Verhuising of trek.
Wat ‘n opwinding is daar op die oomblik in die Kruger huishouding!
Ons gaan (moontlik binnekort) na ‘n plasie toe trek. Dis al ‘n geruime tyd dat dit in die pen is dat daar gesoek word na die regte stukkie grond en dan natuurlik ‘n huis om in te bly ook. Op die oomblik is daar ‘n plekkie waarin die Krugers belangstel. Ek trek natuurlik saam want…
https://www.trademe.co.nz/a/property/residential/lifestyle-property/listing/3356204785?bof=uws3d58M
Die huis waarin ek op die oomblik bly moet verkoop word asook my eenheid waar ek oorspronklik gebly het. Dit alles om geld te kry vir die deposito en vir minder skuld. Duime vas dat dit gaan uitwerk. Ek is al die afgelope twee maande besig om weg te gooi en in te pak. Daar gaan, as alles goed verloop, vir my ‘n Tiny home gebou word so daar gaan nie plek wees vir ekstras nie.
Gedurende my lewe het ek verskillende blyplekke gehad.
In Holland, waar ek gebore is, het ons my eerste ses jaar op boonste vloer van my grootouers van moeders kant gebly. Piepklein. Ek het in 1974 gaan kyk hoe die huis lyk. Vir my as volwasse persoon was dit regtig baie klein. Tog het my ouers en drie kindertjies daar oorleef na die tweede wêreldoorlog.
Aangekom in Suid Afrika het ons amper drie jaar in Pretoria gebly in n ou stewige klip koloniale huis met hoë plafonné wat uitgekerf was met blompatrone.
Ons trek na plattelandse opkomende dorpie buite Pretoria. My ouers het twee keer ‘n huis daar gehuur. My pa bou naweke ons huis. Ons trek daarheen terwyl die huis halfpad klaar was. Tot 1980 was dit my ouerhuis waar ek altyd welkom was en baie lekker gekuier het.
Ek het tot 1971 by my ouers gebly. 1972 trek ek Potgietersrus toe. Eers in koshuis en later in ‘n woonstel gebly. In 1980 trou ek en trek sak en pak Secunda toe en bly amper twee jaar in ‘n parkhome. Ons trek in ‘n nuut geboude huis wat ons gekoop het. Na my egskeiding huur ek eers ‘n woonstel in Evander en soek ‘n huis om te koop wat ek toe ook gedoen het. Einde 1994(‘n jaar na my gewese man se selfmoord) neem ek die besluit om weg te trek. Ek en my seun bly ‘n maand by my suster op Naboomspruit en ‘n maand in Potgietersrus by ‘n ou tannie wat haar garage as soort van gastekamer gemaak het. In die tussentyd is al my huisraad gepak reg om te trek sodra ek ‘n blyplek gekry het. Ek vind toe ‘n huis wat ek vir ses maande huur met opsie om te koop. Die huis was vervalle en die bank wou nie lening toestaan nie omdat daar te veel was wat herstel moet word.
Die voorsienigheid het ingetree toe ek aan einde van die ses maande huur kom. Daar was ‘n meenthuis oop. My ma was op daardie stadium vir n kuiertjie by my. Ons gaan kyk. Beide van ons was in vervoering met die plekkie. Ek het toe dadelik die plek gekoop en tot 2006 heerlik daar gebly. My seun stel toe voor dat ek NZ toe moet kom. Eers het ek gedink om Naboom toe te trek omdat my ma in ouetehuis was en my suster daar gebly het. Moeder is toe in die tussentyd oorlede. Ek sit my meenthuis in die mark met die gedagte om Naboom toe te trek. Gelukkig het dit nie uitgewerk nie en beplan ek om maar NZ toe te trek. My meenthuis is verkoop en ek moes inderhaas blyplek soek. Dit vat jare voordat alle reëlings afgehandel is om weg te trek. Ek kry ‘n meenthuis wat ek vir twee jaar huur. Begin 2009 verkoop ek al my besittings. Dis te duur om alles oorsee te vat en ook omdat ek nie ‘n blyplek het nie. Twee weke voor my vertrek bied ‘n vriendin aan dat ek daar by haar in haar gastehuis kan bly. Dit was ‘n fees gewees om so ongebonde by haar te kon bly.
In NZ bly ek eers nege maande by my seun en sy “partner”. Ons kom ooreen dat ek die deposito neersit vir my eie eenheid en my seun sou dit verder afbetaal. Toe moes ek meubels kry. ‘n Goeie vrendin help my om tweedehandse meubels te koop. ‘n Bed om op te slaap, drie sitkamerstoele, ‘n yskas en wasmasjien en my kop was deur. Geen luukse nie maar dit was my eie plek en my eie goedjies. Die goedjies het met die tyd uitgebrei na ‘n TV, twee lekker sitkamerstoele, boekrak en kas vir TV. Ek kry tot ‘n amper nuwe dubbelbed waarin ek heerlik ruim geslaap het. Ek sit ‘n verwarmingsstelsel in want in die winter is dit erg koud. Ek het die klompie jare daar netso geniet omdat ek eers ‘n Chinese student vir ‘n jaar gehad het en daarna ‘n loseerder waarmee ek goed klaargekom het.
Dinge werk toe verder weer ten goede. My loseerder het huur opgesê omdat hy van Christchurch af kom en van daar af gaan werk. My seun hulle besluit toe om die eenheid uit te huur. Hul koop ‘n groter huis en ek trek in hul eerste huis in. Ek dink dit was in 2017 om en by.
Nou op die hierdie oomblik het hul besluit om ‘n plasie te koop. Ek moet ontslae raak van alle oortollige goed. Daar gaan nie plek wees nie. Aan die eenkant maak dit my half hartseer om so telkens afskeid te neem van die plekke waar ek bly. Aan die anderkant berus ek ook daarby en gaan maar waarheen ek gelei word.
Ek het vanoggend gaan kyk na die plekkie. Dis ‘n klein huisie met twee slaapkamers en ek gaan in die studio of te wel die buitkamer bly tot tyd en wyl.
Ek het hierdie stuk al twee weke terug geskryf. Het vandag eers weer daaraan gedink om dit nou te pos. Daar het so baie dinge gebeur wat my net nie kans gegee het om altyd mooi reguit te dink nie.
Groete van huis tot huis en ek sal seker verder skryf in die nuwe jaar.
Laat ‘n boodskap