Maandag=Wasdag het aangebreek sonder dat ek dit besef het. Verlede week was ‘n vol week vir my gewees. Baie gedoen gekry.
Verlede week se frustrasie het ‘n paar mooi beskrywings opgelewer.
Toortsie stel toe nogal voor dat ons bietjie oor vreugde kan gesels. Frannie vertel toe ook oor haar oudword frustrasies. Ek besluit toe dat dit ideaal is om ‘n bietjie vreugde te bring.
As jy wil saam skryf is jy baie welkom. Ons skryf in Afrikaans omdat ons taal belangrik vir ons is. As jy so voel kan jy jou skakel in my kommentaar plak sodat ander ook jou vreugdes kan lees.
Vreugde en/of plesier
Wat bring vreugde?
Klein dingetjies wat ‘n mens beleef kan baie vreugde verskaf as mens net kyk en luister.
Verlede week se frustrasie oor die album se skroewe wat los gedraai moes word het my vreugde gebring want my seun het hul tjoef, tjaf losgeskroef. Ek kan hierdie verbind aan Frannie se stuk waar sy ook verduidelik van hoe ouer vingers nie meer so goed vasvat nie. My vreugde was groot toe ek uiteindelik my album se bladsye ingebind het. Nou kan ek heerlik verder gaan om my kleinkinders se vreugdetjies in te plak.
Saterdag het ek en ‘n vriendin in ons plaaslike biblioteek gaan fliek. Dit was spesiaal vir die ouer wordende mense. ‘n Fliek van 1955. Summertime met Catharine Hepburn. Dit was heerlik om so ‘n “skoon” liefdes fliek te kyk en dit nogal in Venesië! Lekker onthou van van die kuiers daar in die gondels.
Na die fliek het ek gou pakkies by my seun afgelaai. Die twee kleintjies was baie bly om Ouma te sien. Die volgende toneeltjie het my baie vreugde verskaf:
Amelia(nou sewe maande) is in haar staan, hang, sit ronde stoel affêre. Sy wip op en af en kraai van plesier. Ek staan naby haar en beweeg ook soos sy, wat haar nog meer aanmoedig om so op en af te spring. Beatrix(vier jaar) gryp my hande en spring op en af. Sy wou hê ek moet saam met haar spring. Nou moet jul besef, hierdie Ouma vertrou haarself gladnie om altwee voete in die lug te hê nie. Ek lig net op, op my tone.
“Nee, nee Ouma, …” en Bea beduie hoe om te maak.
Ek lig steeds net tot op my tone.
“No, hold up your arms,”kom dit ewe kontant. Sy gryp my arms en stoot hul in die lug. Terwyl ek met my arms in die lug staan, gryp se my broekspype, omtrent by die knieë, aan sykante vas en pluk dit op met die doel om my in die lug te kry.
Wel ons lê(nie ek nie, ek staan) soos ons lag. Dit was nou ‘n oomblik van kinderlike plesier.
Ek was al by die kar om te ry, kom Bea uitgehardloop, verby haar pa wat net tuis gekom het.
Hy roep nog: “Waar gaan jy?”
“Ek moet Ouma nog iets sê!”
Sy gryp my vas: “Bye Ouma, I love you!” Dit bring baie vreugde as so ‘n kindjie dit vir jou sê.

Baie dankie aan die volgende ouens vir die vertel oor frustrasies:
Christa
Kameel
https://kameel179438031.wordpress.com/2021/02/10/kameel-frustasie/
Toortsie
Tannie Frannie
https://frandr.wordpress.com/2021/02/14/maandagwasdag-6-frustrasie/
Laat ‘n boodskap