir Dinsdag aangeteken. Jammer, jammer vreeslik jammer.”
“Liz moenie bekommer nie ek wil dit steeds doen. Kom ons maak ‘n nuwe afspraak, asseblief.” Afspraak is toe gemaak vir Woensdag(dis môre) weer om 9:30am.
Hou maar duime vas dat dit hierdie keer gaan gebeur. Ek sien nogal uit om te begin. Dis weer ‘n nuwe uitdaging wat my staande gaan hou vir tyd en wyl ek daarmee volhou.

Dis nie waarek gaan oefen nie. Sommer geleen van aanlyn Gym fotos.
Lewer kommentaar op Una se gedagtes Kanselleer antwoord