
Liewe Covid
Amper twee weke terug, Dinsdagoggend nadat ek klaar aangetrek was, en reg was om Beatrix skool toe te vat, tref ‘n onverwagse aankondiging my vol tussen die oë. Bea toets positief vir Covid en ons, as naaste kontak, moet vir tien dae afsonder. Goed en wel, dis ‘n hele omwenteling vir almal. Almal moet van huis af werk en kinders kan nie skool of kleuterskool toe gaan nie. Gelukkig het alles redelik goed verloop. Dan het Pappa met kinders gekuier, dan weer Mamma en tussendeur speel Amelia heerlik op my bed en ons lees en kyk aanmekaar boekies.
Mamma help Bea met skoolwerkies sodat sy nie heeltemaal agter raak nie. Ek dink dis baie goed dat die skole ingestel is, noudat die virus nie sommer wyk nie, om aanlyn goed te stuur wat afgerol kan word; of as die kinders nie internet het, die papiere na hul per slakkepos gestuur word.
Gelukkig het die regering van die dag besluit dat daar nie meer tien dae geïsoleer hoef te word nie. Hul skuif dit na sewe dae. Ek kry die kennisgewing dat ek op die sewende dag moet toets of ek negatief is. Indien wel kan ek die agtste dag uit isolasie kom.
Ons sien almal uit na dag sewe, of eintlik is dit ekke wat daarna uitsien. Ek voel nie regtig simptome nie; duime vas die hele tyd dat dit negatief gaan wees. In die tussentyd begin veral Mamma en toe ook Pappa nie lekker voel nie. Dit hoes en proes. Die toets kom positief uit. Mamma is regtig baie sleg. Ek bekommer my nogal want alles lyk beslis nie belowend nie.
Nou wonder ek toe of ek nou nog ekstra sewe dae moet isoleer saam met hulle. Mamma het uitgevind dat die isolasie net van die eerste persoon, wat positief is, getel moet word. Dus is ek steeds reg om dag sewe te toets sodat ek Beatrix kan skooltoe vat omdat die ouers wat positief is dit nie veronderstel is om te doen nie.
Ongelukkig werk dinge toe nie so uit soos daar gehoop is nie.
Ek vat die sewende aand die toets en raai wat? So positief soos kan kom! Ek het wel so effense krapperige keel gehad met ‘n hoesie die oggend al. Die aand versleg my hoes en voel ek al slegter. My voete was yskoud toe ek die oggend wakker word. Die weer het ook heel afgekoel en snags is dit al regtig koud. Ek sal vir my ‘n kombersie moet koop om oor te gooi vir ekstra warmte.
Daarna loop my gesondheid afdraende. Ek bly vir twee dae behoorlik in die bed en rus, rus, rus. Staan net op om teetjie te maak en pap of ‘n toebroodjie te maak.
Pappa voel toe heelwat beter en neem Bea skooltoe en gaan haal haar weer.
Gisternag, dis nou die derde nag, sweet ek my gedaan. Ek kry die vreeslikste nagmerrie. Deurmekaar, maar ek onthou presies wat ek gedroom het.Ek gaan nie hier vertel nie want dis diep uit my verlede uit. Ek gaan dit wel aanteken ingeval ek dit dalk een of ander tyd in ‘n vertelling kan gebruik.
Vanoggend toe ek wakker word voel ek sommer heelwat beter. Ek is bly dat dit nie in my bors getrek het nie. Nou moet ek my eie sewe dae klaar afsonder en dan is ek weer vry om rond te beweeg na veertien dae van ingehok te wees.
Beatrix het vir my die mooiste skilderstukkie gegee wat sy by die skool gemaak het.
Sy praat iets van chips wat sy geverf; dis nou die ronde blou kol waarvan sy praat.

Laat ‘n boodskap