Varkies op hok? Regtig?

Koe-koes! Wie? Ekke? Nou twyfel ek aan my vermoë om waar te neem.
Dit was steeds ‘n mislikke dag van koue, reën en wind wat waai. Die weervoorspelling sê daar gaan sneeu wees tot op seevlak vannag.
Die vrou van die enkelkamer help met tye uit as die eienaars(haar seun en sy vroukiedoukie) beide uithuisig moet werk. Dis gewoonlik Dinsdae en Woensdae wat nie regtig altyd uitwerk nie. Dan is dit dit, of dan is dit dat wat opduik, en die dae word verander. Party dae weet die vrou van die enkelkamer nie of sy Arthur of Marthur is nie want dit neem vyf minute om te verander uit die bloute.
Kom ons gaan terug na daardie miserabele nat, koue Oktober dag. Soggens so 6:30am word die twee skaaplammers melk gegee. 10am en 2pm is dit die vrou van die enkelkamer se beurt om lammers melk te gee. Sy maak warm water, meet melkpoeier af, gooi dit in water en klits tot goed gemeng. Die aangemaakte melk word tussen twee half liter botteltjies verdeel; elkeen so 350ml. Tieties word opgeskroef. Tuinskoene, wat buite deur regstaan, word aangetrek. Die vrou van die enkelkamer het mos ‘n paar grênd geel gumboots gekoop so ruk terug. Nogal in Suid Afrika vervaardig!

Ongelukkig sukkel die vrou, om veral die regterkantste boot, weer uit te trek. Sy kry hom om die dood nie afgeskil nie. Of sy sit staan of wat ook al dit wil nie afkom nie. Probleem is as die vrou van die enkelkamer eenmaal plat sit om te probeer uittrek het sy nie krag om die boot af te stoot nie. Beatrix het eerste keer help trek wat ook baie moeilik was. So, nou ja, sy trek nie sommer die boots aan nie.
Tuinskoene aan, en ook reënjas, stap die vrou met twee bottels melk na die lammers se kampie. Dit reën. Als is nat. Bruno(die ramlam) en Bella(ooilam) drink gulsig. Die vrou van die enkelkamer kyk, terwyl tweetjies drink, na links om te sien of sy die drie kalwers sien. Tot die vrou se verbasing sien sy Ben(‘n perd wat hier bly vir winter weiding) op ‘n stywe gallop na die stal aankom waar die kalwers saans slaap.
“Hoe de hoenders kom Ben daar? Die hek is toe en hy is veronderstel om in die kamp verder weg te wees. Very interesting!”
In die tussentyd het die twee lammers klaar gedrink. Ben is nie te sien nie want die stal staan met agterkant na die vrou toe. Sy bly egter wonder hoe die perd daar gekom het. Het hy deur die draad gekruip, maar dan kan hy steeds nie die hek toe maak nie?
Dit tiekkel die vrou van die enkelkamer. Sy stuur ‘n boodskap aan haar seun om te hoor of hy weet van Ben wat in die kamp is. Hy laat weet dat Ben nie daar kan of mag wees nie.
Nou bly dit in die vrou se gedagte. Sy sien nie vir Ben nie. Is al haar varkies nog op hok? Halusineer sy of is sy besig om die klits kwyt te raak? Het sy hom regtig gesien?
Die vrou se seun kom namiddag tuis. Hy gaan kyk waar Ben is.
Raai wat? Ben is veilig in sy kamp waar hy moet wees. Nou voel die vrou regtig koe-koes.
‘n Uur later kom vroukiedoukie tuis. Daar word oor Ben gepraat.
Die vrou van die enkelkamer was toe nie verkeerd, of haar varkies kwyt nie. Die eienaar van Ben het die oggend gekom, toe sy van die sneeu hoor, en Ben in die kamp gesit. Vroukiedoukie het die eienaar gebel om te sê Ben kannie daar wees nie want ons kalwers is snags daar. Sy moes Ben dadelik weer uitvat; wat sy toe ook gedoen het sonder dat die vrou van die enkelkamer haar gesien of gehoor het.
Daar het ons dit nou! Daars niks met die vrou van die enkelkamer se waarnemingsvermoë verkeerd nie.
Amper het sy maar aanvaar dat haar dae getel was as ‘normaal’ denkende mens.
Geniet wat jy doen terwyl jy kan.
Tot volgende keer.
Laat ‘n boodskap