Daisy is ‘n soort van Jersey koei wat langs ons bly. Die varkhok, inrypad en huis van bure is tussen ons plek en Daisy se kraamkamp. Sy het sommer skielik eendag daar opgedaag. Die buurman of eienaar van Daisy het nie besef sy is met kalf nie.
Dit daar gelaat. Na so twee maande van Daisy se verblyf in die kamp besluit kalfie om in die donker aan te kom. Ons het gehoor ‘n koei wat bulk na agt die aand. Mens kon egter die middag al sien dat Daisy in kraam was. Sy het gesukkel. Buurman het met flitslig gaan kyk maar kon eers nie die kalfie vind nie.
Die volgende oggend hoor skoondogter dat Daisy toe gekalf het. Kalfie is vir eerste paar dae mooi versteek. Daisy is n baie liefdevolle koei. Sy sorg dat die kalfie gereeld haar melkies drink. Dis n pragtige verskalf met half krullerige donker bruin hare. Sy lyk meer soos die pa wat ‘n Skotse Hoogland bul is.(Sien ook aanhangsel onderaan)

‘n Paar weke na die geboorte van Daisy se kalf is daar nog ‘n koei in die kraamkamp. Hierdie keer een van die Skotse Hoogland koeie. Volgens oorlewering was buurman weer nie bewus daarvan dat sy moes kalf nie. Sy het ‘n paar weke daar gewei en rond gehang. Een middag toe ek vir Beatrix by skool gaan haal sien ek die koei staan met ‘n nat agterkant en druk. Tien minute later toe ek en Bea verby loop was kalfie daar. Dit was ‘n vinnige kalwery gewees. Sy het ook eers die kalfie weggesteek vir ‘n dag of wat. (Ek kan nie onthou of dit ‘n bulletjie of versie is nie) Die ma is nie so ‘n goeie ma soos Daisy nie. Sy is nie veel gepla nie. Die kalfie het van begin af sy eie man/vrou moes staan om betyds iets te drinke te kry. Gelukkig is dit die mooiste donkerbruin wollerige kalf. Op en wakker, kleine stouter. Namiddae as dit bietjie koeler was het hy gekke haluurtjies gehad. Ek en Amelia loop naweke tot by skool en terug om tyd te verwyl terwyl aandete gemaak word. Ons loop dan verby die kraamkamp. Die middag was die kalfie skoon uit sy vel uit. Op nog wankelende onseker bene huppel, spring en hol hy/sy draaie al om die ma. Daisy en haar kalf het later kom kyk wat aangaan met die stouter. Hul het seker ook maar net die kop geskud en besluit om maar als te ignoreer.
Dit bring my by die buurman self. Hy is ‘n karakter op sy eie. Glo gebore en getoë in Engeland en het as kind hierheen gekom. Terwyl ek en Amelia aankom huistoe staan buurman langs die kraamkamp en verkyk hom ook aan die kalf se mannewalise. Die interessante van als is dat buurman in sy adamsgewaad buite staan en kyk. Volgens oorlewering hou hy daarvan om sonder klere te loop. Hy het glo so opgegroei. (Nou smile ek darem vir die ou man se dinge) Een oggend gaan haal ek pos uit ons posbus wat buite hek langs straat is. Toe ek omdraai om terug huistoe te loop, wat sal ek sien? Twee bleek boudjies en bruingebrande rug vetrolletjies draai toe net terug van sy posbus af. Toe het ek dit self beleef dat hy klereloos rondloop. Die tweede keer was toe hy na kalfie gekyk het.
Tyd van vreemde belewenisse is steeds nog nie vir my verby nie.
Ek hoop jy het saam met my die kaskenades van mens en dier geniet.
Tot volgende keer.
https://www.knapdale.co.nz/lodge-and-estate/highland-cattle/
Laat ‘n boodskap