Hoe het dit gekom dat ek verlief geraak het op mini Schnauzers?
Almal weet dat ek ‘n diere mens is. Plante is nie my lyn van belangstelling nie.
Aan die einde van die 1960 tiger jare het ek Alaskan Malamute geskou en geteel. Dis natuurlik ‘n storie vir ‘n ander keer.
Met die skouery van my honde was daar altyd geleentheid om ‘n bietjie rond te loer en meer uit te vind oor honderasse wat mens nie ken nie. Die Malamute was in die werkende hondeklas. Die Schnauzers is deel van die werkende honde groep. Daardie jare was daar nog nie baie in omloop nie. Eintlik moet ek verduidelik dat ek meer in Whippets belanggestel het. Hul het sulke sagte velletjies, liefdevolle gesiggies wat net my aandag getrek.
Telkens het ek weer die mini Schnauzers raakgesien. Hul houding en op en wakkerheid het my gefasineer.
In 1980 het ek teruggegaan Potgietersrus toe na my jaar verdere studie. Ek het ‘n lekker duplex woonstel gehuur en besluit om vir my ‘n mini Schnauzer te kry. Die teler was in Pretoria en ek het ‘n tefie gekoop sonder om haar te sien.
Iemand het goedgunstelik die hondjie een aand by my afgelewer. Sy was net agt weke en die dierbaarste klein borselbekkie. Die persoon wat haar gebring het, het gesê sy was so soet. Nie getjank of gekla nie.
Ek was mal oor my klein honde-kindjie. Doop haar toe Dixie. Die naam klink soos wat sy is, op en wakker en gedurig bedrywig.
Ongelukkig was ons blyery in Potgietersrus van korte duur want ek besluit om die stoute skoene aan te trek en te trou met ‘n man wat in Secunda bly. Ek het haar saam Secunda toe geneem om aan my aanstaande bekend te stel. Sy was nie baie gelukkig met die geryery en blyery op ‘n vreemde plek nie.
My aanstaande vra toe om my hand! My antwoord: “Driekwart van my sê ja, sodra jy Dixie gewen het is alles reg met my!”
Aanstaande was eers nie baie beïndruk met my antwoord nie. Hy was gewoond aan groot honde en hul het nie in die huis gekom nie. Tog het hy alles gedoen om Dixie se guns te wen. Op die einde was hy amper liewer vir Dixie, en meer geheg aan haar as ek.
Dixie het nie baie oud geword nie. Sy moes iewers gif gekry het want een aand na ek haar uitgelaat het, het sy met bolle skuim om die bekkie en met rukkings ingekom. Sy het dit toe nie oorleef nie.
Daar het ‘n tyd verloop voordat ons weer uitgekyk het vir ‘n nuwe mini Schnauzer. Dit was Bobbie en ‘n storie wat ek nog sal vertel.
Ek het Nancy ook gekry met haar eie storie. Bobbie en Nancy het redelik lank geleef. Na Bobbie het ek Megan gekry, wat ook haar eie storie het van hoe sy by my uitgekom het.
Toe ek NZ toe trek het ek besluit om nie sommer weer ‘n hond te kry nie. Famous last words. ‘n Bietjie meer as ‘n jaar later noem ek aan my seun dat ek nogal uitsien om weer ‘n hond te kry. “Goeie idee, Ma, kry vir Ma weer een.” kom antwoord.
Ek soek dadelik rond en ontdek opregte mini Schnauzer hondjies in Masterton wat net seker so’n uur se ry van ons af is want dis ‘n kronkelpad die berge in en oor. Die koeël was deur spreekwoordelike kerk, en vandag na amper twaalf jaar is my liewe Trompie ( wat ook ‘n storie op sy eie is) steeds my beste maat en geesgenoot.

Laat ‘n boodskap