Wat ‘n Sondagmiddag was dit nie?!
Hierdie jaar het ek nie ingeskryf vir NaNoWriMo, wat ek al vier jaar na mekaar geskryf het nie want ek het ‘n heel ander leefstyl wat ek op die oomblik moet verwerk. Ek het wel ‘n week gelede klaar gemaak met ‘n intensiewe ses weke van skryf. Intensief, omdat dit baie tyd en breinwerk verg om inligting uit jou onthou-boek te haal en dit dan interessant neer te skryf sodat dit leesbaar is; bygesê in Engels nogal. Na die ses weke het ek geheel onttrek van skryf en selfs lees. Vanoggend het ek my neergeplaas op my stoel en besluit om eers te skryf voordat ek enige ander daaglikse werkies doen. Omdat ek ‘n roetine mens is het ek ook besluit na gister se avontuur gaan ek roetine oorboord gooi en sommer net doen waarvoor ek eers lus is voor die daaglikse dinge gedoen word.
Genoeg uitgewei oor my veranderinge, hier kom die regte plaasstorie:
(Ai, nou gaan ek eers ‘n draaitjie loop en ‘n koppie tee maak voordat die reën weer uitsak)
Die afgelope naweek het afgeskop met mamma Stella, en Beatrix wat in ‘n tent op die skool se rugbyveld gaan kamp het vir een nag. Pappa was nie lekker nie en het na Amelia gekyk. Hy was veronderstel om die aand in die tent deur te bring. Saterdag, na 8 kom tweetjies terug. Mamma het sommer eers gaan lê, en heerlik geslaap na die woeste nag. Die namiddag het vriende ‘n draai kom maak en is daar lekker gekuier.
Dis nou ‘n lang storie voordat ek by die regte avontuur uitkom!
Sondag gaan kuier die jong Kruger gesin by Oupa en Ouma Groenewald in Masterton. Die weer is natuurlik trietsig, nat en nie te warm nie. Ek het maar weer my sweetpakbroek uitgegrawe vir ‘n bietjie warmte.
Die laat oggend en vroeg middag het rustig verloop. Dit reën nog die hele tyd. Als is nat. Mollie lê by my op my stoel in my kamer. Vier uur gaan gee ek honde kos. Ek hou sommer my reënjas aan as ek huis ingaan om badkamer te besoek en brakke te voed buite. Met wat ek terug wil gaan na my kamer staan hier ‘n jonge man by die deur.
“Daar’s ‘n skaaplam wat op die teerpad loop. Is dit dalk joune?”
Genade, dit het ek nooit verwag nie.
“Moet seker Bruno, die stoute draadkruiper, wees.”
Bruno druk maklik met sy swaar lyf deur drade na ‘n ander kamp. Gras anderkant die draad is mos, tipies, altyd groener en lekkerder. Die probleem kom in met Bella wat weer, tipies, fyner en meer vroulik is. Sy soek ou Bruno aan haar sy. Sy kan wel deur die draad kruip maar weet nie hoe om weer terug te kom in die kamp waar hul moet wees nie. Bruno verbeel hom hy is die regte aantreklike manlike “dier” tussen al die vroulike diere(Bella ooilam, en drie verse) Bruno ‘like’ die verse meer as vir Bella. Hy klim, meestal, as hy wil herkou terug na sy vriendinne se kant. Bella loop dan al blêrende langs draad op en af op soek na Bruno. Dink jy Bruno antwoord haar geblêr? Not a tiekie, hy’s in die sewende hemel so saam met sy vriendinne. Bella het skoon haar stem Vrydag verloor van die geblêr.
Terug by Bruno en sy draadklimmery. Ek gaan saam met jonge man kyk waar Bruno is. Dit reën en als is nat.
“Ek wou nie hê die lam moet doodgery word nie dis hoekom ek kom hoor het.”
“Baie, baie dankie dat jy kom sê het. Ek trek net gou my buite skoene aan.”
