Melkskommels 14/01/2025

Dis vakansietyd. Die skole, hier in New Zealand, het 17 Desember 2024 amptelik gesluit. 

Dinsdag 14 Januarie werk Pappa en Mamma albei uithuisig. Ouma is gereed om Beatrix vir die dag op te pas. Sy gaan huis in om te kyk of Pappa en Amelia reg is om kleuterskool toe te gaan. Al drie, Pappa, Amelia en Beatrix is in die badkamer. Pappa help Amelia om haar tande te borsel. Dit gaan met ‘n gesputter en -patter omdat Pappa wil borsel en klaarkry terwyl Amelia nie regtig wil borsel nie. Beatrix word ook in tussentyd aangemoedig om tande klaar te borsel. 

Ouma loer om die deur na die petalje. Sy kom met ‘n goeie plan voren dag. 

“Amelia as jy nou vinnig klaarmaak sodat Pappa jou kan kleuterskool toe vat en werk toe kan gaan, gaan ek jou vanmiddag kom haal dan kry ons ‘n lekker melkskommel. Wat dink jy daarvan?”

“Yay, jaaaaa!”

“Kom dan kry ons jou kouse en trui en jy is tjoef tjaf klaar nog voordat Pappa sy skoene kan aantrek.” So gesê so gedaan. Pappa is nog nie by skoene aantrek, toe is Amelia reg vir ry.

Weg is die twee. Ouma en Beatrix het vir Pappa-hulle die hek oop en toe gemaak.

Die oggend het goed afgeloop. 

Beatrix kyk TV terwyl Ouma stort en aantrek. Ouma was van plan om dorp toe te gaan om ou klere aan klerebank te gee en sommer bietjie te kyk om klere vir Beatrix te koop. Dit werk toe nie so uit dat hul kon gaan nie. Pappa laat weet dat die batterye vir die son verwarming stelsel afgelewer gaan word. Ouma en Beatrix wag, en wag. Hul gaan na Ouma se studio(kamer). 

Beatrix bly sê: “Ek weet nie.” 

Elke vraag wat Ouma vra word met die drie woorde beantwoord. Ouma sit later met haar hande in die hare om Beatrix aan die gang te kry nie. Sy het ‘n blikkie met nege dobbelsteentjies, elk met vier verskillende prentjies op die steentjies. As mens hom skud en gooi en hy land met prentjie bo moet die prentjie in ‘n sinnetjie gebruik word. Die een wat gooi moet eerste sinnetjie maak en dan volg die volgende een. Ouma en Beatrix geniet hul gate uit om sinne te maak. Op ou end begin Beatrix sommer rympies of liedjies uitdink met woord. Nadat hul ses steentjies gespeel het is beide moeg gedink. Hoeveel is 6×4 nou weer?

Dis tyd vir middagete. Pappa het vir Beatrix die orige macaroni en kaas vir middagete ingesit. Ouma wou eintlik ‘n muffen gaan eet vir middagete wat toe nie uitgewerk het nie. 

“Sal jy, asseblief, jou macaroni en kaas met my deel, Beatrix?”

“Ja, natuurlik Ouma,” antwoord Beatrix. Sy is altyd baie mededeelsaam.

Daar is toe nie te veel macaroni nie en Ouma het maar ‘n snytjie brood ook geëet. Ouma gaan lê en rus ‘n uurtjie op Pappa se bed, terwyl Beatrix TV kyk. Sal die stoute Lucky(die jong hond) halfpad in Ouma se uurtjie vir Ouma ‘n lekker nat snoet in haar gesig kom druk. Ouma was nie baie beïndruk daarmee nie. 

Die batterye ouens daag toe steeds nie op nie. Ouma besluit so half vier om te ry om Amelia te gaan haal. 

By kleuterskool, terwyl Beatrix Amelia buite gaan haal, kom ‘n klein pokkeltjie vinnig nader en gryp Ouma se kierie. 

