28/07/2023 Reën, reën lieflike reën.
Dit reën al die hele week aan en af. Woensdag(26/07/’23) het dit aanmekaar gereën. Moes my pille by apteek kry en ‘n paar kruideniersware gaan koop; yogurt, brood, weetbix, vrugte. Lekker nartjies gekry. Hul lyk so mooi en gesond. Nartjies kom van Australië. Wonder toe of hul so lekker proe soos hul lyk. Ek’t net twee gekoop vir ingeval hul suur is; ek’s suur genoeg van myself wil nie suurder word nie. Meestal is Australië en selfs NZ se lemoene en nartjies nie baie lekker nie; droog en suur of smaakloos. Spyt ek het toe nie meer gekoop nie. Hul is nie heeltemaal so smaaklik soos “regte” nartjies waaraan ek gewoond is nie maar tog die moeite werd om te koop.
Donderdag(27/07) reën dit steeds. Voor my venster is ‘n amper pienk/rooi Japonica/Camille wat pragtig blom. ‘n “Bell bird” kom toe lekker heuninkies suig. Interessante voëltjie, hy is endemies van NZ. Hy het blykbaar dieselfde tong as suikerbekkie wat die nektar uit veral aalwyn soorte en vlasblomme(Flax flowers) suig.
Die middag wil-wil sonnetjie bietjie uitkom. Na ek 5 uur geëet het, het ek gou gaan stap. Die nattigheid en koue het gemaak dat ek nie gestap het nie. Die wolke trek bietjie oop en daar is wraggies ‘n dik laag sneeu op die hoë berge. Die Remutakas is die eerste deel van die Tararua Bergreeks wat van die Hutt Valley noordwaarts strek verby Palmerston North. Daar was blykbaar vroeg oggend ook sneeu op ons heuwels. Gelukkig was ek snoesig binne en het dit nie gesien nie omdat dit toegetrek was.
Vannag het dit aanhoudend gereën. Dan saggies, dan weer harde voluit buie. Vanoggend(28/07) het daar sommer oral poele water gestaan. Dis die eerste keer dat water nie meer insak of wegloop nie. Daar gaan beslis heelwat grondverskuiwings “landslides”wees. Daar was gister juis ‘n grondverskuiwing wat die pad oor Remutakas gesluit het sodat dit verwyder kan word. My eerste verskuiwing was juis ook in dié berge toe ek oppad huistoe was vanaf my vriendin. Ek was tweede die motor wat gestop het. Gelukkig was die een baan nog oop en is daar gereël dat mens kon ry terwyl die skoonmaak aan die gang was.
Die “Bell bird” het weer kom sappies suig. ‘n Blousysie (blue waxbill) het toe ook kom kyk wat hy te ete kan vind by die hoenders. Sysies kom oorspronklik van Suidelike Afrika, hul is dus is nie inheems nie. Daar word vermoed dat dit maar mak voëltjies was wat ontsnap het uit hul hokkies/koutjies.
Sjoe ek begin nou sukkel om Afrikaanse woorde te gebruik. Gelukkig help Google vertaling baie. Dis eintlik net die eerste oomblik dat ek nie onthou nie. Hoe harder mens mos dink aan iets hoe minder val dit mens by. Skielik sal die regte woord sommer net opduik.
Daar is altyd iets opwindends hier aan die gang. Gelukkig is my oë en ore altyd oop vir ‘n interessante belewenis.
https://en.wikipedia.org/wiki/Blue_waxbill
https://en.wikipedia.org/wiki/New_Zealand_bellbird
Lewer kommentaar op scrapydo2.wordpress.com Kanselleer antwoord