Dis Vrydagoggend. Laaste dag van die Oktober vakansie. Ouma wil ‘n omheining gaan koop om die hoenders en lammers weg te hou van haar paar plantjies wat buite in haar potte probeer om te oorleef. Met die koue sukkel die plante om te groei en tot blom te kom. Kom daar wel blomme het eers die een hoender dit uitgeskrop en nou kom kou die twee skaaplammers ook aan die nuwe blomknoppe. Sug, mens kannie wen nie. Ouma gaan egter nou ‘n plan maak.
“Beatrix, Ouma gaan ‘petshop’ toe. As jy nou aantrek en regmaak kan jy saamgaan. Ons kan sommer ook ‘n roomys gaan eet(wat natuurlik die deurslag was want sy wou nie regtig saam gaan nie).”
Heel opgewonde oor die roomys eet word skoene aangetrek (sy wou haar gumboots aantrek wat Ouma toe nie goedgekeur het nie) en huppel Beatrix motor toe. By die “petshop” klim Beatrix opgewonde uit die motor. Teen die winkel se venster is ‘n groot plakkaat van verskillende diere.
“Ouma there’s a bunny.” Sy kyk net vir die hasie. Ouma, met huppelende Beatrix aan haar hand’ gaan in die winkel.
“Kom ons kyk watter diertjies hul hier het.”
Ongelukkig hou hul nie meer diertjies aan nie want met die Covid epidemie was dit net onmoontlik om diere te onderhou.
“Kyk al die vissies! Ouma kom ons kyk na die vissies.”
“Wow, maar hier is vir jou ‘n mooi verskeidenheid van vissies.” Ouma staan saam met Beatrix in verwondering oor die klomp vissies in die verskillende tenks.
“Beatrix ek gaan solank na ‘n honde kampie kyk. Bly jy by vissies of kom jy saam met my?”
Beatrix gryp Ouma se hand en dartel heen en weer tussen die rakke. Daar is baie katte speelgoedjies.
Ouma kies vir haar die grootste honde kampie wat oor die $200 kos.
“Kom Ouma, kom ons kyk weer na die vissies.” Terwyl Beatrix nog vissies kyk betaal Ouma die kampie en die verkoopsdame help om dit in die motor te sit.
Beatrix kan net nie wegkom van die vissies nie.
“Kom kyk al die goed wat mens in die vistenk kan sit.” Probeer Ouma Beatrix oortuig om te kom dat hul kan ry.
“Ouma, oooo, kyk die mooi pêrelskulp met pêrels in!”
“Wil jy dit vir jou vistenk hê?”
“Ja, ja, asseblief Ouma.”
Ouma betaal vir die skulp en hul sit dit in die motor voordat hul Mall toe gaan om roomys te kry.
Beatrix huppel en spring nog steeds aan Ouma se hand. ‘n Ou oompie langs die pad beduie vir Ouma sy moet saam spring en dans.
Wat ‘n teleurstelling! Die roomysplek is toe.
Ouma wil nog asyn en ‘n spuitbottel gaan koop om die onkruid dood te maak. By die betaalpunt is daar ‘n vrieskas met roomys.
“Ouma, hiers roomys. Ek wil ‘n water ysie hê asseblief.”
Ouma koop vir haarself n sjokolade horinkie roomys terwyl Beatrix ‘n wit water ysie kry.
Die twee kry ‘n bankie om op te sit om eers die roomyse te eet.
“Yummy, lekker, Ouma. Baie dankie.”
Met die terugloop na die motor moet ons nie op lyne trap nie. “Hoekom moet ons nie op lyne trap nie?” kom dit van Beatrix. In die tussentyd spring Beatrix van een donker teël na die volgende een, steeds aan Ouma se hand. Sy maak opgewonde geluide soos sy spring.
Oppad huistoe was Beatrix skoon stil na al die opwinding en rond dartelling wat sy beleef het.

Laat ‘n boodskap