
Na aanleiding van Hester se skrywe HesterLeyNel on 2021-11-14
Ek moet bieg – ek is ‘n baie stil op my eie mens, met klem op stil.
Hoe het dit gekom dat ek nie my mond kan oopmaak nie?
My laerskool jare was heerlike onbevange jare. ‘n Vierman plaasskool en ons was soos een groot familie. Ek het twee goeie vriendinne gehad en die skoolwerk was baie goed(eintlik uitstekend soos wat dit aan my rapport te siene was.)
Toe gebeur die onvoorsiene. Ons trek weg uit die klein opkomende dorpie. Plot toe. Plot, want mense het neergesien op maplotters!
Ek het die jaar wat ons getrek het Hoërskool toe gegaan. Dit was vroeg opstaan. Diere versorg en melk. Vroeg die bus langs die hoofweg kry. Dan die rit skooltoe wat ongeveer tot veertig minute gevat het. Smiddae weer terug met bus en ek moes ons bokke laat wei op die algemene weiveld tot dit melktyd is.
Daar was geen vriende meer nie. Ek was op my eie aangewys. Hoe ouer ek geword het hoe minder het ek oopgemaak en gepraat.
Na matriek het my Pa my die kans gegee om drie jaar verder te studeer. Al rigting wat daardie jare vir ‘n vrou was, was die onderwys. So daar gaan ek toe. Tassie onder die arm die vreemde in, koshuis toe.
Studente is elke jaar uitgestuur om te gaan proef soos dit genoem was. Jy moes dan kritlesse voorberei om voor een van die dosente aan te bied. In my geval het die “wyse” dosente besef dat ek nooit voor ‘n klas sal kan staan om klas te gee nie.
Ek moes ‘n drie weke kommunikasie kursus loop. Ai, dit was erg vir hierdie stil mens gewees. Jy is egter gedwing(was verplig) om deel te neem aan allerhande maniere om jou uit jou kassie(of boksie) te laat klim.
Die drie weke het my die wêreld se goed gedoen.
Om nou aan te sluit by Hester se “broeklosmaak”.
Die laaste dag van ons kursus het ons met ‘n bussie uit die stad gery(waar dit was weet ek nie). Ons het op ‘n afgeleë plasie gekom en moes ‘n stewige bult/bergie uitklim. Bo gekom vertel die dosent hoe goed ons gevaar het en wat nog alles. Daar was net nog een oefening wat ons moes doen. Jy staan op die rand van die afgrond. Skree uit volle bors: WAT MAAK JY DAAR?
Dan moes ‘n tweede een terug skree: EK MAAK BROEKLOS, my Baas!”
Dit was die kersie op die koek van al ons leer om ons stemme te gebruik.
Dankie aan Hester vir die prikkel om my gedagtes te laat terug dwaal na daardie dae.
Gaan lees gerus wat sy te sê het oor verskillende uitdrukking wat as “plat”beskryf word in WAT maar dit vertel ‘n goeie storie.
Laat ‘n boodskap