Sjoe, mensig dit was ‘n warm dag Woensdag. Omdat dit droog is brand die son alles asvaal. Veral in die middag as die son op sy naaste aan ons is, is die son op sy hetigste.
Volgens die reëling het ek voorberei dat Beatrix na ‘n kuns dag gaan. Gelukkig vra ek Dinsdagaand of dit reg is dat Amelia kleuterskool toe gaan en Beatrix na die klas vir die dag.
“Nee, dis die 23e en nie Woensdag 22ste nie. Kan Ma asseblief weer na Bea kyk?”
“Oepsie, amper het ek nie geweet nie, maar dis reg so,” antwoord ek.
Woensdag oggend besluit ek om betyds winkels toe te gaan voordat dit te warm word. Half tien is ek en Beatrix reg vir inkopsie in die Mall.
Die swart ‘Leaf’ word in een van die ‘disabled’ plekke geparkeer, want ek het ‘n permit om in venster te sit. Ek loop mos met ‘n kierie en is nie meer so rats soos vroeër nie.
“Ouma, wat gaan ons koop?”
“Wel, aangesien ons hier is gaan ons kyk wat daar in ‘Posties’ (‘n klerewinkel) is waarvan jy hou.”
Eers stap ons verby die gospelsanger wat net buite die ingang van die Mall sing. Hy is al half ‘n bekende vir my. Ons groet en gesels altyd net so ‘n paar sinne.
Ek stel Beatrix aan hom voor. Beatrix is toe heel skaam, en steek haar gesig agter my arm weg.
Ons stap stadig na die klerewinkel.
Was dit nou vir jou ‘n lekker aankoop wat ons gedoen het. Ons kry twee kortbroekies. ‘n Groene met sakke en ‘n bonte. Twee bypassende t-hempies en ‘n ekstra donkerblou top waarvan sy BAIE hou, vir haar. Beste van als is dat Beatrix, as sy die kans kry, met my kiere in die winkel rond stap.
Ons het sommer vir Amelia ook ‘n kortbroekie en bypassende t-hempie gekry, asook ‘n pienk toppie wat by haar pienk kortbroekie gaan pas, en dan ook ‘n ‘Paw Patrol’ pet. Amelia is op die oomblik mal oor ‘Paw Patrol.’
Volgende gaan ons na die ‘Warehouse’ wat op die eerste vloer is. Beatrix druk die hysbak se knoppies. Ek koop ekstra waterverf papier. By die klere is op die oomblik nie veel wat die aandag trek nie.
Toe kom die lekker van die oggend.
Ons gaan ‘Muffin Break’ toe. Ek bestel my tee, en ‘n feta en spinasie muffin. Beatrix wil ook dieselfde muffin hê, en natuurlik ‘n sjokolade melkskommel. Ons het heerlik gesmul aan die muffins en drinkgoed.
Dit was nou beslis ‘n heerlike twee ure van saam wees. By die huis gekom, spring Beatrix dadelik in haar ‘lunchbox’ wat Pappa ingepak het. Lekker vrugte- appelkoos, druiwe en ‘n heerlike rooi tamatie. Ek het toe eers my ‘Nanny nap’ geneem terwyl Beatrix TV kyk. Dis bloedig warm buite.
Half drie se kant kyk ek en Beatrix TV. Hilda is die naam van die dogtertjie. Ek weet nie juis waaroor dit gaan nie. Dis nogal bonatuurlike goed wat die meisiekind en haar twee maats doen. Na ‘n ruk se kykery en die volgende hoofstuk besig is om op te kom vra ek: “Kan ons nie maar iets anders kyk nie?”
“Wat wil Ouma kyk?” vra Bea.
“Ek weet nie,” antwoord ek presies soos sy altyd my vrae antwoord. Lekker kry ek haar terug.
“Wat van ‘bugs’, Ouma?” vra Bea weer.
“Dit klink beter as dit waarna ons nou kyk.”
So gemaak, so gedaan. Ons kyk ‘National Geographic, It’s a bug’s life.’
Eerste is toe ‘n miskruier wat te doen kry met al die groot diere as gevaar; olifante en kameelperde. Die Olifantbolle is ideaal vir miskruiers om te eet en dan ook hul bolle te rol. Dis regtig ook ‘n stryd vir oorlewing. ‘n Olifant trap op die miskruier en haar bol. Gelukkig is hul so sag dat die miskruier plat getrap word maar nie dood nie. Op die einde het sy ‘n plek gekry om haar misbol in te grawe sodat die eier wat sy daarin gelê het veilig is. Sy het ook die mannetjie wat gratis wou saamry op die einde afgesmyt. Daar was tot ‘n ander miskruier wat haar bol wou oorneem. Gelukkig was sy die sterker een.
Dan kom giftige rooimiere aan die beurt wat hul nes verskuif na ‘n ander plek nadat die tak waarin hul nes was afgeruk is deur ‘n olifant. Hierdie rooimiere byt eers die vel oop van mens of dier, en spuit dan ‘n giftige stof in stukkende plekkie. Die gif word uit die stertpunt gesproei. Dit brand soos vuur. Van die miere het in een van die olifante se slurp geklim en hom vreeslik laat nies van die pyn.
Ek weet van balbyters wat mens seer byt as hul jou aanval, of eintlik as mens hul pad kruis.
Dit was regtig ‘n lekker leersame kyk gewees.
So teen vyfuur raak ons ongeduldig dat Pappa, Mamma en Amelia huistoe moet kom. Ons speel met Lucky en sy seekat speelding. Hy is te kostelik. Lucky hop en gallop op en af met speelding in sy bek. Hy skud, skud sy kop dat mens net seekat bene, en Lucky ore en bene, sien swaai. Hy bring dit vir my om te gooi. Ek gooi die seekat, en hy steek vas bo in die boom. Beatrix wil opsluit in die boom klim om dit uit te haal.
“Ouma, help my asseblief, ek kom nie op die tak nie.”
“Beatrix, ek kan jou nie inhelp of uithelp nie. Jy is te swaar vir my.”
Beatrix toets die boom. Die takke is egter net te hoog dat sy haarself kan ophys. Sy is heel ongeduldig omdat sy dit nie regkry nie. Die warmte en moegheid is besig om my in te haal.
Uiteindelik daag Mamma, net na half ses, op. Nou kan ek darem vir my aandete gaan koop.
Ek sit rustig in my motor, onder ‘n koelte boom, met alle vensters oop en eet my ‘Serious Angus Burger meal’ en drink my, yammy lekker, sjokolade melkskommel. Ek’t spesiaal nie vanoggend een gedrink nie want ek het geweet ek gaan vanaand uit eet.
Dit was ‘n lang en warm dag maar steeds heerlik om saam met Beatrix deur te bring.
Ek is dankbaar vir elke oomblik wat ons twee met mekaar kan deel.

Dit wys hoe droog dit is.
Lewer kommentaar op Una se gedagtes Kanselleer antwoord