Nuwe eetplan

Maandag 3/07/2023

In die verlede het ek al verskillende ‘food bags,’ soos hul dit hier in NZ noem, probeer. Gedurende ‘lockdown’ kon ek steeds die vars groente en bestanddele netjies verpak by die huis afgelewer kry.

Met die wat ek 2021 by die kinders intrek het ek aan en af kos gemaak en saam met hul geëet. Toe trek ons plaas toe en die maatskappye wat die koshouers verskaf lewer nie landelik af nie. 

Hier probeer en daar gekyk, en kom toe af op WOOP wat teen ekstra koste dit hier aflewer. Die gehalte is goed en presies in porsies afgemeet en verpak. Alles goed en wel, tog is dit ‘n gedoente om die ete voor te berei omdat ek nie ‘n kombuis het nie. Ek moet vroeg middag klaar kook sodat die kinders hul aandete kan maak as hul van die werk af kom. Dit het vir drie maande so aangegaan tot ek besluit het om weer ‘n ander plan te maak. Dis baie stresvol om so kos voor te berei in iemand anders se kombuis en ook huis.

‘n Vriendin van my het my gewys hoe lyk haar klaargemaakte aand maaltye wat by haar deur afgelewer word. Dit was in 2021 dat sy die brosjure vir my gegee het. Eendag toe ek tussen my goed na iets soek kom ek op die pamfletjie af. Bestudeer dit aan lyn en besluit om WOOP eers te stop en die plek te probeer. Ongelukkig lewer hul ook nie landelik af nie. Mens kan dit wel by hul kombuis kom afhaal. So gesê so gemaak, bestelling ingesit en betaal en ek sou dit self gaan haal.

Ongelukkig is hul nie in Upper Hutt nie. Hul is in Lower Hutt.

26 min (24.6 km) via State Hwy 2

Met die uitbreek van Covid het ek heel skrikkerig geraak om te ver op my eie te  bestuur. Veral noudat ons hier buite Upper Hutt is gaan ek net die bulte oor om kruideniersware te koop of  winkels toe te gaan. Ook net as dit regtig nodig is.

Toe ek die kos bestel het, het ek besluit dat ek die ent se ry gaan probeer en kyk hoe dit uitwerk.

Wel, die dag het aangebreek dat ek moet ry. Gisteraand het ek nog by Bertus seker gemaak hoe ek moet ry. Die aanwysing is egter nie so baie duidelik nie. As ek net uitwerk waar ek moet afdraai en indraai is die kaap Hollands, so het ek gedink.

Die ry op die snelweg het goed gegaan. Ons ry mos net 100 km per uur op snelweg. Moes eers links afdraai van snelweg, driekwart om ‘n sirkel(Hul glo mos aan sirkel verkeer hier), dan reguit aan. Verby Hutt hospitaal waar ek darem al gery het, weer ‘n sirkel waar ek links draai. Eerste werklike straat na links is die straat waar ek moet afdraai. Draai links. Ry reguit tot voor waar pad regs draai. En sowaar daar is die plek waar ek moet wees. Ek ry stadig in, wraggies geen parkeerplek nie. Omgedraai in die noute want hul is besig met verbouing aan geboue. By hek uit draai ek links af in die hoop om ‘n parkeerplek te kry. Geen parkeerplek nie! Draai regs af in volgende straat. Ry aan, steeds geen plek. Uiteindelik kry ek ‘n parkeerplek. Die geluk was aan my kant dat die parkeerplek net voor ‘n huis se inry was. Ek kon voor hek intrek en agteruit  parkeer in die parkeerplek in.

Nou moet jul besef ek is veronderstel om met my kierie te loop. Ongelukkig gaan dit nie werk nie want as ek twee koelsakke moet dra, wat gaan ek met my kierie maak? Los kierie in kar en loop versigtig en kyk behoorlik waar ek loop. Die sypaadjies is nie baie gelyk nie en ‘n gevaar om my te kan laat struikel is goed moontlik.

Ek kom by die plek waar ek die kospakkies moet kry. Die vrou wat my gehelp het was baie vriendelik. Ek verduidelik toe aan haar van die kierie lopery. 

“Kan ek asb die twee koelsakke hier los. Die kar gaan haal en dan dit oplaai?” 

“Geen probleem, jy stop mos net vir vyf minute. Stop sommer agter die geparkeerde swart motor.”

Ek stap weer terug motor toe. Parkeer vinnig agter ‘n ry motors want ‘n vragmotor is besig om agteruit uit te beweeg. Gaan kry gou die twee sakke en, sie daar, woerts is ek weg en oppad huistoe.

Ek het tienuur van die huis af gery en was weer twaalfuur tuis. Die ryery Lower Hutt toe neem minstens ‘n half uur om daar te kom en dan weer ‘n halfuur terug.

Opgelegde taak suksesvol afgehandel.


Posted

in

, ,

by

Comments

8 reaksies op “Nuwe eetplan”

  1. Lekkervurigeaffêre Avatar

    Ag ek is bly alles het vlot verloop en die etes lekker is. 💝🌻

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Ek was heel in my skik met my ryery want die laaste paar maande was nie lekker om te bestuur nie. Was met tye baie onseker as ek op die pad was. Hierdie etes hoef mens net op te warm in mikrogolf. Stewige maaltyd.

      Like

  2. Dr Christa van Staden Avatar

    Hoop dit was lekker, te veel moeite vir my. Waarom eet jy en kimders nie net saam nie?

    Liked by 1 person

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Kos is baie smaaklik en gesond. Groente, vleis aartappels/rys/macaronie.

      Liked by 1 person

      1. Dr Christa van Staden Avatar

        En waarom sal jy dan sukkel met kosmaak en skoonmaak?

        Like

  3. Tannie Frannie Avatar

    Jy kan baie trots op jouself wees! Ek haal my hoed vir die hoeveelste keer vir jou af, liewe Scrapy.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Ag baie dankie Frannie. Party dae wil ek nogal in die stilligheid moed opgee maar dan kry ek steeds krag van Bo af.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.