Nog ‘n verrassing tref ons ‘n paar dae later na die drie eendjies se aankoms. By Gesê die drie eendjies het toe na drie dae nie oorleef nie. Eende is regtig onbeholpe as dit by hul nuwelinge kom. Hul het geen meganisme om klein eendjies te beskerm nie.
Hierdie gaan egter nie oor eendjies nie maar oor hoender kuikentjies. Een van die kapok hennetjies het skelm weggelê en ewe trots een oggend met agt klein bondeltjies donsies tevoorskyn gekom. Te dierbaar. Piepklein en verskillende kleure. Dis beslis nie als die rooi hennetjie se kinders nie. Dis van ‘n geeletjie, rooibruin(soos mamma) tot ‘n pikswartetjie ook. Die ma is baie trots op haar kroos. Dit kloek en skrop en kloek weer as sy iets uitkrap.
Die outjies is darem nou meer as ‘n week oud en is dubbeld hul grootte maar steeds baie klein.
Sondag het Mamma, Beatrix en Amelia by ander ouma en oupa gaan kuier.
Toe hul so na vyf die middag terugkom word hul deur al wat ‘n hoender is by die motor begroet. Mamma en kinders is meestal die kos geeërs. Toe kiepe die mensestemme hoor storm hul uit alle hoeke nader.
Mamma en kinders het almal kos gegee. Dis nou hoenders, kuikentjies, eende, twee skaaplammers en twee kalwers wat alger hier agter my kamer bly. Amelia het in die kampie agter gebly waar hoenders eet. Ek het in tussentyd my aandete warm gemaak en na my buite tafeltjie geneem om buite te eet. Klaar geëet, staan ek op om my skottelgoed huistoe te vat.
Daar is ‘n geklingel van hoenderkamp se hekkie se ketting en Amelia gesels. Eintlik het ek nie besef sy was op haar eie by hoenders nie. Voordat ek nog kon gaan kyk wat aangaan kom Amelia met een van die klein kuikentjies om die hoek.
“Amelia hoekom hou jy die kuikentjie aan sy beentjies vas? Jy moet hom mooi in altwee handjies versigtig teen jou vashou.”
Ek was half geskok toe ek die kuikentjie al swaaiende in Amelia se handjie sien. Sy hou hom ewe triomfantlik aan sy twee beentjies vas. Koppie onderstebo en glad nie baie lewendig nie. Sy kon nie die hekkie oopkry met kuiken in haar hande nie, dis hoekom sy hom aan sy bene vasgehou het. Gelukkig het sy dadelik die kuikentjie versigtig in beide handjies gevat en teen haar lyf gehou. Arme kiepie het van ellende sy ogies toegemaak en tjoepstil gesit. Pappa het uit gekom om te sien wat aangaan. Hy het Amelia teruggevat na die Mamma hen toe. Die outjie het darem oorleef al het Amelia hom goed beet gehad. Pappa vertel later dat Amelia die kuikentjie wou laat drink om hom beter te laat voel. Sommer die koppie, pardoems, in die water gedruk. Pappa ook nie links nie: “Kom Amelia laat ek jou kop ook in die water druk. Mens moet saggies werk met kuikentjie.” Amelia het nie regtig daarvan gehou nie. Daardie kinderhandjies besef nie dat hul so hard vat nie.
So leer die kindertjies stelselmatig om die lewe te hanteer.
Lewer kommentaar op Una se gedagtes Kanselleer antwoord