
Hoekom pampoen van alle dinge?
Van huis uit, as ‘n Nederlander. het ek as kind nooit met pampoen te doen gekry nie. Ons het net nie pampoen gekry nie omdat dit onbekend was.
In die koshuis het ek vir die eerste keer pampoen gekry. Dit was so-so vir my. Ek was nooit ‘n groot soettand nie. Die pampoen het my op die einde heel ongemaklik laat voel omdat daar te veel suiker bygevoeg word. Onthou, dit was laat 1960s toe ek vir eerste keer koshuis toe is. Na my studies het ek vier jaar by my ouers ingewoon en weer nooit pampoen gesien nie. Selfs die jare wat ek op my eie gebly het, het ek nooit pampoen gekook nie. Ek het wel lemoenpampoentjies gekook. Net ‘n klontjie botter en geen suiker of kaneel vir my nie.
Hoekom ek eintlik oor pampoen skryf is omdat ek hierdie week wat verby is ‘n stuk pampoen gekoop het om iets anders as net broccoli, broccoli en weer broccoli te moet eet.
Skoondogter sien die pampoen stuk en sê: “Dis net ek en Ma wat dit gaan eet. Die ander hou nie daarvan nie.” Dit was ‘n openbaring vir my dat my seun nie van pampoen hou nie. Hy het wel met pampoen in die huis groot geword.
Nadat ek getroud is het my man my gewys hoe sy ma hom geleer het om pampoen te kook. Ek moet byvoeg, dit was soet en sommer baie soet. Om die vrede te bewaar het ek maar pampoen geëet. Wat mens nie als vir liefde sal doen nie.
My man het altyd pampoen gekook. Gelukkig darem net so nou en dan en nie elke week nie. Hy het eers ‘n pot met water opgesit, ‘n klomp suiker sommer so op gevoel daarin gegooi en die suikerwater gekook. Vir hoe lank weet ek nie, maar hy het geweet wanneer die pampoen in die water gesit word en dan verder kook totdat dit fluweel sag is. Dit was lekker, maar mens moenie te veel daarvan op ‘n slag eet nie.
Na my man se dood het ek nie sommer pampoen gekook nie. Ek het wel gereeld lemoenpampoentjies gekook.
Hier in NZ het ek op ‘n stadium ‘n Sjinese student gehad vir wie ek pampoen gekook het. Sy was nie baie beïndruk daarmee nie. Na die student het ek ‘n paar jaar ‘n loseerder gehad wat van pampoen gehou het. Ek het dit egter nie op die Afrikaanse manier gekook nie. Slegs in stukke gesny en in die oond saam met aartappels en ander groente gebak.
Die gekoopte stuk pampoen word toe nie gekook deur skoondoger of my seun wat beurte maak om saans te kook nie. Op die einde besluit ek toe ‘n Sondagaand om pampoen te kook en ook kapokaartappels te maak want ek weet die kleintjies hou van kapokaartappels. Die kinders moes verder self besluit wat hul nog daarby wil maak as hul wou.
Ek kan nie meer onthou wat hul nog voorberei het nie. Die kleintjies het pampoen en kapokaartappels gekry. Eerste wou Bea weet: “Wat is dit?”
”Lekker pampoen.”
“Jakky, I don’t like it!” Sonder om eers te proe. Sy het baie fiemies!
Pappa voer vir Amelia en sy eet haar aartappels en pampoen. Ek en skoondogter het lekker geëet. Ek weet nie of my seun daarvan geëet het nie. Hy het wel na die tyd vir my dankie gesê, en dat dit regtig lekker was.
Skoondogter het die volgende aand nog die res as nagereg geëet. Sy het dit beslis geniet.
Dit dan my pampoen storie. Ek sal nie sommer weer pampoen vir die klomp maak nie.
Laat ‘n boodskap