Die hoenders in.
Oe-la-la, hierdie vrou van die enkelkamer blyplek was vanoggend behoorlik die hoenders in. Sy het in haar binneste geswets dat die see nie die hoender sou kon skoon was nie.
Sy, dis nou die enkelkamer vrou, sit vanoggend rustig op haar ‘luie seun’ stoel. Die uitsig deur haar venster is soos Kameel altyd sê “poskaart mooi.” Dis wel nog steeds bewolk en wil, wil half kouer word maar dis die minste.
Ewenwel, sy sit rustig haar emails en deurkyk, en beplan ook haar volgende stap om weer te begin met haar skilderwerk en of doodlelary(wat sy so geniet dat sy net nie kan ophou doodle nie). Lekker rustig.
Eers is daar ‘n gevroetel buite haar skuifdeur wat op ‘n skrefie oop is om vars lug in te laat. Klein Mollie, die familie Yorkie, vlug meestal hier na die kamer toe om weg te kom uit die gehollery en lawaai by die huis. Klein kindertjies ken mos geen einde as hul eenmaal begin nie. Dis kindertjies wat hol en jil, uitgebroeide kuikentjies wat nog in die sitkamer gehuisfes word wat piep en opgetel word, honde wat nie weet waar dit veilig is nie, mamma en pappa wat rondbeweeg om melk reg te kry in kombuis vir twee lammers en drie kallers. Sjoe, die arme vrou van die enkelkamer is skoon uitasem van al die verduidelik.
Nou, terwyl sy so rustig sit en die gevroetel by die deur hoor dog sy: “Dis seker Mollie wat wil inkom.” Sy draai haar stoel ‘n bietjie sodat sy die deur kan sien. Uit die hoek van haar oog; geen woef te sien nie.
Die vrou van enkelkamer gaan voort met haar leeswerk. Steeds is daar ‘n ernstige gevroetel buite die deur. Sy dink toe dit kan dalk ‘n blakbird wees wat daar teen die afskorting sit. Sy sit die laptop wat op haar skoot is neer en staan op.
“My magties, wat maak jy daar?”
Vervaard fladder ‘n kapok-hoendertjie weg van die vrou van enkelkamer se stelasietjie af waar haar geplante kersfeeskaktussies in hul potjies buite staan vir vars lug.
“Die vervloekste hoender het wraggies begin om my potjies uit te skrop en met die afspring sommer die een potjie afgeskop!” Wat ‘n skok vir die arme vrou van die enkelkamer. Sy het drie steggies van d kersfeeskaktusse by haar goeie vriendin gekry. Elke steggie het ‘n ander kleur. Al drie die steggies het nuwe blaartjies en die een is selfs besig om te wil blom. Gelukkig het hoender nie die potjie met blommende steggie omgeskop nie.



Die vrou van die enkelkamer is briesend. Sy stuur ‘n boodskap aan haar seun. Hy sê sy moet ‘n foto stuur van die hoender sodat haar vlerk geknip kan word. Die ellendige hoendertjie vlieg elke oggend vroeg oor die draad in die tuin in. Kiepie het natuurlik nou klaar die nabye omgewing omgedolwe en besluit dat hier nou nuwe weivelde is.
Die vrou van die enkelkamer het toe maar besluit om dorp in te vaar en geld uit te gee om haar gemoedstoestand te kalmeer. Sy het lekker ge-’shop’. Allerhande snuisterytjies gekry by tweedehandes winkels om haar kamer meer leefbaar te maak. Sy’t ook sommer ‘n spek en eier broodrolletjie gekoop vir middagete. O ja, en natuurlik ‘n ekstra denim gekoop want op die plaas kan mens nie genoeg denims hê nie.
Wat ‘n opwindende oggend was dit weer op die plaas gewees.
Vanmiddag laat gaan stap die vrou van die enkelkamer haar aand stappie. Dis die lekkerste ding wat sy doen om te ontlaai. Daar is toe Pukeko’s wat klein pukekokies het! Te dierbaar vir woorde hul het selfde wit wipsterboudjies as ouers.
Laat ‘n boodskap