Oompie en die Gym

Oompie Doompie

‘n Gedagte het die afgelope tyd in my gedagtes bly draai. Wat gaan ek doen om my liggaam in rat te kry om gesonde bewegings en oefeninge te doen? Ek probeer om gereeld te loop. Die weer speel egter nie altyd saam nie. Om in die reën te stap is nou nie juis die ideale ding nie. Oefeninge doen saam met opnames of videos is nou nie juis my idee van oefen nie. Ten eerste is daar skaars spasie om te kan staan in my kamer laat staan nog om bewegings uit te voer. Daar moet tog ‘n ander plan wees. Ek wil ook graag wegkom uit my alleenwees en met mense meng.

Die gloeilampie flits eers so ‘n dowwe liggie wat daagliks helderder word. 

Gimnasium!

(Ek kyk by my venster uit. Reusagtige spierwit wolke is besig om verby te seil in ‘n helder blou lug. Daar word erge wind, koue selfs sneeu vir vannag voorspel) 

Gimnasium! 

Voordat ek uit Suid Afrika weg is het ek vir ‘n paar maande heerlik geoefen om my spiere soepel te maak. Dit het my die wêreld se goed gedoen – liggaamlik sowel as geestelik. Dit was in die somer maande in 2008 in Mokopane (Potgietersrus). Ek het soggens vroeg gaan gym voordat dit te warm geword het. Mokopane is nie juis een van die koelste plekke met temperature wat daagliks en selfs snags bo 35 grade C was nie. Nou terwyl ek hier skryf, in 2023, is die temperature selfs hoër met die klimaatverandering.

Gimnasium! 

Hier in New Zealand en in Upper Hutt, waar ek woon, is daar ‘n spesiale gimnasium wat ouer wordende mense, mense met rumatiek en ander ouderdom spier probleme help om weer aan die gang te kom om gemakliker te beweeg en ‘n beter bloedsomloop te bewerkstellig. Dis nou net wat ek nodig het om stywe ledemate weer te laat werk. 

Ek het lankal ‘n oog op die gym gehad en ‘n maand terug besluit om ondersoek in te stel na hoe dit werk. My afspraak is gemaak met Liz. Sy beduie wat hul aanbied en doen. 

Opwindend! 

Ons maak ‘n afspraak vir die ontleding van wat ek kan doen. Dis die eerste week van die vakansie en Liz laat weet sy is siek en vra of ons die afspraak kan verskuif. Die afspraak is verskuif na die Maandag toe die skool begin. Ek oorbedink die saak en vra toe: “Liz, kan ons nie asb die afspraak na 31 Julie verskuif nie? Dan begin ek begin Augustus met die oefening.” Liz maak  afspraak 31 Julie 9:30 am, dit was Maandag(gister).

Maandag oggend maak ek klaar en gaan Gym toe. Eerste ding, daars geen parkeerplek naby Gym nie. Die mense wat trein ry parkeer hul motors op die parkeerterrein vir die dag. Dis sleg, ons dokter spreekkamer is daar en  pasiënte kry nie naby parkeerplek nie. 

Om by die Gym in te gaan moet mens deur ‘n apteek gaan. Ek sit my gesig masker op en gaan in. Als is nog donker en gesluit. Wat nou gemaak? Dis 9:30 en niemand is nog daar nie. Ek bel vir Liz, wat nie optel nie, en gee ‘n boodskap. Ek stuur ook vir haar ‘n e-mail. 9:40am daag die een instrukteur op en kannie verstaan hoekom Liz nie daar is nie. Sy het ook ‘n boodskap gestuur. Die instrukteur het ‘n ouerder man aan die gang gesit met sy oefening en toe gery om haar dogter by die skool af te laai.

In die tussentyd sit ek en wag vir ‘n antwoord. Geen taal of tyding.

‘n Oompie kom ingestrompel van apteek se kant. Hy is uitasem en plonk homself langs my neer. Eers met ‘n halwe skouerval teen my: “Sorry, sorry. My balans is uit.”

