Die besef, en wete ek moet positief bly kom gereeld by my op. Alles hang af hoe ‘n mens dinge om jou aanvaar en hanteer. Tog, ek is ook ‘n mens met gevoel en behoeftes. Op die oomblik voel ek afgesny van alles. Alles maak my benoud. Siekte, alleenheid en dan op die oomblik ouderdom ook.
Die derde week van nuwe ondervindings is verby. Die eerste twee weke het goed verloop. Goed, omdat daar heelwat veranderinge in my lewe gekom het. Ek is en bly ‘n enkeling maar tog met tye het ek behoefte daaraan om uiting te gee aan my gevoelens.
Die derde week was swaar vir my. Ons is van Maandag af in self isolasie omdat klein Bea positief getoets is. Ons moet tot op hede vir 10 dae isoleer. As onmiddelike kontak met die gesin moet ek ook isoleer.
Die afgelope week het ek myself gedwing om met Mollie te loop wat my beslis elke keer ‘n bietjie geboost het. In die tussentyd het beide ouers begin hoes en voel hul nie te lekker nie. Mamma het van Woensdag af al sieker geword. Beide het getoets wat negatief was. Nou kom die verduideliking dat na drie dae moet daar weer getoets word omdat die virus dalk nie so sterk is nie. Dit kan die oorsaak wees van negatiewe toets en dat hul dit wel kan hê.
Dit is wat my bekommer. Die onsekerheid het my vanoggend vol getref.
Amelia speel elke oggend by my in die kamer, op my bed. Sy kyk boekies en ek lewer kommentaar. Dan spring sy weer vir ‘n rukkie en gaan verder met boekies kyk. Die boekies is in ‘n rak langs my stoel wat in die hoek van kamer is. Ek sit met my voete op die bed met skootrekenaar op my skoot en lees wat ook al op die oomblik in my posbus is.
Vanoggend het alles goed gegaan. Klein Amelia spring weer op en af asof sy op die springmat(trampolien) spring. Sy spring en val vooroor. Die koppie stamp teen die reëling van die muur en Ouma skrik haar asem amper weg. Ek was juis van plan om langs haar te sit en boekies verder te kyk. Dit het ‘n redelike merk op haar voorkoppie gemaak. Die velletjie bietjie gebreek maar nie gebloei nie.
Ek voel toe heel opgewerk en gespanne oor alles. Die onrustigheid steek sy kop uit:
Wat as…
- dit ‘n fout is om so saam met kinders te bly. Was dit die regte besluit?
- ek ook positief raak en siek word? Op oomblik het ek net half ‘n hoesie en met tye ‘n seer keel. Ek het wel soggens ‘n benoude gevoel op my bors. My asem is vroeg redelik vlak. My vermoede is dat my bloeddrukpille dalk te sterk is. Daar het so baie gebeur dat dit my baie gespanne gemaak het.
- of wat gebeur as ek regtig siek word? Ek het maar ‘n borsprobleem.
Met die onrustigheid in my binneste klim ek in my kar waarin ek ‘n week laas gery het.
Ry om na die huis waar ek gebly het. Ry verby die skool waar ek drie jaar terug voorskool en naskool werk gedoen het voordat Covid my laat bedank het omdat ek bo sewentig jaar is. Ry van skool af met agterstraat langs na ons nuwe blyplek. Ek het nie gestop nie net aangehou met ry. Kom toe Upper Hutt in van die anderkant af as waar ek uit gery het.
Die gevoel is nie te erg meer nie. Dis egter swaar om nie te dink daaraan dat ek niks persoonliks om my het wat my besig en aan die gang gehou het deur die jare nie. Terwyl ek dit neerskryf wil my bors sommer toetrek.
Hoop vir WOORDWARREL die week
Laat ‘n boodskap