Die lug is amper sonder wolke vanoggend vroeg. Steeds nog koel windjie wat waai. Ek besluit om vroeg in te gaan om ‘n koppie tee te maak en my pap met yogert te maak want hele week het ek soggens net ‘n “oats and apricot bar” geëet, en ook natuurlik die badkamer gou te gebruik. My verbasing was groot toe ek by skuifdeur kom dat almal reeds op was. My tee gemaak en pap reg gemaak en vertrek weer kamer toe.
Dit is so ‘n lekker dag buite dat ek besluit om te gaan stap.
Vars lug vul my longe. My spiere begin ontspan en ek stap. Daar kom gereeld voertuie verby en ek staan eenkant toe dat hul kan verby kom omdat pad redelik nou is. Fietsryers maak ook gebruik van die geleentheid om te ry. Almal groet vriendelik.
Ek draai links in na ‘n nouer straat as een waarin ons bly. Die straat grens steeds aan een sykant van ons grond. Langs die pad is ‘n water afvoersloot wat steeds nog vol water is. Die sloot vorm ‘n stroom wat oor ons grond loop. Die rustigheid van die water se gekabbel is voedsel vir die siel. Ek het tot by Mangaroa Forest se bord geloop.

Eendag gaan ek bietjie daarheen ry. Daar is ook ‘n bordjie wat wys na ‘n radio stasie.

Met die terugloop hoor ek mense wat besig is om skape aan te jaag. Die skape is uit kamp gejaag omdat een ooi gelam het. Die ooi staan teen die heining met ‘n geswelde uier en ‘n pas gebore tweeling lammers. Lammers soek net tiet en stamp, stamp ma se uier. Te dierbaar.
Langs die pad is daar ook paradise ducks wat waarsku dat iemand verby loop. Dis nou broeityd en al die gevleugeldes maak nes en is gereed vir die uitdaging om eiers te lê en uit te broei. Daar is reeds ‘n eende ma met eendjies wat nou die dag oor die pad geloop het. Daar was so ses of sewe klein bondeltjies dons wat agter ma aan hardloop. Blykbaar was daar maklik twaalf, dertien eendjies. Ongelukkig is eende nie goeie eendjie beskermers nie. Hier vlieg valke rond wat gereeld meeste van eendjies vang.
Dis nie verniet dat eende so baie eiers uitbroei nie. Die natuur maak voorsiening dat daar darem enkeles oorleef. Hier is egter so baie eende dat daar elke jaar in Julie “duck hunting” gedoen word. Mense mag dan ingaan op plase en eende gaan skiet. Daar moet darem gereël word met eienaar van grond sodat daar nie gevaar is dat iemand raakgeskiet word nie.
Dit dan ‘n heerlike vroëe lopie op ‘n Sondag oggend.

In die verte is ons blyplek. Dis die bure se inrypad in voorgrond.
Laat ‘n boodskap