Twee heerlike dae saam 30/01/2025

Parkinson D skop weer hard die afgelope week.

My gedagtes het weer oortyd gewerk van voor die naweek af(dis nou Donderdag oggend). 4 Februarie, 10 uur,  het ek weer na ses maande ‘n afspraak met my spesialis by die hospitaal. Ek skryf al die dinge oor hoe ek voel en ondervind neer om terugvoer te kan gee. 

Die afgelope meer as week draai my gedagtes rond. 

My nuwe elektriese motor bekommer my half. Die battery is nie groot nie. Volgens Bertus kan ek dit, heen en weer ry, op een lading doen maar…

Om veilig te wees

 moet ek liewer die binnestrate ry sodat ek stadiger kan ry om krag te spaar. Gewoonlik het ek snelweg gery teen 100 km p u, wat vir my ongeveer ‘n halfuur (19 km van my af met snelweg) vat om by hospitaal te kom. Ook weer ‘n half uur terug. As ek nou binne langs ry, ry ek meer 50 km p u en tussendeur stukke van 80 km p u. Ek sal dus vroeër van die huis moet ry. Ook is dit ‘n vreemde pad wat ek gaan ry. Ek weet ek sal dit kan doen maar steeds wen dit my op om so te wonder of ek dit of dat sal doen. Daar is darem in Lower Hutt, oppad terug, ‘n plek waar ek die battery kan laai. 

My rugspiere is elke oggend stokstyf getrek. Gelukkig drink ek vroeg my eerste medikasie (dis nou die pil wat tussenin gedrink kan word as ek vroeër simtome het). Dit kalmeer die styfheid tot ek 6:30am begin om my vier uurlikse medikasie vir die dag te drink. 

Ek besef dat ek my gedagtes op lekker dinge moet fokus om myself te kalmeer. Aangesien ek ‘n roetine persoon is raak my gedagtes ook heel omgekrap. Die emosie swaaie gee Parkinson natuurlik kans om ekstra ongeskik met my liggaam te werk.

Op ‘n ligter noot…

Die afgelope twee dae was ek en Beatrix weer heel bedrywig.

Dinsdag het die posman laat weet hy gaan my pakkie van die kunswinkel aflaai.

“Beatrix, my pakkie het gekom!” Opgewonde bring sy die pakkie in. Ek laat haar die pakkie oopmaak terwyl ek vir my ‘n koppie tee maak. 

“Wat is in die pakkie?” vra ek opgewonde uit die kombuis.

“‘n Lang ding en klein boekie met twee groot goete.” kom dit van Beatrix.

“Nee man, is jy seker dis net twee? Ek het vyf bestel,” antwoord ek.

Nou ja, toe ek gaan kyk was dit nie my bestelling. Geen wonder Beatrix kon nie 5 goed(verfhouers) kry nie. Ek bel die winkel en hul vra dat ek die pakkie terug stuur. Hul sal die regte bestelling vir my stuur.

Sug, wat ‘n teleurstelling.

“Kom ons gaan snoei die rankplant by die hek. Ek kan nie sien of daar verkeer aankom  as ek wil ry nie.”

Beatrix vat die groot snoeiskêr waarmee mens takke afsny. Ek wys waar sy moet knip. Sy laat waai met die afknip. Tussendeur moet ek telkens oppas om nie ook gesnoei te word nie. Die afgesnyde ranke is ook kleiner gesny.

“Ek’s nou moeg Ouma. Dis harde werk.”

Ons gaan drink ‘n koeldrankie en eet appelkose. Of te wel Beatrix eet haar ‘morning tea’ soos hul pouse noem. ‘Lunch’ is middagete wat hul by skool doen tussen 1 en 2 uur.

Na middagete kyk Beatrix TV terwyl ek my Nanny nap neem.

Die middag bring ek my waterverf in huistoe. Ek begin om sommer uit my kop te verf. Gras en twee groot bome, met rooi en pers blomme tussen die gras. “Ouma, ek gaan pienk blomme in die boom verf.” Wat sy toe ook doen. Sy verf die blomme wat ek geverf het se hartjies geel en gee elkeen ‘n steeltjie met ‘n blaar aan. Daar is genoeg spasie onder die bome en gras om ‘n hele dam water te verf. Beatrix het regtig die water mooi geverf en ook tussen water en gras ‘n grond wal geverf. Toe is dit Beatrix se beurt om haar eie landskap te verf. Sy het eendjies in die water laat swem. Mamma eend, het op die rand van die poel gestaan terwyl Pappa eend, wegvlieg huistoe. Daar is tot ‘n voëlnessie met drie klein voëltjies in die mik van die boom. Bekkies wyd oop wagtende vir ‘n lekker wurmpie.

 Dinsdag was ‘n heerlike dag so saam gewees. 

Woensdag moes ek weer na Beatrix omsien. 

Ek sê vir Pappa: “Moenie bekommer oor middagete nie. Ek gaan Beatrix uitneem vir ‘n Muffin en melkskommel.”

“Dankie Ouma, ek waardeer dit baie.” kom dit van Pappa. Pappa en Amelia is weg en ek stort gou. In die tussentyd het ek die verkeerde pakkie reg gesit vir NZ Post om dit op te laai.  Met wat ek uitgaan na stort,  om my klere na my kamer te vat, kom die posman met my nuwe pakkie. Ek verduidelik aan hom van die verkeerde pakkie. Die ekstra terugstuur plakker is toe in my nuwe pakkie. Posman plak dit op die verkeerde pakkie. Hy skandeer die kode en die pakkie is oppad terug na die winkel. Dis nou vir jou samewerking en goeie diens van ‘n ander wêreld gewees.

