Die hele week sing ek in my gedagtes die volgende liedjie
Dit reën hier aanmekaar. Wens ek kan bietjie oorstuur na die dele waar dit so droog is.
Musiek was nog altyd baie belangrik in my lewe. Van kleins af het ek, as die geleentheid daar was, musiek geluister. Toe ek student was het ek “seven singles” (vertaal: sewe enkelinge? Wat sou jy voorstel!) gekoop van my geliefkoosde sangers. Freddy Quinn, Bing Crosby, Dean Martin. Freddy was lank my beste sanger. Ek was nog nooit vreeslik mal oor vrouens se singery nie.
Toe ek my eerste geldjies verdien het, het dit beter gegaan. Radio met musiek, platespelertjie en plate, bandspeler en daarmee het hope bande met musiek gekom. My man was ook musiek-mal. Hy het gereeld vir my ‘n bandjie met romantiese liedjies gestuur, toe ons nog gevry het. Hy het meer van Slim Whitman gehou en dan natuurlik boeremusiek. Dan Hill se musiek was sy geliefkoosde orkes. Ons het een aand Hansie Rood in Standerton gaan luister, dit met ‘n my man wat nog nooit so-iets bygewoon het nie. Hy was in die sewende hemel om dit te kon gaan luister
Ooooo, die liewe boeremusiek het amper tot ‘n egskeiding gelei. My man het die musiek opgesit, op sy hardste. Uitgestap tuin toe en ek het met die “lawaai” in die huis gesit!
Ek het eendag vir hom ABBA se “Voulez vous” opgesit, kliphard! Was hy kwaad vir my! Hy was woedend dat ek sulke musiek speel en dan nog kliphard ook.(Dit was nog in die begin maande van my huwelik dat ons die onderonsie gehad het.) Van klip gepraat, sy laaste geliefde boeremusiek was Klipwerf-boereorkes se stukke.
Musiek is terapie vir die siel. Dit kan mens kalmeer, opwen, of net laat ontspan. Sonder woorde is natuurlik heerlik om mee te ontspan. Klassieke musiek is natuurlik die beste medisyne vir n deurmekaar gemoed.
Ek het ook die voorreg gehad om na geliefde Afrikaanse sangers se optredes te gaan. Dit was nog in die jare 1972+ toe daar nog getoer is deur die land.
Daar was Gert Potgieter wat almal met die hand kom groet het gedurende die pouse en ook na sy optrede.
Groep twee het opgetree, daarom het ek hulle Reën, Reën lieflike reën gebruik.
Gé Korsten wat nou nie te hoog op my geliefde sanger lysie was nie het ek ook hoor sing. My vriendin was hul bure toe hul opgegroei het. Die wagte wou gladnie hê dat my vriendin agter die skerms met hom praat nie. Ons VLU op Secunda het hom vir n opvoering genooi. Hy was toe darem heelwat ouer en hy kon meer vryelik rondbeweeg. Hy was ‘n heel aangename mens gewees. Ons het hom beslis baie waardeer en geniet.
Randall Wicomb en sy vrou Koba het ook ‘n besondere opvoering gegee toe ek nog in Secunda was.
My gedagtes spring nou vreeslik rond omdat daar telkens nog ‘n persoon, wat ek gesien het, opkom. Onthou ek was maar n Bosveld nooi gewees wat lank op Potgietersrus(Mokopane) gebly het.
Lucas Maré met sy Ek sou kon doen met n miljoen, het sommer so tussen die tafels geloop en gesing en met mense gepraat. Die aand was Laurika Rauch ook daar. Statig en ernstig soos net sy maar is. Toe sy Blou begin sing het van die ongeskikte mense opgestaan om iets te drinke te gaan kry. Daar is vooraf gevra dat mense nie moet rondloop terwyl die kunstenaars optree nie. Sy het opgehou met sing en gesê sy kannie atmosfeer skep as mense nie stil sit en luister nie. Sy wou summier ophou met haar optrede.
Chris Cameleon het op sy CD wat ek laat teken het geskryf dat Bertus gou moes terugkom; die opvoering was op Bertus se verjaarsdag in 2006/7?
Dozi wat bietjie laat opgedaag het en nie te nugter was nie het ook ‘n klomp ouens wat agter in die saal saam gesing het beveel om op te hou met saamsing. Hy doen die opvoering op sy eie, het nie hulp nodig nie.
Ek het Matthys Roets twee keer sien optree. Ek hou baie van sy manier van sing en ook sy stem.
Die laaste persoon wat ek in Suid Afrika gesien het was Nataniël. Wat n belewenis. Hy en Chris Cameleon het darem maar fantastiese verhoog peroonlikhede. Nataniël is baie fyn met sy waarnemings en hoe hy dit verwoord.
Ek hoop vandag se wasdag het jou lekker rustig gemaak en laat terugleef na die goeie ou dae.
Lekker skryf en sien/hoor jou weer.
Die volgende het weer lekker saam gekuier met hul rydinge.
Appeltjie
https://appeltjie.wordpress.com/2020/11/02/maandagwasdag33-ryding/
Kameel
https://kameel179438031.wordpress.com/2020/11/04/kameel-ryding/
Tannie Frannie
https://frandr.wordpress.com/2020/11/07/maandagwasdag-no-33-ryding/
Laat ‘n boodskap