Elke Maandag plaas ek ‘n nuwe woord of onderwerp waaroor ons kan skryf. Almal is welkom om te skryf solank jy dit in Afrikaans doen. Dis lekker om Afrikaans te praat en te skryf. Die taal is so kleurvol en vol onverwagse uitdrukkings wat mens veel plesier verskaf.
Daar is geen perk op hoe lank jou stuk is of hoeveel woorde jy moet gebruik nie. Jy skryf tot jou storie vertel is. Soms is dit ‘n elle lange stuk en ander kere weer net ‘n kort stukkie. Alles is welkom. As jy klaar geskryf het en dit op jou blog geplaas het kan jy dit asseblief in my kommentaar plak of n pieng terug te gee sodat ander ook na jou skrywe kan blaai.
Nog n Maandag is met ons. Vandag kuier ons bietjie oor kind of kinders. Jy kan dit in enige rigting neem. Dit hoef nie net mensekinders te wees nie. Dit kan dierekinders wees. Of selfs die kind binne in jou as mens.
MenseKINDERS
Ek het vir ‘n paar maande Beatrix, my kleinkind na haar “Happy Days” kleuterskool geneem en weer gaan haal. Die klomp kindertjies by die kleuterskool is meeste van die tyd baie “happy”. Met tye is daar natuurlik struwelinge dan moet die helpers inspring en vure doodslaan voordat daar regtig oorlog uitbreek tussen die klomp kleintjies. Gelukkig vergeet hul gou waaroor hul gestry het, en sodra die trane afgedroog is en daar om verskoning gevra is, is die Kaap weer Hollands.
Soggens as ek Bea aangery het, het ons altyd motors se kleure uitgeken. Gekyk of die trein al weg is en ook hoe ver die bouery van die openbare speelplek vorder.
Ek het gelees dat so ‘n klein kindjie nie nodig het om te moet praat terwyl daar gery word nie. Hul aandag is meestal heel ontspanne en sonder bekommernis oor hoe hul by hul bestemming kom. Dis die volwassene wat gespanne is met die ryery omdat hul na alles om hul moet oplet.
Een middag is ek weer besig om heerlik met Bea te gesels. Ek let nie op waarheen ek ry nie of eintlik ek draai nie af in Bea se huis se rigting nie. Ek gesels te lekker en skielik vra Bea: “Ouma hoekom gaan ons nie huistoe nie?”
Ek moes mooi verduidelik: “O gonnatjies, Ouma is so besig om te gesels, ek wil sommer nou na my eie huis ry. Jy het darem goed opgelet en gesien ons ry verkeerd. Ons gaan sommer om hierdie sirkel, dan ry ons weer terug en ry die regte pad.”
Te kostelik vir woorde en baie oplettend van haar gewees. Sy is nog maar drie jaar(en n half) en klaar heel beswus van haar omgewing.
Wat ek ook begin doen het, veral soggens, is om “Eendjies, eendjies daar in ‘n ry” te sing. Bea is meer engels en het nog nie veel saam gesing nie maar die “kwaak, kwaak, kwaak” het sy dadelik onthou. Ons tel ook die eendjies op ons vingers. Die eendjies het ook name gekry. Die wysvinger is Stella, of te wel Mamma, middelvinger is Bertus, of te wel Pappa. Dan kom Beatrix, of ekke en die pinkie is Melia(sy sê nie die A nie) of baba sussie. Op die einde gryp sy altyd my duim vas en sê: “Ouma!” Dis te dierbaar.
Ek is baie bly dat ek die geleentheid het om so met my kleinkinders te kan kuier. Ek loop nie die deur plat nie maar daardie tydjies so saam is kosbaar.

Gister middag het my seun my nuwe tafel aanmekaar gesit. Bea het saamgekom en ons het eers ‘n legkaart gebou en blokkies gebou ook. Die eintlike ding wat sy wou doen was verf. Ons twee het toe maklik vir ‘n uur gesit en verf. Sy het ‘n dinosaur geskilder. Sy verf eers die neusgate en dan ooghare om die neus om goggas uit te hou( die goggas uithou is ouma se idee); ‘n meermin en sommer net iets spesiaal vir my. (Nie dat mens eintlik nog kan uitmaak wat dit is nie, maar dis die verf wat belangrik is.) Toe begin Bea honger raak. Sy is ‘n moeilike eter. Ek het vir haar wortelstokkies gesny wat sy lekker opgeknibbel het, omdat ek saam geëet het. Sy wou nie van hare vir my gee nie omdat dit hare is en ek moet my eie kry. Sy het darem die laaste een vir my aangebied. Toe vra sy vir spaghetti. Ek verduidelik toe ek het nie, maar sy kan broccoli eet. Haha, omdat ek dit rou eet probeer sy dit toe ook. Ek het toe begin om my vleisie te braai en aartappel en broccolie geroerbraai.
Toe vra ek: “Gaan jy saam met my eet?”
“Ja, asseblief ouma,” en gaan sit aan tafel waar ek vir haar gedek het. Ek sny toe die vleisie klein asook die aartappel.
Sal klein klits vir my sê:”Hurry up Ouma, I’m hungry!”
“Ja ja, hang net bietjie aan.”
Ons eet te heerlik met handjie, wat vir my okay is. Eers die vleisies, toe toets sy eers die aartappel(sy weet nie wat dit is nie maar as jy potato noem, weet sy). Toe wou sy nog vleis hê.
“Nee, jong, jy moet ook groengoed inkry. Dis goed om jou binne mooi skoon te maak.” Ewe kordaat byt sy net die blommetjies af en eet dit. Toe is sy nog honger en wil nog aartappel en broccolie hê en natuurlik vleisie ook. Alles opgeknibbel. Toe pappa inkom vertel ons hom dat Bea klaar geëet het.
Ek is so bly sy is oop vir oortuiging. Voor hul ry kom sy eers weer terug en vra nog n stukkie vleisie, wat ek toe ook vir haar gegee het.
Dit dan vir nou. Ek wou oor dierekinders ook gesels maar ek dink dit moet maar eers oorstaan.
Baie dankie aan die volgende ouens wat so lekker oor musiek gesels het:
Appeltjie
https://appeltjie.wordpress.com/2020/11/08/maandagwasdag-34-musiek/
Kameel
https://kameel179438031.wordpress.com/2020/11/09/kameel-musiek/
Tannie Frannie
https://frandr.wordpress.com/2020/11/14/maandagwasdag-no-34/
Blokfluit het ook n mooi stuk oor mesuk geskryf. Gaan kuier gerus daar.
Laat ‘n boodskap