Ons pak die pakkie uit. Daar is vyf waterverf pallette, waterverfbuisies met verskillende kleure, en twee waterverfblokke papier. Die kunsklas se vier meisies begin die jaar om op waterverfpapier te verf.

Beatrix sit en teken. Sy het mannetjies gemaak wat hande vashou. Dit gee my die idee om, soos wat ons in die ou dae gedoen het, papier konsertina te vou en dan ‘n string van vier harte of mannetjies aanmekaar uit te sny. Beatrix teken gesigte, t-hemde en broeke vir elke een. Nommer een is ‘n seun, tweede ‘n meisie, derde weer ‘n seun en vierde ‘n meisie.

Teen elf uur is ons reg om na Muffin Break te gaan vir ‘n muffin en iets te drinke. Hierdie keer besluit ek om ook ‘n melkskommel te kry. Dit was nou ‘n teleurstelling want daar was meer ys en water in die skommel as roomys en melk. Ons gaan toe na Linkcraft ‘n Australiese materiaal en kuns winkel. Beatrix kon vir haar iets uitkies waarvan sy hou.

Sy bly vir my sê: “Ouma, die goed is te duur.” 

“Beatrix, moenie bekommer nie. Ek het nog nie ‘n verjaarsdag geskenk vir jou gekoop nie. Kies wat jy graag wil hê.” Sy kies toe ‘n lego stel(wat nie regte lego is nie). Baie in haar skik is ons huistoe. Beatrix het dadelik begin om die projek aanmekaar te sit. Sy is reeds goed gekonfyt om die goed te bou. Eks baie trots omdat sy so vaardig is met haar hande.

Vandag, Donderdag, was dit Amelia se beurt om saam met Ouma te gaan. Sy het ‘n warm sjokolade gekry met ‘n sjokolade muffin waarvan sy net een hap gegee het. Dit was geheel en al te soet vir haar gewees. 

Ons het darem vir haar ook‘n lego pak gekoop. Sy is nog te klein om dit regtig self te doen maar sy wou dit gehad het. Mamma het begin om haar te help om dit te bou.

Ek het nog nie klaar gerus nie toe is Amelia hier by my in die kamer. Sy sit op my bed en speel met al die hout plaasdiere wat hier by my is. Na ‘n rukkie is sy moeg gespeel. Ons speel toe kaart. Die kaarte het getalle op en ook kaarte met die getal in prentjies wat sy tel en by regte nommer sit. Beatrix kom terug na haar speel oggend en Amelia is huistoe. Sy en Beatrix sit heerlik aan tafel en speel.

Al was dit ‘n trietsige reënerige dag buite was dit tog baie belonend gewees vir my en Amelia om so ‘n lekker Ouma, Amelia oggend te hê.


Posted

in

, , , ,

by

Tags:

Comments

17 reaksies op “Twee heerlike dae saam 30/01/2025”

  1.  Avatar
    Anoniem

    Aha nou is ek weer ‘n slag in my blog

    Liked by 1 person

  2. Tannie Frannie Avatar

    Ek kuier te lekker saam met jou en jou kleindogters!

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Bly jy geniet dit Frannie. Hul is twee liewe kindertjies elk met hul eie karakters.

      Liked by 1 person

  3. Lekkervurigeaffêre Avatar

    Jou kleindogters het ‘n oulike ouma.

    Liked by 1 person

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie Erna, eks mal oor beide van hulle.

      Liked by 1 person

  4. Aletta - nowathome Avatar

    Dit klink lekker Ineke! Dis wonderlik dat jy kwaliteit tyd met hulle kan hê.

    Liked by 1 person

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dis heerlik, Aletta so saam met hulle. Eks dankbaar dat ek die geleentheid het om nog saam met hulle te uitgaan.

      Liked by 1 person

      1. Aletta - nowathome Avatar

        Ek mis daardie soort interaksie met my kleindogter. Ons kuier maar net op die foon.😔

        Like

        1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

          Ek glo jou goed. Ek wil nie eers daaraan dink dat ek nog in SA is en nie hier by hulle nie.

          Liked by 1 person

    2.  Avatar
      Anoniem

      ek sal graag jou en Beatrix se kunspoging wil sien

      Liked by 1 person

      1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

        Jong dis ‘n teer puntjie hierdie wysery. Meeste van die tyd is ek so moeg na die uur se klas dat ek vergeet om ‘n foto te neem. Aan einde v klas is die vier skoon uit hul kassies as dit by lawaai en speel kom.

        Like

  5. Una se gedagtes Avatar
    Una se gedagtes

    Ek sê weer, jy is ñ wonderlike ouma, Scrapy. Ek is so jammer om te hoor die Parkinsons maak bietjie moeilikheid.💝

    Like

    1. scrapydo2.wordpress.com Avatar

      Dankie Una, ek probeer maar allerhande dinge. PD is maar ‘n boelie.

      Like

  6. Dr Christa van Staden Avatar

    Ag lekker, Scrapy! Hoe gaan dit?

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Tannie Frannie Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.