Maandag is Wasdag het weer ongesiens nader gekom, en vandag word daar weer wasgoed opgehang. Hier word na hartelus geskryf. Niemand gaan ‘n vinger wys na jou skryfsels nie. Ons gaan dit alles saam met jou geniet. Geniet, omdat dit in Afrikaans is en Afrikaans is n besonderse taal om in te skryf. Verlede week se gebruik van die woord ‘bok’ het heelwat plesier verskaf. Kom, skryf saam. Plak jou skakel in my kommentaar sodat ons almal jou storie kan lees en geniet. Lekker skryf.

Terugflits
Die naweek het ek ‘n baie interessante boek klaar gelees wat aan my terugflitse gegee het aan my eie jare as jongeling.
Persomi, kind van die brakrant deur Irma Joubert het my terug geneem na die tyd waarin die hoofkarakter haarself probeer vind in moeilike omstandighede.
Ons as familie van vyf het in 1952 in Pretoria geland met amper net die klere wat ons aan gehad het. My pa was werkloos omdat sy werksgeleentheid nooit gefinaliseer is nie; die tante wat dit sou doen is oorlede voordat alles afgehandel was. Gelukkig het my Pa werk gekry by Yskor. Hy, wat ‘n gkwalifiseerde ketelmaker was, moes ‘n minderwaardige werk aanvaar omdat hy nie Engels magtig was nie. Dit het my Pa ‘n harde hou gegee. Hy het tot sy dood swaar gedra aan die teleurstelling om nie werk te kry waarvoor hy gekwalifiseerd was nie. Gelukkig het hy sterk gestaan teen die aanslae van die lewe.
Na amper drie jaar in Pretoria, is ons weg na Ersamia. ‘n Nuwe plattelandse dorpie wat besig was om te ontwikkel. Vandag 2021 is dit ‘n voorstad van Pretoria. Van daar trek ons in 1960 in ons eie huis op ‘n stukkie grond waar ons toe 1980 gebly het. Dit was my ouerhuis. My Pa het naweke met ons kinders en Mamma se hulp die huis eiehandig gebou.
Hoekom ek die terugflitse gekry het was omdat dit die jare 1960 – 1968 gedek het. Dit was die tyd van ongelukkighede en dwarstrekkery van besluite wat die regering van daardie tyd geneem het.
Toe ons nog in Erasmia gewoon het was daar twee winkeltjies. Die een waar ons meestal gou brood en melk kon koop het aan ‘n ou Joodse omie behoort. Hy is later gedwing om sy winkel te sluit. ‘n Entjie verder was daar ook ‘n Indiër winkeltjie wat meer ingegaan het in materiaal en klere. Die Indiër en sy gesin het agter die winkeltjie gebly. Hierdie Indiër oom was die wonderlikste man gewees. Hy het baie mense gehelp om op die been te kom. Die oom se een seun het ook later as onderwyser gekwalifiseer.
Hoekom ek hierdie twee winkeltjies so noem is omdat dit in die tyd was toe veral die Indiërs verskuif moes word na hul eie gebiede. Daardie tyd het ek nie veel daarvan geweet nie. In die boek oor Persomi gaan dit juis oor die onregverdige behandeling van spesifiek die gevestige Indiërs wat amper soos familie vir ons was daardie tyd. Dis in 1968 toe ek begin skoolhou het dat die bottel gebars het. Daar was opstande en onderdrukking. In die tussentyd het ek as beginner onderwyseres nie besef hoe plofbaar die omstandighede was nie. Ek het steeds naweke die trein geneem van Brakpan af Pretoria toe en weer Sondagaande terug Brakpan toe na my losieshuis. Ek het as jong vrou alleen trein gery min wetende hoe gevaarlik dit kon wees. Ek het opgelees oor 1968 se omstandighede en eintlik koue rillings gekry omdat ek nie besef het hoe dinge was nie. Wel geweet van Wits en sommige van Nasionale party se stories.
Dit is vir my werklik ‘n oog oopmaker om ‘n Historiese Roman te lees wat afspeel in die die tydperk waar ek so geborge groot geword het.
Het jy al ‘n boek gelees wat jou laat terugdink het aan tye waarin jy groot geword het? Vertel asseblief hoe dit jou geraak het.
Die volgende persone het heerlik saam ge”bok” verlede week.
Kameel het ge-bokjol!
https://kameel179438031.wordpress.com/2021/05/18/kameel-bokjol/
Toortsie lekker bokstories.
https://toortsie.com/2021/05/18/bokstories/
Baie baie dankie Kameel en Toorts julle is my twee oudste blogvrinne wat ek emaak het. Ek waardeer jul ondersteuning, dit laat my steeds aanhou met die Wasdae.
Laat ‘n boodskap