24 uur in my lewe met Parkinson se siekte.
Die medikasie help beslis om verligting te gee. Ek dank die Here vir elke oomblik dat ek steeds myself kan help en versorg.
Dis tien uur Vrydag oggend 2 Augustus. My liggaam word aangehelp om te fuksioneer deur medikasie wat ek vierkeer per dag drink.
Die vier en twintig uur wat ek gaan beskryf begin (gister) Donderdag 1 Augustus.
Tien uur se kant is ek gestort en aangetrek. Sewe uur het ek my eerste kapsule vir die dag gedrink. Dit neem nogal ‘n tyd om in te skop. Na ontbyt en stort sit ek rustig en lees my e-posse. Ook beplan ek rustig wat ek die dag kan of gaan doen.
Donderdae gaan ek meestal ‘n bietjie dorp toe. Gelukkig kan ek nog my motor bestuur.
Die Mall besoek het interessant verloop.
Hoekom ek Mall toe gegaan het was om twee kaartjies te pos. Ek behoort aan ‘n groepie dames op WhatsApp wat waterverf doen. Ons stuur ook vir mekaar kaartjies wat ons self geverf het. Ek het reeds twee se kaartjies gekry. Dit is dus my beurt om terug te stuur.
Toe kom ek by ons ‘post shop’ en daar is dit toe gesluit. Ai toggie, wat nou gemaak? Ek het reeds al te lank gedraai om dit te stuur en nou is daar nog oppendhoud. Sug, mens kan ook nie wen nie. Later die middag lees ek op FB dat die post shop na ‘n ander plek geskuif het.
Ek loop toe maar bietjie in die winkels. In ‘The Warehouse’ gesels ek toe lekker met ‘n vrou wat by die kleinkinders se kleuterskool gewerk het. Sy is nou met pensioen en het tyd vir haar eie. In die tussentyd stap die tyd aan.
Elfuur is dit tyd vir my tweede kapsule. ‘Muffin Break’ is die volgende stop. My foon sê dis wraggies al twaalfuur. Ek sluk gou my kapsule weg met my koppie tee. Dis belangrik om die medikasie op dieselfde tyd te drink elke dag voordat die vorige medikasie uitgewerk het. Gelukkig werk dit soos ‘n bom na so ‘n halfuurtjie. My liggaam werk goed saam omdat die opdrag wat my brein na spiere stuur by my spiere uitkom. As dit te laat gedrink word is daar ‘n tydperk dat die inligting nie by spiere uitkom nie. Dit veroorsaak dat mens maklik val en ook slegter beweeg en reageer.
My middagete is ‘n spinasie en fetakaas muffin en twee koppies tee. By die huis gekom is dit tyd vir my ‘nanny nap’ wat aangemoedig word omdat die slaap en rus baie nodig vir die brein.
Drie-uur en dan sewe-uur saans is dit weer medisyne tyd. Die oggend van elf uur tot slaaptyd teen tien uur is my beste tyd.
Gelukkig raak ek maklik en gou aan die slaap. Ek lees meestal so halfuurtjie voor ek my lig afskakel.
Nou begin die swaarste deel van my vier-en-twintig uur. Tot so een uur slaap ek vas. Die medikasie het uitgewerk. Dis ‘off’ tyd soos die mense dit noem. My blaas maak my wakker. Na my opstaan raak ek weer so half en half aan die slaap. My lae-rug spiere trek saam. Dit pyn. Ek draai half op my rug wat nie regtig help nie. Drie uur se kant kan ek dit nie meer hou nie. Ek het ‘n pil wat ek in water oplos sodat dit vinnig opgeneem kan word deur my maag. Nou raak ek weer rustiger. Ek raak nie regtig aan die slaap nie. Dis hierdie tyd van die oggend dat drome by my verby skiet. Dis deel van PD dat daar gedroom word, gepraat word en ook arms geswaai word. As jy natuurlik ‘n bedmaat het kry hy/sy gereeld klappe of stampe. Gelukkig is ek op my eie.
Sewe uur se kant drink ek my eerste kapsule vir die dag. Daarna word dit gelukkig net beter en beter vir die dag. Die tydperk van 1 uur soggens tot so 10 uur se kant is die swaarste tyd. Ek voel net nie myself nie. My asemhaling is vlak. My bewegings is stadig. Omdat ek die badkamer met kinders deel maak dat ek baie angstig raak. Die lawaai, heen en weer beweeg van kinders wat klaarmaak vir skool is glad nie die lekkerste om ‘n dag te begin nie.
Die belangrike van die behandeling van PD is om kalm te bly. Konsentreer op asemhaal. Beweeg rustig, en met tyd kom alles weer in beweging. Dink ook aan lekker dinge waarvan ek hou en verban negatiewe gedagtes.
Positiewe denke is baie belangrik. Die medikasie is belangrik om die brein te help om weer sy werk vir die dag te kan doen.
Lewer kommentaar op angelswhisper2011 Kanselleer antwoord