Kom mense laat ons bietjie hoor,
Is jy ‘n roetine mens of nie?
Hierdie is ‘n plek waar ons lekker in Afrikaans kuier. As jy saam geskryf het kan jy beslis jou skakel in my kommentaar plak. Ek self sal daarvan hou om te lees wat jy skryf maar ander lesers sal ook beslis belangstel om te lees wat jy vertel.
Geniet dit want Afrikaans is ‘n pragtige taal en ook lekker om in te skryf.
Daaglikse roetine

Na meer as ‘n jaar se op en af in weke van dan in volle afsondering, halwe afsondering en amper geen afsondering nie, voel ek reg om weer in ‘n roetine te kom.
Ek is ongelukkig ‘n roetine mens. Hierdie ding van dan mag jy en dan mag jy nie frustreer my ongelooflik baie.
Dit is nou meer as ‘n jaar dat ek nie meer voorskool- en naskoolsorg doen nie.
Ek het vier jaar in ‘n roetine beweeg van:
opstaan, loop vinnig Trompie (dis nou my geliefde hond vir die wat my nie ken nie), gaan sluit skool oop en kyk na kinders wat vroeg afgelaai is. Huistoe. Loop lang lopie met Trompie en daarna verskillende daaglikse dinge. Terug skooltoe vir middag se kinders oppas. Huistoe. Loop Trompie. Maak aandete en kyk TV en dan slaaptyd.
Dit in ‘n neutedop my roetine gewees.
Toe spring Covid in en alles word omver gegooi. Toe ons weer kon gaan werk verlede jaar het ek besluit om op te hou met kinders oppas omdat dit vir my half gevaarlik was om my bloot te stel aan so baie mense. Ek is in die ouderdomsgroep wat telkens voorgehou word as mees kwesbaar vir die virus.
Daar het heelwat verandering in my roetine gekom. Dit was nie nodig om so vroeg op te staan nie. Tog het ek steeds vroeg wakker geword en betyds opgestaan. Trompie geloop want ons mag steeds darem buite beweeg, weg van mense.
Verder deur die dag het ek maar hier gevat en daar gelos. Rusteloos in gemoed. Ek moet uitdagings hê om my besig te hou. Ek het begin skilder en aangegaan met skryf.
Hierdie los en vas dinge doen irriteer my vreeslik. Gelukkig het my kinders vir my gevra om vir hul aandete voor te berei. Dis nou die tweede maand wat ek dit doen en geniet dit om so teen vieruur te begin sodat die kos teen vyfuur of half ses reg is om gehaal te word. Ek mag natuurlik vir paar weke nie persoon(my seun/skoondogter) in my bubble laat kom nie. Buite die deur en dit is dit.
Ek het selfs opgehou om my Afrikaanse skryfstuk te doen. Net bloot uit misrabelgeit. Nou het ek vanoggend besluit, genoeg is genoeg.
Maandae gaan weer my Wasdag skryf wees.
Dinsdae gaan ek weer my vriendin besoek bygesê as ons more af beweeg in vlak.
Dan kan ek Woensdae aan my verfwerk aandag gee, dalk tot Vrydag.
Tussentyd hou ek Donderdae vir inkopies doen.
Ten laaste op Vrydae my skryfsessie in ons biblioteek- wat op oomblik nie gebeur nie omdat ons nie mag vergader nie. Slegs vyftig mense word op ‘n slag in bib toegelaat. Ai, as ek nou weer daaraan dink word ek sommer weer morbied. Ek mis my skryfsessie en die vriendinne wat saam skryf.
Goed, daar het jy dit nou, nou is dit jou beurt
Roetine of nie roetine nie.
Laat ‘n boodskap