Die Oompie is korter as ek. Netjies aangetrek. Ronde gesiggie kyk vir my. Sy tandlose pruimmondjie op ‘n plooi. Reuse oë kyk vir my deur dik brillense. Telkens as ek praat draai hy die koppie skuins met sy oor in my rigting om te hoor wat ek sê. 

Ek vertel van my afspraak en dat niemand nog opgedaag het nie.

“My afspraak is 10 uur by… (ek kon nie die naam uitmaak nie)” vertel Oompie.

“Hoe lank oefen Oompie al?”vra ek.

“My tweede week en eks baie tevrede. Ek het laaste ruk gereeld geval. Ek kannie dorptoe gaan nie want ek wil nie op sypaadjie val nie. Dis ‘n verleentheid om so te val. Die dokter het oefeninge aanbeveel om my balans te verbeter. Dis regtig die moeite werd.”

“Dis goed om te weet want ek sukkel ook met balans en dat ek sommer onverwags net val. Ek loop nou nooit meer sonder my kierie nie. Dit help om net daardie oomblik dat mens wil val ‘n steunplek het om regop te bly. Oompie moet regtig ‘n kierie kry. Voorkoming is beter as genesing.”

In die tussentyd is dit al na tien. Geen Liz en ook geen ander instrukteur nie. 

“Bye Oompie, pas jouself op.”

Later met etenstyd lui die telefoon.

“Dis Liz hier, ek is soooo jammer dat ek nie gekom het nie. Ek voel so sleg. Dis nou die derde keer dat ons nie vorder met reëlings nie en alles my skuld. Ek sal jou nie kwalik neem as jy nie meer wil aansluit nie. My foon was op ‘silent’ omdat ek gesit en studeer het. Dis ook my fout dat ek nie gekom het nie want ek het die afspraak vir Dinsdag aangeteken. Jammer, jammer vreeslik jammer.”

“Liz moenie bekommer nie ek wil dit steeds doen. Kom ons maak ‘n nuwe afspraak, asseblief.” Afspraak is toe gemaak vir Woensdag(dis môre) weer om 9:30am. 

Hou maar duime vas dat dit hierdie keer gaan gebeur. Ek sien nogal uit om te begin. Dis weer ‘n nuwe uitdaging wat my staande gaan hou vir tyd en wyl ek daarmee volhou.

Dis nie waarek gaan oefen nie. Sommer geleen van aanlyn Gym fotos.


Posted

in

, , ,

by

Comments

22 reaksies op “Oompie en die Gym”

  1. Una se gedagtes Avatar
    Una se gedagtes

    Ek dink jy gaan dit baie geniet, Ineke, selfs al is dit harde werk.🤗

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Harde werk beslis. Eerste keer gedoen en my spiere voel dit. Sal bly wees as ek my balans kan verbeter sodat ek nie so maklik wil val nie.

      Liked by 1 person

  2. Dr Christa van Staden Avatar

    Jy gaan dit geniet, die oompie klink gaaf

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie eerste het beslis my spiere gekasty. Oompie was toe veronderstel om 12 uur daar te wees nie 10 uur nie!

      Liked by 1 person

  3. rondomtaliedraai Avatar
    rondomtaliedraai

    Ek is beindruk Sus!

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Damkie, moet nou net deurdruk en my spiere bietjie versterk sodat my balans kan reg kom.

      Like

  4. Tannie Frannie Avatar

    Dis wonderlik, Scrapy – hoop die gym is nommerpas vir jou.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie Frannie, my arme spiere weet nie wat hul oorgekom na my eerste sessie vandag. Sal more beslis weet ek het geoefen. Dis egter moeite werd om mens se selfbeeld op te bou ook.

      Liked by 1 person

  5. appeltjie Avatar

    Laat weet wat gebeur

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Het my vervolg opgesit. Dankie jy’t kom kuier by my.

