Welkom by nog n Maandag.
Almal wat Afrikaans skryf kan kom saam skryf en deel in my wasgoedmandjie. Al die wasgoed is gesorteer vir die week.
As jy so voel kan jy na my webtuiste n pieng-terug stuur of sommer net jou pos se skakel in my kommentaar plak sodat ander ook kan lees wat jy geskryf het.
Ek het van laas Woensdag al die snuffels! Vermoed die klomp stuifmeel in die lug val my sinusse met geweld aan. Dit kan ook maar die klomp kleintjies by die kleuterskool wees wat almal so nies en proes. Mens sien sommer die kieme rondvlieg. Het myself toe gedokter en voel beter maar nie reg nie. My seun “beveel”toe dat ek n afspraak by dr moet maak. Goed ek het dit gedoen want ek kan dr eers Donderdagmiddag sien!
Nou begin die skryfdeel na al die gesels!
Eers dankie aan die volgende ouens wat so lekker saam geskryf het:
appeltjie
https://appeltjie.wordpress.com/2020/09/06/maandag-wasdag-no-26-skoene/
Kameel
https://kameel179438031.wordpress.com/2020/09/07/kameel-skoene/
Tannie Frannie
https://frandr.wordpress.com/2020/09/07/maandagwasdag-no-26-skoene/
Lekkervurigeaffêre
Hester
‘n Klassieke opdrag wat mens kry as jy oor jou eie ondervindings skryf is meestal:
Beskryf jou slaapkamer toe jy twaalf jaar oud was.
Wel, ek gaan nie n spesifieke kamer gee nie en ook nie ‘n ouderdom nie.
Gebruik die woord kamer soos jy dit op daardie oomblik voel as jy gaan sit om te skryf. Dit kan soos myne oor slaapkamers gaan, enige ander kamer iewers waar jy al was; selfs die kamer van jou hart kan jy gebruik.
Slaapkamer
As kind het ek altyd ‘n slaapkamer moes deel. Ousus het altyd haar eie kamer gehad terwyl ek en kleinsus moes deel. Ek kan nie onthou of ons kamer altyd volgens ons ouderdom ingerig of opgemaak was nie. Ek glo nie, want daar was maar nie geld na die oorlog en die eerste tydperk wat ons in Suid Afrika gebly het nie.
Toe ons huis klaar gebou is, 1960, het ek die rondawel gekry as my slaapkamer. My muur was grof gepleister en geverf. Filmsterre, die mooiste manne en vroue se gesigte het teen die muur gepreik.
Toe ek uit die huis trek het ek in ‘n koshuiskamer ingetrek. Daar kon ek darem my eie deken kry vir oor my bed. Die res van die kamer was maar regte koshuisgordyne en mure met bed en spieëlkas. Daar was ‘n ingeboude kas vir klere en alles wat mens wou wegbêre. Na die koshuiskamer het ek vir ‘n tydperk by n vriendin in haar gastekamer geloseer waar alles ook haar keuse en smaak was.
My eerste woonstel was ‘n belewenis. Hier kon ek maak en breek soos ek dit wou hê. Ek het my eie gordyne gemaak en natuurlik die beddegoed aangepas by die gordyne. Dit was maar ‘n “boring” kamer want my smaak was nie juis opwindend as ek so terug dink nie. Die lekker was dat dit my eie was. My tweede woonstel het ek meer leefbaar gemaak deur sagte pienk gordyne, met blomtrossies op, te maak vir die slaapkamer. Dit het heel vroulik gelyk en was my lekkerste slaapkamer. My beste vriendin het selfs die gordyne geërf toe ek trek. Sy het spesiaal gevra of sy hul kon kry.
Na die woonstel en my troue moes ek weer ‘n slaapkamer deel. My man wou nie ‘n pienk kamer hê nie en ek nie rerig blou nie. Ons het toe op groen besluit wat heel kalmerend was.
‘n Kamer wat ek graag sou wou hê, is die kamer waar ek vir n week gekuier het by ‘n beste vriendin, toe ek in 2010 gedwing was om terug na Suid-Afrika te gaan omdat my verblyfpermit verval het en nie betyds kon hernu word nie. Dis n regte outydse slaapkamer. Hoë plafon en plankvloer. Die hele atmosfeer was knus en heerlik.






Vandag is my slaapkamer uitgevat met tweedehandse meubels en gordyne. Dit is egter nie so belangrik hoe die kamer lyk en wat daarin is nie. Dit is my eie slaapkamer en ek geniet dit om saans my kop neer te lê op my eie bed en in my eie kamer.
Laat ‘n boodskap