Ons gaan by die tuinhek uit. Bruno staan en kyk ons uit op ‘n afstand. Toe hy my sien hol hy met spoed na my en die hek toe. Onthou dis die hek waar hy in die tuin kan kom!
Hy wil nie hê ek moet hom terug jaag na die kamp waar hy uitgekom het nie. Gelukkig het die jongman na die kamp begin loop. Skielik besluit Bruno dit lyk soos Bertus, my seun, en hy snol met spoed agter hom aan. Bella staan agter hek in die kamp. Bruno weer aan anderkant van hek. Ek bedank die jonge man nog ekstra. Hy wou nog help om lammers verder aan te jaag.
Nou moet ek die twee lammers terug in oorspronklike kamp sit en dan na hul opsluit kampie vir die nag lok.
Die twee is so steeks soos twee donkies. Hul laat hul nie aanjaag nie, hul kom ook nie regtig agter my aan nie. Hoekom nie? Bruno se drie vriendinne staan en bulk in hoek waar twee lammers staan. Gelukkig dink die drie kallers ek bring vir hul kos want dis al etenstyd. Toe ek ingaan by hek kom hul aan gegallop. Met die besluit Bruno en Bella om na hek toe te kom. Ergste van alles was dat, Dot, die grootste kalf my wil rondstoot. Gelukkig lê daar ‘n boomtak wat ek kon optel en haar daarmee wegjaag. Ek laat toe gou twee lammers in.
Nou moet ek verder beplan om die twee lammers in hul slaapkamp te kry.
So eenvoudig is dit nie want eers moet ons deur die tuin gaan, dan by hoenderhek in en sorg dat hoenders nie ontsnap nie. Dan moet hul in hul kampie gelok word.
Ek gaan gee toe eers vir hoenders kos sodat hul weg van die hek is. Toe gaan ek met ‘n bak skaappille om twee lammers te lok.
Nee, dit werk toe nie. Die drie verse staan by hek en wag vir hul kos. Ek sit bak met pille op verste hekpaal. Drie kallers gaan snuif daar. Bella loer vir my om die hoek van hul skuiling. Bruno reageer nie op my roep nie. Gelukkig toe Bella nader kom, kom hy darem ook tevoorskyn. Vinnig laat ek die twee by hek uit na tuin.
‘Free ticket’ vir die twee om tuin te bestorm. Gelukkig het hul nie te ver inbeweeg nie. Ek hou toe hand vol pille voor Bella se neus en Bruno kom kyk ook. Met ‘n spoed het hul ager my aan gekom toe hul dit ruik. Hoenderhek in, hul kamphek in en na voerbak. In die tussentyd is dit so nat by die hek. Sloef-slosh trap ek, vinnig hoendehek toe, en lammer hek ook. Kos ingegooi.
‘Mission accomplished’.
Nou bulk die kalwers. Ek probeer om kinders te bel om te hoor wat moet ek nou verder doen. Moet ek diere kosgee? Daar is nie gesê ek moet hul iets gee of wat ook al nie, voordat hul gery het nie, en dis al na sewe uur in die aand. My telefoon werk toe nie. Geen opvangs! Sug.
Ek het toe maar besluit om vir kalwers ook van lammers se pille te gee want houer met kalf kos was leeg, nog ‘n sug! Wens net dat daar net verduidelik word wat wanneer gedoen moet word. Hier kom ek toe nou met die bak pille in kalwerkamp.
Mmm, nogal moeilik om te loop as drie sulke groot kalwers by die bak in my hande wil uitkom.
“Sjoe, sjoe, nee los my, gee pad,” al die pad tot by voerbak.
Hul is so gulsig hul stoot en druk mekaar weg.
“Nou moet jul dit maar self onder mekaar uitstoei, girls!” Ek het darem gekyk dat elkeen ‘n paar goeie happe in het voordat ek geloop het. En dit sous nog al die pad, als is sopnat.
Dit dan nog ‘n interessante plaas avontuur.
Sodra ek kans kry skryf ek nog ‘n avontuur met lammers en klomp hoenders.


Fotos is meer as ‘n maand terug geneem.
Laat ‘n boodskap