Uiteindelik weer ‘n begin 29/08/2022
Na ‘n tydperk van laaglê het ek vandag weer ‘n gevoel gekry om te wil skryf wat hier gebeur. Alles was die afgelope maande net te veel om te verwerk. Die aanpassing was moeilik en selfs amper te veel vir my gemoed. Gelukkig na ‘n ten ene laste dr besoek, aanbevelings en gerusstelling dat my liggaam gelukkig in ‘n goeie werkende toestand is, is ek na ‘n arbeidsterapeut verwys. Vrydag het ek vir vierde keer gegaan en ons het besluit dat ek nou redelik op koers is om my geestelike deel ook beter te kan beheer.
Ek het besluit om weer te begin boekhou van my daaglikse avonture hier op die plaas.
Vanoggend staan ek op en trek my venster se gordyne oop.
Dis ‘n gewerskaf vir Afrika hier voor my venster. ‘n Blackbird wyfie is besig, nie net besig nie , sommer ernstig besig. Ek voel en sien haar angs om haar nes klaar te bou. Sy is al ‘n hele tyd besig om stokkies en blaartjies bymekaar te maak. Vanoggend was sy werklik op ‘n missie uit om klaar te maak. Die nat weer het haar baie opgehou die afglope tyd. Vanoggend is dit koud maar droog.
En raai waar bou sy nes? In ‘n bos hier reg voor my venster. Mens sien net takkies en blare roer soos sy vroetel om als wat sy aandra in te bring. Ek vermoed haar eierlê instink is nou so erg sy kannie meer hou nie.
https://nzbirdsonline.org.nz/species/eurasian-blackbird
Interessant hoe mens dinge agterkom as jy net bietjie verder kyk, en dink, as aan jou eie eng stukkie omgewing. Namiddae as ek en Bea hier sit en teken en verf sien ons elke laat namiddag eers meneer Blackbird in die kaal boompie sit. Hy skrop en krap sy vere reg terwyl hy sit en wag. Na ‘n rukkie vlieg hy weg en mevroutjie Blackbird kom sit in boompie. Sy vroetel, skut en krap ook haar vere en dan gaan sy grond toe vir ‘n wandeling in die tuin hier naby. Sy gaan los meneer af en hy kom sit weer ‘n ruk in die boompie. Na vyfuur is dit tyd dat ek aandete gaan maak en Bea moet huistoe gaan, waarvan sy natuurlik niks hou nie.
“Maar Ouma kan Ouma se kos gaan warm maak en dan hier in die kamer kom eet.”
Ek wag dan meestal maar nog ‘n rukkie tot Pappa en Amelia tuiskom. Dan kan sy nie anders as om huistoe te gaan nie.
Eintlik het ek bietjie afgedwaal van wat ek eintlik wou deel. Ons het hier op die stuk grond ‘n dipgang want jare terug was als hier meer, veral, melkbeeste gewees waarmee geboer is. Die vorige eienaar het gevra of hy maar sy beeste hier kan kom dip sodra daar ‘n droë dag is wat toe nou vanoggend was. Hul het die, ek dink stuk of ses, jong beeste hier verby gejaag en hul gaan dip. Nadat die spulletjie klaar was begin dit toe weer saggies motreën. Die vorige eienaar het nog ‘n klomp jong beeste wat hy toe nie vandag kom dip het nie. Hy sal seker maar ‘n volgende dag as dit droog is weer kom.
In die tussentyd het ek my ook voorgeneem om weer daagliks te gaan stap. Van Trompie nie meer daar is nie het ek net nie behoefte daaraan om op my eie te loop nie. Hopelik gaan ek nou weer koers kry en my lope loop. Die reën is natuurlik ‘n maklike uitweg om nie te loop nie. Die weer behoort darem nou te begin droër wees en ook warmer.
Ek is ook besig om weer ‘n ses weke aanlyn kursus te doen om meer kleurvol te skryf. Dit laat my sommer weer lus voel om te skryf want die reaksie op wat ek skryf is heel positief en leersaam. Ons is hierdie week by week drie van die ses weke en moet nou “back story” invoeg waar dit nodig is. Wat lekker is is dat die terugvoer baie duidelik wys waar ek meer vleis om die gebeente van my storie kan skryf.
Nou ja mense, alles is darem nog wel hier by my. Baie dankie aan al die vriende, kennis en besoekers wat hier lees en ook my ondersteun. Jul sal nie weet hoe ek dit waardeer dat jul omgee nie.
Groete van huis tot huis.
Laat ‘n boodskap