Nog eendjies.

Woensdag is my alleen tuis dae. Almal is by die werk of in die skool. Ek begin na ek gestort het om eerste bondel wasgoed in masjien te sit. Meestal laai ek ook die skottelgoedwasser. Terwyl die wassery besig is bestudeer ek al my e-posse om te sien wat almal doen. 

Woensdag was dit weer so dat daar drama plaasgevind het (net omdat ek alleen by die huis is, voel dit vir my). Dinge vind gereeld plaas as ek op my eie hier is.

Ek het my koppie tee gemaak en staan en uitkyk by my venster. As ek skuins na regs kyk kan ek net ‘n klein stukkie van hoenderkampie se hek sien.

“Mmmmm, wat sou dit wees?? Dis een van die drie wit Muscovy eende. Mmmm, nee man dit kannie wees nie! Drie klein geel bondeltjies? Ongelooflik!” 

Ek kan my oë nie glo nie. Soetjies gaan ek buite toe om te kyk of ek Mamma eend en drie eendjies in die hoenderkampie kan inlok vir veiligheid. Daar is baie gevare in die omgewing. Ten eerste is daar gereeld valke wat oorvlieg en duik. Gelukkig laat die kapokhennetjies nie toe dat ‘n valk naby hul kuikens kom nie. Eende is anders, hul het geen meganisme om hul kleintjies te beskerm teen gevaar nie. Tweede gevaar is die twee kalwers wat sommer bo-oor hul sal hardloop sonder om te blik of te bloos. Dan is daar nog die jaloerse eende wat nog nie eendjies het nie wat die kleintjies wil bykom.

Toe ek by hekkie kom en dit oopmaak sodat Ma eend kan inkom besluit sy om om te draai en heeltemaal weg te beweeg na ‘n ander kamp.

Hoe nou gemaak? Die gras is so lank dat mens net elke nou en dan ‘n geel bondeltjie oor ‘n hoë pol sien skarrel en dan weer verdwyn. Ek besluit toe om om te loop na ander weikamp om ma-eend en kleintjie versigtig terug te jaag. Eers my modderskoene aantrek, hoed opsit, my kierie om my te ondersteun in een hand en ‘n spesiale stok om beeste en skape mee aan te jaag in ander hand.

Versigtig bekruip ek half die spulletjie. Hul beweeg toe weer terug na die hoendekampie se hek toe. Nou moet jul weet, ek kan nie by die volgende hek ingaan nie want dan sien kalwers my en gaan hul my kom groet. En hul is twee wilde kallers! Ek draai om en gaan terug na hek waar ek ingekom het, om die huis na hoenderkamp. Sug, nou waar het die ma nou weer heen verdwyn. 

“Aha, daar gaan sy, heeltemaal weg van hoenderkampie af. Ek sal nou stilletjies by die kalwerkamp se hek moet ingaan sodat hul my nie sien.” Hul lê gelukkig buite sig en herkou.

By die hek in en nou moet ek die eend laat omdraai. Eers vlieg al die wilde eende weg uit my pad uit. Ma eend draai gelukkig om. Bruce die kwaai mannetjie eend het my ook nie raakgesien. Hy is ook ‘n woestaard as dit kom om sy ‘girls’ te beskerm.

Voetjie vir voetjie jaag ek mamma-eend vorentoe. Elke tweede tree moet ek en Mamma eers wag dat die drieling by Mamma kom. By die hek wou Mamma eers wegdraai, gelukkig het sy gesien dat sy by hekkie kan ingaan.

Ai toggie, die drie eendjies is te klein om oor ‘n plankie wat onder hek is te kom. Eerste outjie val telkens terug. Tweede outjie is slimmer, hy spring op, haak bekkie oor plankie en trap met voetjies vas teen plankie en woeps is hy oor. Ander twee sien toe wat hul moet doen en volg een, twee, drie, blitsig agterna. Ek maak gou hekkie agter hulle en  my toe, en is in my skik met die uitkoms van die petalje. 

My kinders kon nie glo, soos ek ook, dat daar wraggies drie eendjies is nie. Piepklein en op en wakker. Die eende maak nie regtig geluide nie. Mamma ‘ugh ugh’ net so bietjie en waai haar stertvere om hul aandag te trek. Die eendjies piep darem sodat Mamma kan hoor waar hul is.

Dit dan ‘n opvolg van eende kaskenades. 

Nog was dit het einde niet. Toe ek, na skool, vir Beatrix eendjies wou wys was hul weg. Dit was nou ‘n teleurstelling. Ons kon hul nêrens kry nie. 

Eind goed alles goed. 

Mamma het deur ‘n gat in heining geklim en weer terug na haar nes toe geskarrel sonder dat kalwers hul bygekom het. Sy het met kosgee tyd die namiddag weer teruggekom na hoenderkampie en is nou hopenlik veilig daar tot tyd en wyl hul groter is.

https://en.wikipedia.org/wiki/Muscovy_duck


Posted

in

, ,

by

Tags:

Comments

9 responses to “Nog eendjies.”

  1. Aletta - nowathome Avatar

    Klein eendjies is darem maar so pragtig. Hulle het jou omtrent besig gehou.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Hul is te dierbaar maar aan die anderkant hulpeloos. Geen wonder so min oorleef werklik.

      Like

  2. Tannie Frannie Avatar

    Jy is ‘n ware beskermengel!

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie Frannie, dit vat aan my lyf om so te moet uitsorteer.

      Liked by 1 person

  3. rondomtaliedraai Avatar

    Flukse Ouma Boervrou van formaat ❤

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Haha, ouderdom maak my net nie meer so aktief en vinnig nie.

      Like

  4. Una se gedagtes Avatar
    Una se gedagtes

    Jy voer mens heerlik saam met jou mee met jou vertellings, Scrapy. Die kleintjies is alte pragtig, en ja, jy is ñ flukse boervrou, jong.

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie Una bly jy geniet dit. Die drietjies het net drie dae toe is hul dood gepik/gebyt. Eende het mos geen moederinstink om eendjies te beskerm nie.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.