“Nee, nee Boetie as jy my kierie vat kan ek nie loop nie,” kom dit van Ouma. Die outjie los die kierie en gryp Ouma se hand. Die klein handjie hou so styf vas dat Ouma nie kan loskom nie. Die seuntjie sprak geen sprook, maak geen geluid nie. Hy trek Ouma agter hom aan na waar die baba afdeling is. Die baba afdeling word geskei deur ‘n venster waardeur die groter outjies hul kleiner sussies en boeties kan sien. Met wat die outjie Ouma tot by venster getrek het, waai een van die personeel wat ‘n babatjie in haar arms het vir die klein mannetjie aan Ouma se hand. Hy klou steeds vas en kruip agter Ouma weg. Hy loer net van agter af na die waaiende versorger. Ouma draai om en steeds hou die kind haar vas. Hy wil nie na die versorger gaan wat hom wil weglei nie. Hy loop met spoed en Ouma aan die hand deur toe. Hy word gelukkig afgelei deur Amelia wat by die deur inkom. Steeds bly hy Ouma volg. Ouma, Amelia en Beatrix gaan vinnig by uitgang uit. Sjoe, dit was nou ‘n petalje.

Steeds het die pokkeltjie nie ‘n geluid geuiter nie.

Oppad na McDonalds kom die volgende opdrag van Amelia: “Ek wil ‘n aarbei melkskommel hê asseblief Ouma.” 

“Myne gaan ‘n sjokolade een wees, en Ouma s’n ook,” kom dit vermakerig van Beatrix. Melkskommels gekoop. Ouma ry na haar geliefkoosde eetplek, langs die kant van die uitgebreide sokker/rugbyveld. Die sportvelde is ‘n gewilde plek vir mense wat met hul honde loop. Ouma hou van die veld. Sy verlang nog steeds na Trompie, haar geliefde mini Schnauzers, wat in 2019 na die honde hemel toe is.

Ouma en twee kinders klim opgewonde uit die motor. Beatrix en Amelia gaan sit elk op ‘n ankerpaal van die lae omheining. Dis die heerlikste melkskommels. 

Mense met ‘n groterige bruin hond kom van ver af aangestap. Die hond sien die twee kinders op die reëling. Hy begin op ‘n regte vinnige drafstap nader kom. Al vinniger. Die eienaars roep. Hy luister nie. 

Ouma sê dringend vir Beatrix: “Klim oor, hier na my kant van heining.” Wat sy vinnig doen. 

Amelia het opgestaan en voordat Ouma vir haar kon help om oor te klim was hond ‘n tree of twee van haar af. “Amelia, staan net doodstil en moenie na hond kyk nie,” kom dit saggies, dringende van Ouma. Die hond draf raaklings by Amelia verby en draai om, met neus op die grond beweeg hy weg. Dit was nou ‘n benoude paar oomblikke vir die drie melkskommel drinkers.

Verder het alles goed afgeloop. Beatrix en Amelia het nog ‘n rukkie op ‘n oop hek geklouter. Daar was ‘n massiewe trekker met snyer wat die grasvelde gesny het. Ouma en kinders wag tot trekker deur hek gekom het voordat hul in Ouma se Nissan Leaf, elektriese motor, klim en koers kry huistoe. 

Al drie het die uitstappie gate uit geniet. “Ouma is tops, baie dankie vir die lekker melskommel,” jubel die twee kinders uit volle bors. 


Posted

in

, , ,

by

Tags:

Comments

8 reaksies op “Melkskommels 14/01/2025”

  1. Tannie Frannie Avatar

    O, ek is so bly jy het kom vertel van julle melkskommeldag! Die klein pokkeltjie het vir seker geweet hy het ‘n simpatieke persoon beet 🥰

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Baie bly jy het dit geniet. Ek sukkel myself aan die gang te hou met skryf. Die ou pokkeltjie was te dierbaar. Kon hom sommer opvreet.

      Liked by 2 people

  2. seegogga Avatar

    ‘n Baie innoverende en liefdevolle ouma, en baie gelukkige kleinkinders! Die pokkeltjie moes dit ook aangevoel het.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie seegogga vir jou mooi woorde. dit verbly my hart as die kleintjies so spontaan na mens toe kom.

      Like

  3. Lekkervurigeaffêre Avatar

    Kosbare oomblikke wat net oumas en hulle klein krose ervaar. Jy is ‘n top ouma.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie Erna, dit is beslis kosbare oomblikke.

      Liked by 1 person

  4. Una se gedagtes Avatar
    Una se gedagtes

    Ouma, jy is ñ wenner! Ek het in my verbeelding saam gaan melkskommels drink.🌺

    Liked by 1 person

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie Una, bly jy kon saam gaan melkskommels drink.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Tannie Frannie Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.