      Like

  6. Positief Avatar

    Sjoe Scrapy, ek bewonder jou hoor. Self moet ek nog die moed bymekaar skraap om weer te begin oefen, daai 1ste 2 weke se seer spiere……

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Jong waar daar ‘n wil is is daar ‘n weg. Ding is mens moet moed kry om te begin.

      Liked by 1 person

  7. sandreyerskryf.wordpress.com Avatar

    Scrapy, ek gym ook vir balans. Ek geniet dit baie. My man gym saam. Hy is 66 en ek 65. Moet bely dat die spiere soms maar hard kan kla. Een gyminstrukteur het Panado en Citro soda aanbeveel. Dit help regtig. Na so 2x se gebruik is ek weer myself.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Ek gebruik Panado. Dr skryf dit voor vir verkalking en rumatiek in my rugwerwels. Solank ek pyn kan verdoof wil hul nie weer opereer nie omdat dit maar ouderdom is. Gelukkig kry ons gratis medisyne hier. Waarvoor is die Citro soda? Ek is al 77 en voel net om my bietjie te help om meer beweegbaar te word. Het nog gewerk vioor Covid en altyd baie beweeg. Nou sit ek meer as wat ek graag sou wou. Eks bly julle geniet die gym dit laat mens regtig sommer ontspan en lekker voel.

      Like

      1. sandreyerskryf.wordpress.com Avatar

        Ons praat dieselfde taal. Die citro soda dryf die suur wat jou spiere styfmaak na oefening, af. Ons gym in die middel van die dag. As ek die aand of die volgende oggend begin styf word, drink ek citrus soda en 2 panado’s. Dan voel ek na so 2 ure beter. Ek oefen omdat ek erg styf word as ek te lank sit. Ons vroue skryf, doen naaldwerk, hekel en dit alles is te veel sit vir my lyf. As ek nie oefen nie, word ek van die vyfde dag af so styf dat dit lyk of ek nie naby ‘n gym kom nie! Weird. Lekker oefen!

        Like

        1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

          Ek is op oomblik ook so. As die weer nie toegelaat het dat ek kan stap nie vertel my lyf dis nou tyd om op te met stilsit. Ek het voorheen tenminste 3x per dag met my hond gaan stap. Hy’s amper twee jaar nie meer met my nie. Die stap was nie meer ‘n lekker tyd nie dis hoekom ek my gaan dwing om te gym. Het Dinsdag my tweede sessie om al die apparate te kan bewerk.

          Like

          1. sandreyerskryf.wordpress.com Avatar

            Jy sal sien dat dit ‘n heerlike stokperdjie is. Een quote sê: Because your body takes so well care of you you should love your body by giving it exercise and clean food!
            ‘n Ander een sê: exercise your body, it is the only home you really have!

            Like

            1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

              Uitstaande quotes, baie dankie.

              Liked by 1 person

      2. sandreyerskryf.wordpress.com Avatar

        Ek wou nog byvoeg hoe goed oefen vir die gees is. My een vriendin is baie, baie depressief. Haar dr het haar verwys na ‘n gym. Dit help haar baie. Dit trek die aandag af. Sy kom agter haar lyf kan nog ‘n klomp goed doen en dit laat haar ook lekker voel. Oefening help baie vir my geheue ook. Ek is beter daarmee as die begin van die jaar. Ek oefen 3x per week. ❤

        Like

        1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

          Nou praat jy so na my hart. Dis hoekom ek die gym wil en moet doen. Ek’s totaal afgesny van alles en almal van ek hier ingetrek het. Sien nie meer kans vir die doellose manier waarop ek lewe nie. Depressie is ook maar een van my gevegsvelde wat gedurig wil inbars. Die oefening en uitkom gaan beslis die beste wees.

          Liked by 1 person

          1. sandreyerskryf.wordpress.com Avatar

            My een vriendin sê: “Oefen help vir alles!” Lekker oefen!

            Like

            1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

              Sê vir haar ek stem saam. Ek was altyd baie aktief gewees.

              Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.