Scrapy se Dinsdag 6/02/2024
Scrapy se Dinsdag program.
Opstaan, ontbyt, stort en aantrek.
Besoek Jan haar beste vriendin met Alzheimer.
Middag slapie.
Meestal Beatrix gaan haal by skool.
Middag saam met Beatrix
Aandete, TV, lees voor sy haar lig afskakel,
Slaap.
Dinsdag die 6de Februarie is ‘n vakansiedag. Dis Waitangi dag
https://en.wikipedia.org/wiki/Waitangi_Day
Scrapy het steeds haar Dinsdag oggend roetine gedoen. Net na 10am klim sy in haar silver Toyota Vitz(made in Japan) en ry rustig heuwels op en weer af. Sy geniet die omgewing elke keer as sy so op haar eie ry. Die pad is baie stil omdat daar geen kinders is wat skooltoe geneem word of mense wat gaan werk nie.
Net voor sy Upper Hutt inkom draai sy links, oppad na Silverstream waar haar vriendin bly. Die pad is ‘n sogenaamde agter pad waar daar 80 km per uur gery kon word. Nou is dit vol gebou met nuwe goedkoper huis aan regterkant van pad. Daar verrys nou nog ‘n uitbreiding aan die linkerkant ook. Die spoed is verlaag na 50 km per uur. Dis amper nie die moeite werd vir Scrapy om daarlangs te ry nie omdat sy nou stadiger moet ry. Gelukkig het sy die tyd vir haarself, sy moet net vroëer van die huis ry om half elf by haar vriendin te wees.
Scrapy lui die voordeurklokkie, klop en maak die deur oop. Die twee ou mense, dis Jan en haar man Jack wat reeds 90 is, sit al in die sitkamer en wag vir haar.
Jack wag meestal tot Scrapy daar is voordat hy uitgaan om ‘n ent te gaan stap, winkels toe te gaan of die motor te laat nagaan.
Scrapy groet en vra: “Hoekom is jou een ooglid blou?”
Jan: “Ek weet nie.” Jack het dit nie opgelet nie.
Jack is toe uit vir sy lopie.
“Wat gaan jy drink, Jan?” vra Scrapy.
“Ek wil niks drink nie.” kom die antwoord met nadruk op die NIKS.
Scrapy maak vir haar ‘n koppie tee en bring vir Jan ‘n glas water.
“Ek het klaar gedrink,” kom dit van Jan wat gladnie wil drink nie. Scrapy los dit toe maar.
Sy weet dis belangrik vir Jan om genoeg te drink en weet ook dat Jan so steeks soos ‘n donkie is om iets te drink, veral omdat dit nie koffie is nie wat sy gladnie meer mag drink nie.
Scrapy voel vir haar vriendin. Die twee praat nie baie nie. Scrapy het haar dagboek met verfwerk saamgebring. Jan bekyk elke verfstuk. Elke woord wat by verskillende items geskryf het kom die kommentaar van Jan:”Daar is ‘n letter weggelaat uit “tomato”.
Sy spel dit weer en het vergeet dat daar ‘n letter weg is. So verloop die gesprek. Sy wissel sommer van een onderwerp na ‘n ander in dieselfde sin. Twaalf uur ry Scrapy weer terug huistoe. Eet haar middagete wat bestaan uit ‘rice crispies’ met melk en ‘blue berries’. Sy doen haar middag rus. Dis snik heet buite. Die waaier waai met volle krag in haar kamer.
Die middag verloop verder rustig. Scrapy is besig om ‘n trui vir Beatrix te brei. Sy lees die aanwysings hoe om blaartjies te brei. Eerste ry tel sy verkeerd. Trek uit en probeer weer. Volgende drie rye is toe reg. Toe kom die volgende ry wat Scrapy ore aansit met die – haal twee steke oor na regterkant, haal een steek af van linkerkant, skuif twee van regterkant terug op linkerkant brei die twee steke, brei dan die steek wat afgehaal is. Scrapy sweet en swets in haar binneste. Hele ry voltooi. Volgende ry is dit nog ‘n oorhaal en afhaal. Nee wat, na die ry nog nie eers halfpad was nie trek Scrapy die hele spul uit. Sy gaan nie verder sukkel met verkeerde breiwerk nie. Sy besluit om net eenvoudig strepe te brei met verskillende kleure.
Dis toe slaaptyd. Scrapy gaan net na nege huis in om badkamer te gebruik en nag te sê.
Terwyl Scrapy haar klaarmaak om in die bed te klim hoor sy dat Bruce, die mannetjie eend, aanhoudend loop en blaas. Sy gryp haar flits om ondersoek in te stel. Dis al sterk skemer buite. Bruce staan en blaas by hek. Sy harem drom in ‘n bondel saam langs die heining. Scrapy skyn met flits, en sien dat die ses skape in die hoenderkampie is. Twee is besig om te wei op die plek waar Bruce en sy vroue slaap. Dis hoekom die ou kêrel so kwaai is. Toe Scrapy met flits op skape skyn, storm Bruce op die twee skape af. Die twee skape dink toe nie dis ‘n grap nie en laat wiel by die hek uit met Bruce al blasende agterna. Bruce het die ander ook gestorm terwyl Scrapy geskyn het met haar flits. Al die skape is toe uit die hoenderkampie. Bruce en sy meisies is weer tevrede.
Scrapy het ook ingegaan in haar kamer en rustig nog so ‘n stuk gelê en lees. Heerlik ook aan die slaap geraak.
Lewer kommentaar